Luister: Begin só ʼn gesonde leefstyl

Foto net ter illustrasie (Foto: Denys Nevozhai/Unsplash)

Bernadine Douglas is ʼn voedingsterapeut van Kaapstad wat al vir sowat sewe jaar saam met haar kliënte die pad na ʼn gesonder leefstyl stap.

Dié boorling van die Vrystaat en stigter van Slender Slim 4 U, vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dat sy haar gesondheidskennis en -raad met vrymoedigheid kan deel, omdat sy dit ook in haar eie lewe toepas.

Wat sy ook in haar terapie met kliënte probeer tuisbring is dat dit doodnormaal is om nou en dan van jou gesonde eetplan af te wyk.

“Jy gaan natuurlik so nou en dan ʼn bietjie afwyk. Iemand wat vir my sê hulle sal nooit iets verkeerds eet nie, jok vir my. Elke mens het nou en dan lus vir soetgoed of om te peusel.”

In haar jongste boek, getiteld Your 12-week body and mind transformation, volg Bernadine juis ʼn holistiese benadering tot gesondheid.

“Dit is beslis nie ʼn dieetboek nie. My boek is deur en deur daarop gemik om jou denkwyse oor jou gesondheid, emosionele welstand en eetgewoontes te verander. Ek sê altyd: ‘You’ve got to walk the talk’, en ek sou nie so iets kon skryf as ek nie self die leefstyl volg nie.”

Met haar selfhelpgids neem Bernadine lesers op ʼn gesondheidsreis van 12 weke. Elke week bevat ʼn gesonde, voedsame en smaaklike maaltydplan wat laag in suiker is, vinnig en maklik is om voor te berei, en wat die hele gesin saam kan geniet.

Sy fokus veral op die onderbroke vasdieet (intermittent fasting), ʼn eetpatroon wat veral in die laaste paar jaar gewild geword het. Bernadine verduidelik dat dit ʼn doeltreffend metode is om gewigsverlies ʼn hupstoot te gee, die immuunstelsel te verbeter en hormone weer te balanseer.

Die boek gee praktiese wenke, raad en aktiwiteite om lesers te help om dinge te identifiseer wat hulle geestelik en emosioneel terughou. Verder is daar inkopielyste met uitruilopsies, oefeninge wat maklik tuis gedoen kan word, en skakels na aanlyn video-demonstrasies.

“My boek is nie die einde nie, dit is maar net die begin van ʼn 180 ºC-leefstylverandering,” sê Bernadine.

Bernadine het saam met Bridgette Allan The Banting Solution (2016) geskryf, en sy was die medeskrywer van Tim Noakes se The Banting Pocket Guide (2017).

  • Your 12-week body and mind transformation het by Penguin Random House verskyn. Dit kos R190 (prys onderworpe aan verandering) en lesers kan hier klik om die boek aan te skaf.
  • Maroela Media het in ʼn onderhoud met Bernadine oor haar jongste gesondheidsboek, getiteld Your 12-week body and mind transformation, gesels. Luister bo-aan die berig na die volledige onderhoud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.