Luister: Biografie oor Marius Weyers gevul met staaltjies, kleurfoto’s

Chris Vorster, skrywer van ‘Marius Weyers’. (Foto: Verskaf)

“Hardwerkendheid is amper die enigste ding wat Marius Weyers en Sandra Prinsloo in gemeen het. Verder verskil hulle hemelsbreed.”

Só vertel Chris Vorster in ʼn onderhoud met Maroela Media oor sy jongste boek, Marius Weyers, wat pas die lig gesien het.

In hierdie boek is die jare lange samewerking tussen Marius en Sandra, twee van Suid-Afrika se voorste akteurs, een van die aspekte van Marius se lewe en loopbaan waaroor Chris skryf.

Daar is menige staaltjie te vertel, maar Chris onthou veral een uit Marius en Sandra se jonger dae toe hulle oorsese reis kortstondig beëindig is.

“Hulle het in 1969 besluit om as vriende saam oorsee te gaan,” begin Chris, en voeg dan skertsend by: “Marius het gesê hy was toe eintlik al ʼn hele paar jaar verlief op Sandra, maar sy het ander planne gehad.”

Toe hulle in Griekeland aankom, het Marius en Sandra glo só erg baklei – soos “kat en hond” het Marius aan Chris vertel – dat hulle paaie geskei het.

“Sandra het in Griekeland agtergebly en Marius het aanbeweeg. Hulle het beplan om sowat drie maande saam in Europa deur te bring, maar dit het op die ou end net iets soos ʼn week en ʼn half gehou.

“Marius sê dit is eintlik so snaaks, want in ʼn sosiale omgewing kom hy en Sandra nie eintlik oor die weg nie, omdat hulle sulke uiteenlopende mense is. Maar hulle is goeie vriende en hulle werk ongelooflik goed saam, omdat beide geweldig gedissiplineerd en doelwitgedrewe is.”

Marius Weyers is ʼn biografiese vertelling wat verweef word met kleurfoto’s, anekdotes, humor en aanhalings wat inligting en insig gee in hierdie kunstenaar se denke en die uitdagings wat hy by tye moes oorkom.

Dit vertel ook die mooi liefdesverhaal tussen Marius en sy vrou, Evette, wat vroeër vanjaar in die ouderdom van 77 dood is. Maroela Media het berig dat Evette, ʼn bekende beeldhouer, in 2019 met Alzheimer se siekte gediagnoseer is en tot met haar dood deur Marius by hul huis in Rooiels in die Wes-Kaap versorg is.

Op die vraag oor waarom Chris spesifiek besluit het om ʼn boek oor Marius te skryf, kom die antwoord byna onmiddellik.

“Sjoe, waarom nie? Hy is by verre seker die mees bekende en gerespekteerde akteur van die generasie waarin hy grootgeword het.

“Dit is nie net sy professionele lewe wat ongelooflik was nie, dit is ook sy balans as mens. Veral ten opsigte van sy vrou, Evette, en sy huwelik, maar ook hoe beskeie hy deurentyd gebly het ten opsigte van alles wat hy vermag het.”

Hy sê verder dat een van die deurlopende temas in Marius se lewe – wat deurentyd na vore kom en wat van toepassing op ander mense se lewens is – is dat elke mens ʼn geveg teen die lewe het waarteen hulle moet baklei.

“Marius het van jongs af ʼn paar terugslae gehad in terme van gebeure wat regtig hartseer was: in sy persoonlike lewe en in sy loopbaan. Tog het hy nog altyd die vermoë gehad om op te staan, vorentoe te kyk en aan te gaan.”

Marius en Evette Weyers (Foto: argief/Facebook/Evette Weyers)

Chris verwys ook in die boek na ʼn ongeluk wat Marius oorgekom het toe hy klein was: ʼn motor het bo-oor hom gery en hy het in die proses sy kop baie hard gestamp. Dit het ʼn ingrypende invloed gehad op die manier waarop Marius veral sy loopbaan aanpak het.

“Marius het gevoel dat hy as gevolg van die ongeluk ʼn intellektuele agterstand het en dat hy ʼn bietjie stadiger as sy vriende was, wat natuurlik glad nie die waarheid is nie.”

Die gevoel wat Marius ervaar het, is versterk deur die feit dat hy nie ná skool gaan studeer het of ʼn graad kon voltooi nie. Dit het tot gevolg gehad dat Marius ontsettend hard gewerk het. “Al sy vriende en kollegas het in die onderhoude vir my navorsing gesê dat niemand in die bedryf harder as Marius gewerk het nie.”

Marius Weyers kos R450 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek by Graffiti Boeke aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wielspore ·

Ek was nog ‘n tjokker toe was Marius Weyers my hero toe hy in die fliek Aanslag op Kariba gespeel het. Baie goeie akteur wat meestal die ernstige rol gespeel het, met sy unieke stem het dit sy rol gepas. Nog ‘n trots Suid Afrikaanse produk.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.