Luister: Avonturier neem kinders op Afrika-reis

Die avonturier Riaan Manser. (Foto: Verskaf)

Met My eerste Afrika-avontuur wil Riaan Manser en sy medeskrywer Murray Williams ouers en kinders op ʼn wonderlike reis deur Afrika neem. Hulle wil ook vir jong lesers die geleentheid gee om op ʼn prettige manier meer oor dié vasteland te leer.

Watter lande vorm deel van Afrika, waar word daar oorlog gevoer en wat eet die inwoners van die verskillende streke? Dit is van die vrae wat in My eerste Afrika-avontuur ondersoek word.

“Ons hoop dat ouers en kinders bymekaar kom en wat ʼn beter manier as om saam stories te lees. Kinders verstaan nie groter konsepte nie, maar as jy dit deur ʼn grap of storie vir hulle kan verduidelik, is dit baie makliker,” sê Riaan in ʼn onderhoud met Maroela Media.

My eerste Afrika-avontuur volg op die sukses van Riaan se topverkoperboek My first African Adventure, wat vroeër vanjaar verskyn het. Die Afrikaanse weergawe is deur Nandi Lessing-Venter vertaal en dit is deur Martinus van Tee geïllustreer.

“Natuurlik het ek nog nie voorheen kinderboeke geskryf nie,” skerts Riaan, en voeg by: “Ek onthou dat Murray juis by een van die eerste vergaderings vir my ʼn stapel boeke gebring het wat hom as pa geïnspireer het. Dit het my ongelooflik baie gehelp om die inhoud saam te stel.”

Riaan sê verder dat hy van die begin af die waarheid en werklike storie van sy reis deur Afrika wou vertel. “Ek wil nie stories opmaak om kinders te probeer entertain nie.”

Die skrywers was dit eens dat ʼn boek oor Afrika dus iets vir kinders moet leer. As kinders klaar die boek gelees het, moet hulle verstaan waaroor Afrika eintlik gaan, meen Riaan.

Die avonturier Riaan Manser. (Foto: Verskaf)

Riaan het sy fietstoer deur Afrika sowat twee dekades gelede voltooi. Hy onthou nog toe hy op 9 September 2003 op sy fiets uit Kaapstad gery het met slegs ʼn handvol mense wat hom afsien.

Met sy bagasie op sy rug was Riaan oorgehaal om sy reis binne ʼn jaar te voltooi. Aan die einde van 2005 het Riaan terug Kaapstad toe gery; 14 kg ligter ná sy reis van 36 500 km deur 34 lande.

Sy verkenning van Afrika is gedokumenteer en dit is in 2006 met die titel Around Africa on my bicycle bekendgestel. Die boek het gou ʼn topverkoper geword wat intussen vir menige avonturier ʼn reisgids was.

In sy boek vir volwassenes kan lesers die hoogte- en laagtepunte van Riaan se Afrika-avonture saam met hom ervaar. Sy geswoeg, opgewondenheid en in sommige gevalle die angstigheid van so reis. Die leser kom ook te wete van Riaan se wroeginge deur die Sahara‑ en Libiese woestyn, die aanleer van Frans, Portugees en Arabies, etes van aap, rot en vlermuis, om voor die piramides te kon staan, ongekende vryheid in die Rooi See in Egipte te ervaar, hiënas wat hy mond tot mond gevoer het, en om op die hoogste, sowel as die laagste punte in Afrika te kon staan.

Nou, vir die eerste keer, kan kinders hulle ook in Riaan se wonderlike ontdekkingsreis verlustig met My eerste Afrika-avontuur, wat pas by Penguin Random House verskyn het.

  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met Riaan Manser oor sy boek, My eerste Afrika-avontuur.
  • My eerste Afrika-avontuur kos R190 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.