Luister: 100 jaar se Affies-meisies-staaltjies

Proefbladsye uit Affies-meisies se gedenkbundel, getiteld ‘Afrikaans Hoër Meisieskool 1920 – 2020: eenhonderd jaar van uitnemendheid’. (Foto: Christa Steyn-Bezuidenhout/Maroela Media)

Ken jy die verhale van Elsa Nel, die Affies-meisie wat ʼn nag in die tronk deurgebring het, Johnny Angelo se Datsun-bakkie, ʼn gimbalk in die huidige mediasentrum, en ʼn handgeskrewe musiekstuk van die skool se lied wat aan die skool geskenk is?

Staaltjies en herinneringe soos hierdie is van heinde en ver versamel vir Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria se gedenkblad, getiteld Afrikaanse Hoër Meisieskool 1920 – 2020: eenhonderd jaar van uitnemendheid, wat op 27 Januarie 2022 amptelik bekendgestel word.

Danielle Heyns, een van Affies-meisies se adjunkhoofde, en Louisa Slabbert, media-inligtingkundige van die skool, het in ʼn onderhoud met Maroela Media nog lusmakers uit die bundel gedeel. Hulle verduidelik ook waarom die gedenkblad nie net vir huidige Affies-meisies en alumnae spesiaal is nie, maar dat enigeen wat in geskiedenis, erfenis en tradisies belangstel dié pragboek sal geniet.

Hoofstukke in Afrikaanse Hoër Meisieskool se gedenkblad word per dekade ingedeel. (Grafika: Verskaf)

“Dit was nie ʼn maklike taak om deur al die foto’s, koerantuitknipsels, beeldmateriaal en die talle staaltjies te sif en te besluit wat om in te sluit nie,” sê Slabbert. Heyns beaam dit: “Watter reis was dit nie… Ek glo dat daar baie genot uit hierdie bundel geput sal word en dat dit ʼn bydrae lewer in die behoud van herinneringe en dinge wat die afgelope eeu gebeur het.”

Sy brei uit oor dr. Elsabé (Elsa) Nel wat in haar matriekjaar groot opskudding veroorsaak het toe sy deur die veiligheidspolisie in hegtenis geneem is en een nag in die tronk moes deurbring.

Nel het ʼn kuier aan haar ouma as dekmantel gebruik om ʼn vlugteling se brief na sy vrou in Durban te smokkel. Sy het haar heldestatus verwerf toe sy geweier het om hieroor in die hof te getuig.

Lees alles oor die interessante ontwikkelinge van Affies-meisies se fasiliteite en terrein in die skool se eeufeesgedenkblad. (Grafika: Verskaf)

“Anna Neethling-Pohl het breedvoerig oor Nel geskryf, onder meer oor ‘hierdie Afrikanerdogter wat vaste beginsels gehad het’. Die hele verhaal word in meer besonderheid in die eeufeesgedenkblad vertel.”

Johnny Angelo se Datsun-bakkie is ʼn kanniedood, vertel Heyns verder.

“Johnny is ons geliefde terreinbestuurder wat alles kan regmaak wat stukkend is. Hy is al jare by die skool betrokke en net so is sy blou bakkie ook al deel van Affies-meisies se erfenis.”

Dié alombekende ryding se klok het in 2020 meer as ʼn miljoen kilometer gehad en sy storie word ook op kleurryke wyse in die gedenkboek vertel.

“Dit is verstommend. Ek dink ʼn mens kan dit skaars glo,” meen Heyns. “Ons het besluit dit hoort in ʼn eeufeesblad. Dit as ʼn simbool van hierdie skool wat uithou en aanhou. Dit mag ʼn ou gebou en enjin wees, maar hy loop nog goed.”

Afrikaanse Hoër Meisieskool se eeufeeswording word met ‘n pragtige gedenkblad gevier. (Grafika: Verskaf)

Ander staaltjies, herinneringe en hoogtepunte wat ook in die gedenkblad onthou word, sluit in:

  • Monica de Vries (neé Uys), die skool se eerste orrelis, en wat onlangs die skool besoek het;
  • ʼn Handgeskrewe musiekstuk van die skool se lied, wat vandag nog gesing word, is onlangs deur ʼn oudleerling geskenk. Susan Pienaar, dogter van dr. JP Pienaar wat dié lied geskryf het, het dit verlede jaar aan die skool oorhandig;
  • Die insident waar Elizabeth Steyn, of Juffrou Steyn soos daar liefdevol na haar verwys is, haar voet neergesit het toe ʼn ampsgenoot sy dogter glo buite die toegelate besoektye wou sien.

Afrikaanse Hoër Meisieskool het op 28 Januarie 1920 as ʼn gemengde skool tot stand gekom. ʼn Handjievol ouers se droom om ʼn Afrikaanse skool te stig, selfs nog voor dit amptelik as landstaal erken is, het gelei tot die totstandkoming van hierdie spogskool. Só, vertel Heyns, het die skool met sowat 44 leerders en drie onderwysers in die huis van die destydse genl. Piet Joubert in Visagiestraat begin.

Toe Afrikaans in 1925 amptelik as landstaal erken is, het al hoe meer ouers hulle kinders by die skool ingeskryf. Later is die skoolgebou, soos wat dit vandag nog in Bondstraat geleë is en waar Affies-meisies is, opgerig, maar teen die einde van 1929 het skool uit sy nate gebars. Die skole het afgestig en sedertdien is daar is ʼn seuns- en meisieskool wat steeds hegte bande het.

Louisa Slabbert, media-inligtingkundige van die skool, en Danielle Heyns, een van Affies-meisies se adjunkhoofde met ‘n proefblad uit die Affies-meisies-gedenkbundel. (Foto: Christa Steyn-Bezuidenhout/Maroela Media)

“Die skole het nog steeds ʼn fantastiese verhouding. Ek dink daar is min seuns- en meisieskole in die land wat hulle wordingsgeskiedenis deel,” meen sy. “Ons gee in die gedenkblad ʼn blik op die samesyn en liefde tussen die twee skole, asook die struwelinge, soos wat daar maar soms tussen broers en susters is.”

Heyns en Slabbert het saam met Annalette du Plessis, ʼn oudleerling van Affies-meisies, die navorsings- en skryfproses hanteer en die bundeluitleg is deur Marhet Magnus behartig. Die boek is onder leiding van prof. Maritha Snyman, voorheen die hoof van Lapa Uitgewers en medeprofessor in die Departement Inligtingkunde aan die Universiteit van Pretoria, saamgestel.

Die gedenkbundel kan nou op Afrikaanse Hoër Meisieskool se eeufeesgedenkblad bestel word teen R500 (prys onderworpe aan verandering).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tienie

TROTS AFRIKAANS!!!

MOOI SO. HOU SO AAN.

Anel

Trotse oud Affie!