Luister: Denkleier se wenke om uitdagings te oorkom

Erik Kruger (Foto: Verskaf)

ʼn Mens kan jou maklik misgis as jy dink dat Erik Kruger se jongste boek, Dangerous, jou op ʼn swaardgeveg gaan voorberei. Gevaar is per definisie tog die waarskynlikheid dat ongeluk of onheil kan voorkom.

Die vraag wat Kruger ook sedert die bekendstelling van die boek meestal van lesers kry, is hoe dit jou morele waardes sal beïnvloed wanneer jy besluit om “gevaarlik” te leef.

Veg of vlug

“Dit het niks met moraliteit of jou houding teenoor ander mense te doen nie,” sê Kruger in die Maroela Media-ateljee. “Jy kan gevaarlik wees en nog steeds ʼn goeie mens wees.”

In ʼn neutedop gaan Kruger se jongste boek, Dangerous, die tweede een uit sy pen, daaroor om ʼn bedreiging te word vir dit wat jou bedreig.

“Alles waarvoor jy lief is of voor omgee, word op een of ander manier in gevaar gestel. Jou besigheid, gesondheid, verhoudings of enige iets anders wat vir jou belangrik is. Die vraag is, wat gaan jy daaromtrent doen?

“Hoe jy jouself leer om op dreigemente te reageer, bepaal die verloop van jou lewe. As jy kragteloos, energieloos en willoos reageer, sal jy heel waarskynlik op ʼn bekende plek beland, en dit is in oorlewingsmodus.”

Baie mense, meen Kruger, ken dié ruimte alte goed.

“Ek het saam met ongelooflike sakeleiers, sportmanne en -vroue, professionele persone en leiers in hul velde gewerk en almal – selfs die suksesvolste mense – beland een of ander tyd in oorlewingsmodus.

“Dit is maklik om jou dryfkrag, veggees en motivering te verloor wanneer jy in so ʼn hoek vasgekeer word. Maar soos Seth Godin sou sê is dit nie genoeg om net te oorleef nie.”

Dit is juis Godin se The Dip wat die dryfkrag agter Kruger se boek was. “Dit is ʼn dun boek wat jy letterlik in ʼn uur of twee kan sit en lees. Ek het toe besluit dit is presies wat ek met my boek wou doen.”

Dangerous is in ʼn toeganklike styl en in eenvoudige taal geskryf wat by ʼn wye groep lesers aanklank sal vind. Die inligting word in kort insiggewende brokkies verpak sodat mense dit vinnig kan verwerk.

“Mense moet dit kan optel, binne ʼn paar uur deurlees en dan iets met die inligting doen. Die punt van ʼn boek, ultimately, is dat mense so vinnig as moontlik die kennis in aksie omskakel,” sê Kruger.

Denkleier en koffieliefhebber

Kruger is ʼn internasionale spreker, skrywer en stigterslid van Modern Breed, ʼn maatskappy wat in opleiding en ontwikkeling spesialiseer en daarop fokus om effektiewe werksessies en groeiplanne te ontwerp en uit te voer.

Dié denkleier is saam met die topverkoper-skrywer John Sanei mede-aanbieder van die gewilde podsending The Expansive.

Hy het ook  ʼn meestersgraad in uitvoerende afrigting en is ʼn gerekende denkvennoot vir sakeondernemings soos die Young President’s Organisation, die Entrepreneurs Organisation, Discovery en TedX.

Al die werk wat hy doen is met die toekoms van leierskap, aanpasbaarheid en hoë prestasie in gedagte. Kruger meen aanpasbaarheid is ʼn vaardigheid wat gekweek moet word en nie ʼn passiewe eienskap wat net toegepas moet word wanneer dit nodig is nie.

Sy leierskapsgids vir 2022, The Art of Recalibration, is in Januarie uitgereik en dit fokus op die vyf kalibrasies (spannings) wat individue en spanne moet navigeer om suksesvol te wees.

Kruger en sy vrou het onlangs die Goudstad vir Somerset-Wes verruil. Tussen middaguitstappies saam met hul twee Duitse herdershonde en ritte op sy motorfiets geniet Kruger dit ook om gholf en Xbox te speel.

Dangerous word deur Tracey McDonald Publishers uitgegee. Klik hier om die boek aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

‘n Mens moet jou krag en moed iewers vandaan kry. Selfaanbidding is ‘n klug. Om op ander mense te hoop is nutteloos. Die Christelike geloof sonder by-gelowe met hul by-gode is al wat werk. Truuks soos wat Zelensky toepas om homself te laat geld, is asemrowend suksesvol, maar uiters slu en gevaarlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.