Luister: Carla van der Spuy gesels oor ‘Mishandel, misbruik, misken’


carla-van-der-spuy-mishandel-misbruik-misken

Foto: Facebook.

Van Amor van der Westhuyzen se eerste woorde aan die skrywer, Carla van der Spuy, was dat sy haar boek Bloed op haar hande – vroue agter tralies gelees het en dadelik besef het sy kon ook een van hierdie vroue gewees het.

“Amor het erken sy kon maklik ʼn moordenaar, prostituut of kleptomaan geword het, want sy het presies daardie vroue se profiel gehad, maar sy het nie. Dit was ʼn definitiewe wilsbesluit van haar kant,” vertel Carla.

Wat het veroorsaak dat Amor so naby aan die afgrond omgedraai het? Sy is die dogter van die berugte Joey Haarhoff, die houvrou van Gert van Rooyen, wat in die laat 80’s volgens berigte ses dogtertjies in die Pretoria-omgewing ontvoer het. Tot vandag toe weet niemand wat het van die meisies geword nie. Amor is ook self deur haar ma, Joey, mishandel en verwerp en haar ma het selfs toegelaat dat haar eie pa haar molesteer.

“Mense dink gewoonlik Joey was hierdie sagte huisvrou, wat onder invloed van die psigopaat Gert was, maar volgens Amor was sy duidelik ʼn monster en hulle het mekaar net gevind,” sê Carla. Selfs in die wiegie het die houe al op Amor neergereën.

Carla sê Amor se storie was eintlik ʼn maklike verhaal om neer te pen. “Sy was van die begin af eerlik en oop met my. Sy het my selfs van haar eie donker kant vertel.” Volgens Carla het Amor eenkeer ʼn medestudent tot in die waakeenheid van ʼn hospitaal geslaan en ook ʼn kleutertjie vir geen rede aangerand. Sy was ook verslaaf aan pynmedikasie. “ʼn Kind wat mishandel en misbruik word, sal alles eers internaliseer, maar die woede en seer sal eenvoudig net moet uitborrel.” Tog sê Carla net 30% van mense wat self mishandel en gemolesteer is, sal hul eie kinders mishandel.

En waar was die keerpunt vir Amor? Toe sy haar eie kinders gehad het, het sy besef dinge kan nie so voortgaan nie. Volgens Carla was dit veral Amor se vriendin, Lien Odendaal en haar man Wessie, wat haar bygestaan en gehelp het om ʼn wonderlike ma en ouma te word.

Carla glo Amor is die spieëlbeeld van haar ma. “Amor het ʼn koffiewinkel, met net R300 in die kasregister, omskep in ʼn suksesvolle onderneming. Joey het ook raakvathande gehad en kon kosmaak, naaldwerk doen en hare stileer. Tog het Amor daarin geslaag om haar lewe 180 grade om te swaai, met liefde en die ondersteuning van geliefdes, terwyl Joey se lewe deur Gert beëindig is voordat hy homself geskiet het.”

Die boek Mishandel, misbruik en misken is ʼn verhaal van moedskep. “Amor se enigste motief vir die vertel van haar storie was dat sy ander mense wil help en wys daar is hoop. As sy uit haar omstandighede kon uitstap, kan ander vroue dit ook doen.” En volgens Carla kan sy die storie só skryf, juis omdat Amor so openhartig en eerlik was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

indigogirl ·

Baie mooi boek! Welgedaan Amor! Jy is ‘n inspirasie vir so baie vroue!

E.K. ·

Dis wat so sleg is van mishandeling van kinders – dit is in baie gevalle hul enigste verwysingsraamwerk van oor hoe om ‘n ouer te wees en so word dit ‘n nimmereindigende sirkel van een geslag na die ander. Soos Carla noem sy kon dalk ook so geword het tog het sy bo haar omstandighede uitgestyg. Dit gebeur ongelukkig nie met almal nie.

johan ·

Onthou die HERE hou almal van ons se hande vas dis ons wat Sy hand los

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.