Luister: Ben Booysen se geskenk aan sy kleinkinders

Kapt. Ben Booysen en sy vrou, Christelle. (Foto: Verskaf)

“Die boek is in die eerste plek vir my vrou geskryf, en tweedens vir my kleinkinders. Ek wil hê die jongklomp moet eendag lees hoe hulle oupa nie alles in die lewe gehad het wat hy wou nie, en dat hy ondanks sy wrede grootwordjare uitgestyg en een van die beste polisiemanne in die land geword het.”

Dit is die woorde van kapt. Ben Booysen, ondersoekbeampte wat die berugte Krugersdorp-moordsaak opgelos het en wie se boek Op die duiwel se spoor onlangs die lig gesien het.

In sy loopbaan van meer as vier dekades het Ben onder meer ernstige misdade soos moord, gewapende roof en korrupsie ondersoek. Hy het byna oornag heldestatus verwerf toe die treffer-TV-reeks Devilsdorp verlede jaar op die kassie te sien was.

Ben vertel in die Maroela Media-ateljee dat hy dikwels terugdink aan sy verlede en wonder waar hy vandag sou wees as daar vroeër jare meer stabiliteit in sy lewe was.

Daar was nie net ʼn gebrek aan vastigheid omdat hulle gereeld rondgetrek het nie, maar die gebroke verhouding met sy pa, ʼn mynwerker, het ook bygedra tot die wankelrigheid van Ben se kinderjare.

“Ek wou eintlik ʼn dokter of ʼn dominee geword het, maar op die ou end was ek net ʼn polisieman. Daar is eintlik nog baie ander dinge wat in die lewe met my gebeur het wat vir my ʼn issue was, maar dit is goed waaroor ek eenvoudig net met niemand kon praat nie.”

Toe die uitgewer hom nader met die versoek om ʼn boek oor die Krugersdorp-moordsaak te skryf, het hy ingestem. Dit het vir Ben ook ʼn geleentheid gegee om sy storie te deel en ʼn paar goed van sy hart af te kry.

Hy het sy verhaal aan die Sunday Times-joernalis Nicki Gules vertel wat dit toe in ʼn boek omskep het.

“Wat my die meeste uitgedaag het, was om my eie storie so op papier te sien. Soos wat ek met jou sit en gesels, is daar niks wat my ontstel nie. Maar die oomblik toe iemand dit neergeskryf en ek dit later gelees het, het ek agtergekom dat sommige tye en gebeure in my lewe maar ʼn bietjie erg was.

“Natuurlik is daar baie detail, veral oor sake, wat nie in die boek is nie, want ek kan dit nie daar insit nie. Maar die belangrikste dele word vertel en dit was ook vir my ʼn manier hoe ek kon probeer om vrede met my verlede te maak,” sê Ben.

Dit het meer as drie jaar se verbete speurwerk gekos om Cecilia Steyn en haar bende vas te trek. Toe Ben in 2016 begin het om die saak te ondersoek, is 11 mense reeds grusaam vermoor deur die groep wat hulself Electus per Deus (Gekies deur God) noem.

Volgens Ben, wat in 2021 as ʼn kaptein van die Valke afgetree het, kan ʼn mens maar sê sy loopbaan het op ʼn hoogtepunt geëindig. Veral omdat geregtigheid geseëvier het.

“Met die Krugersdorp-saak en ook al die ander sake waar ek op die ou end van die dag justice vir die families gekry het, was vir my rewarding. Dit is vir my amper belangriker as my salaris.”

  • Klik hier om Op die duiwel se spoor aan te skaf.
  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met kapt. Ben Booysen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.