Luister: Daniel Hugo se nuwe boek ʼn ‘versameling van 40 jaar’

Deur: Janie Monsieur

Daniel Hugo (Foto: Maroela Media)

Daniel Hugo is ʼn gesoute Afrikaanse digter en skrywer, wat onlangs sy jongste boek, Vers en Kapittel, die lig laat sien het. Hy wy hom al die afgelope 40 jaar toe aan die digkuns, artikels en resensies en is ook ’n voltydse vertaler.

Vers en Kapittel word beskryf as ’n versameling van Hugo se artikels, rubrieke en naskrifte oor die digkuns.

“Ek skryf nou al die afgelope 40 jaar, en ek het gedink dis dalk tyd dat ek die bestes uitkies en dan saambring in so ’n bundel. Daar was ook nóú veral ʼn goeie geleentheid daarvoor omdat al my dokumente bymekaar is by Akademia. Dit was maklik om toegang te kry tot alles wat die afgelope 40 jaar gebeur het en dan ʼn keuse daaruit te maak,” het Hugo aan Maroela Media gesê.

Hugo het ʼn paar jaar gelede besluit om sy privaat versameling boeke van die Universiteit Stellenbosch na Akademia te skuif omdat hy meen dat dit dáár beter bewaar sal word.

“Ek het dít gedoen omdat ek voel Stellenbosch is eintlik besig om Afrikaans te verraai, om Afrikaans in die steek te laat. En ek wonder wie sal oor 50 jaar nog belangstel in die dokumente van ʼn Afrikaanse digter, spesifiek daar op Stellenbosch,” het hy gesê.

“Ek het dit toe geskuif na die tersiêre instelling Akademia, wat uitgesproke pro-Afrikaans is, en Afrikaans sekerlik langer sal dien as wat Stellenbosch dit gaan doen.”

Hugo het gesê die naam van dié versamelbundel kom van die uitdrukking ‘Om iets soos vers en kapittel te bewys’ af. Dít beteken om iets met hoofstuk en vers te bewys, soos in die Bybel.

“Ek het op die naam besluit omdat die opstelle en rubrieke alles gaan oor die digkuns, oor verse. Die vers in hierdie geval is dan nou die gedigte, en die kapittel kan ook beteken dat jy iemand teregwys of kritiseer. En daar is een groepie mense wat ek wel kapittel in hierdie bundel, en dit is die akademici en hulle beheptheid met literêre teorie,” het Hugo gesê.

“Ek dink mens kan ʼn literêre teks lees sonder enige teoretiese ondersteuning. Mens moet net genoeg goed in jou lewe gelees het en ʼn gesonde verstand hê – dán sal jy ʼn gedig goed genoeg verstaan, sonder die kruk van ʼn teorie.”

Hugo het gesê Vers en Kapittel is vir hom besonder spesiaal omdat dit ʼn deel van sy lewenswerk vier.

“Dit is die kroon op die literêrekritikus-deel van my lewe, die een wat artikels en resensies en rubrieke geskryf het. Hierdie deel van my loopbaan het eintlik bietjie agterweë begin raak omdat ek nie genoeg tyd het vir alles nie, en omdat ek voltyds vertaal. Daarom is dit vir my wonderlik om alles te kon saamvat in ʼn boek.”

Vers en Kapittel (Foto: Verskaf)

Vers en Kapittel bevat ook outobiografiese stukke oor Hugo se lewe, sy liefde vir die digkuns en tweedehandse boekwinkels.

Hugo het gesê ná al die jare van gedigte skryf en lees, bly dit steeds vir hom spesiaal. Hy lees graag gedigte in Afrikaans, Engels en Nederlands.

“ʼn Gedig neem jou altyd op ʼn avontuurtog in die taal waarin jy dit lees, want ʼn gedig is in groot mate ʼn spel met die taal. En ʼn digter kyk hoe ver hy kan gaan, hoe ver hy die grense van die taal kan verskuif. So, ek kyk graag hoe ander digters dit doen, en dan probeer ek dit in my eie gedigte doen,” het hy gesê.

Hugo hoop dat Vers en Kapittel ander mense sal aanspoor om meer gedigte te lees, om digbundels te koop en by die biblioteek uit te neem. Hy wil hê mense moet digters leer ken in digbundels en dan al die werke van daardie digter gaan lees.

Hugo se jongste projek is die vertaling van die bekende Suid-Afrikaanse digter Olga Kirsch se biografie.

“Olga het in 1984 uit Suid-Afrika na Israel geïmmigreer, maar aanhou skryf in Afrikaans tot haar dood. Haar biografie is by die Universiteit van Jerusalem, en ek vertaal dit nou van Engels na Afrikaans. Dit sal oor so ʼn paar maande verskyn,” het hy gesê.

Bestel Daniel Hugo se Vers en Kapittel hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JC ·

Wonderlik!

Lank lewe Afrikaans, en lank Lewe liewe Daniel Hugo. (gaan sy nuwe bundel “Openbare Domein” Vrydag aankoop, en kan nie wag nie)
Yay!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.