Luister: ‘Die pad na selfbestuur’

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging (Foto: Reint Dykema)

“Ons kan nie net op die regering staatmaak vir ons en ons kinders se toekoms nie. Dit sou heeltemal onverantwoordelik wees. Die huidige bedeling is te diep in die moeilikheid sodat diegene wat ons daarin regeer het, ons sommer so daaruit kan regeer” – Flip Buys, skrywer van die boek, Die pad na selfbestuur .

Uitgesoekte hoofstukke van die boek gaan in ʼn reeks voorlesings wat weekliks op Maroela Media gaan verskyn, bekendgestel word.

Volgens Buys is dit duidelik dat die ANC ná 27 jaar nie die land kan regeer nie. Terwyl dié party klaaglik misluk, het die ANC ondanks vlae van korrupsie, wanbestuur en bedrog pas in 2019 sy 11de verkiesing (ses nasionaal en vyf plaaslik) gewen. Afrikaners moet dus ander oplossings vir hul toekoms begin bedink.

Hierdie boek, deur die voorsitter van die Solidariteit Beweging, ondersoek hierdie en ander krisisse waarin die Afrikanergemeenskap hom bevind en bied voorstelle vir oplossings om steeds vry, veilig en voorspoedig in Suid-Afrika te kan bly woon.

Buys is pragmaties en eerlik wanneer hy hierdie kwessies in sy boek aanroer en kom tot die gevolgtrekking dat groterwordende selfbestuur antwoorde tot hierdie vraagstukke bied.

Die inleiding:  Wat behels die toekoms van Afrikaners?

In die inleidende hoofstuk van sy boek Die pad na selfbestuur kyk Flip Buys na die Afrikaner en soveel te meer hoe hierdie boek te werk gaan om die bestaanskrisisse wat die Afrikaner onlangs beleef, te takel.

Flip Buys skryf: “Hierdie boek gaan oor dié krisis en voorstelle vir oplossings vir Afrikaners as ’n kultuurgemeenskap, en nie as vryswewende enkelinge nie. Net soos elke ander enkeling, gemeenskap of land het Afrikaners die reg op ’n vrye, veilige en voorspoedige voortbestaan.

“Tog is ’n nuwe kulturele selfvertroue noodsaaklik vir Afrikaners én vir Suid-Afrika. Die bykans hopelose krisis waarin die African National Congress (ANC) die land regeer, het reeds tot ’n grootskaalse verbrokkeling van vertroue en lojaliteit in Suid-Afrika as ’n land gelei. As Afrikaners hulle lojaliteit teenoor hul kultuurgemeenskap ook verloor, gaan hulle baie makliker uitwyk na groener en gelyker weivelde.”

Kom luister elke week

 flip-maroela-ekaart-2-3.jpg

Lesers kry die geleentheid om vir die volgende paar weke elke week na ʼn hoofstuk van Buys se insiggewende boek te luister. Luister hier na die eerste boekvoorlesing uit Die Pad na selfbestuur.

Die boek kan ook op Kraal Uitgewers se webblad bestel word. Maroela Media-lesers kan vir die tydperk wat die voorlesings op Maroela Media uitgesaai word R100-afslag op dié boek kry deur die woord selfbestuur as koeponkode te gebruik.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.