Die bekende en bekroonde geskiedskrywer Albert Blake beskryf Robey Leibbrandt as een van die kleurvolste figure in die Suid-Afrikaanse geskiedenis.
Dié skrywer se nuuskierigheid is tydens die navorsing vir sy boek Wit terroriste (2018) geprikkel deur dié historiese figuur. Hy het verlede maand sy sewende boek, Robey Leibbrandt: ʼn Lewe van fanatisme uitgereik. Dié boek word beskou as die eerste omvattende biografie van Leibbrandt.
Blake vertel in ’n neutedop die verhaal van Leibbrandt wat as Suid-Afrikaanse Olimpiese bokser tydens die Tweede Wêreldoorlog deur die Nazi’s op ’n epiese tog in ’n klein seiljag van Europa na Suid-Afrika gestuur is. Hy het in opdrag van die Duitse militêre geheimediens as skakel tussen die Nazi’s en die Ossewabrandwag gedien.
Hy het in 1936 as Springbok-bokser aan die Olimpiese Spele in Berlyn deelgeneem waarna hy professioneel begin boks het en die Suid-Afrikaanse swaargewigkampioen geword het. Op daardie stadium was Leibbrandt nog nie polities gedrewe nie, en het hy die lewe van ’n gewone Afrikaner geleef.
In 1936 is die saadjie van nasionaal-sosialisme geplant en het hy heeltemal meegevoer geraak met die Nazi’s se politieke praktyke. Die Nazi-regime het dit raakgesien, en hy is vir ’n offisierskursus gekeur. “Dit was werklik merkwaardig vir ’n gewone boerseun van die Vrystaat in daardie tyd,” vertel Blake.
Leibbrandt het opleiding ondergaan by die sabotasieskool van die Duitse militêre geheimenisdiens, die Abwehr. Hier is hy deur ’n hoë Abwehr-instrukteur as beste sabotasiestudent uitgewys. “En só begin die drama van Leibbrandt wat deur dié geheimenisdiens per seiljag op ’n geheime sending na Suid-Afrika gestuur is om sy nasionaal-sosialistiese rebellie te begin,” sê Blake.
Blake verwys ook in sy boek na Leibbrandt se lewe voor die Tweede Wêreldoorlog en nog voor sy politieke betrokkenheid by die Nazi’s. Leibbrandt was as jong man die jongste spoorwegpolisieman wat die rang as adjudant-offisier beklee het. Kort voor die oorlog het hy ook liggaamlike opvoeding aan verskeie Europese universiteite en instellings studeer en telkens met lof geslaag.
“Leibbrandt het as volslae nasionaal-sosialis Hitler verafgod, maar hy het terselfdertyd sy Afrikanerskap as belangrik geag. Hy het “magsdronke aspirasies gehad om die ‘Führer’ van Suid-Afrika te word. Hy het homself ook gesien as ’n verlossersfiguur wat die Afrikaners sou verlos van die Britse heerskappy. Leibbrandt het gedink dat nasionaal-sosialisme by Afrikaner-nasionalisme aanklank sou vind,” maar volgens Blake het dié twee ideologieë ligjare verskil.
Blake vertel dat hierdie omstredenheid van Leibbrandt ’n blywende indruk op hom gelaat het en dat hy besluit het om dié omvattende biografie te skryf.
Sommige Afrikaners het Leibbrandt tydens die oorlog as aardsvyand beskou. “Wat wel minder bekend is, is dat die Ossewabrandwag hom ook vyandig gesind was en dat daar sluipmoordplanne op hom beplan was,” vertel Blake.
Leibbrandt was ’n komplekse mens met verskillende kontrasterende karaktertrekke wat reg deur Blake se boek opduik. “Leibbrandt het ongetwyfeld ’n grootheidswaan gehad. Hy het swak menseverhoudinge gehad. Hy was buffelagtig en het daaraan geglo om oplossings met geweld te vind. Natuurlik is daar ’n ander kant ook aan hom. Hy het verraad verafsku en sou nooit sy kamerade in die steek laat nie. As hy sy woord gegee het, het hy deur dik en dun daarby gehou,” sê Blake.
Blake vertel dat die tema van fanatisme soos ’n goue draad deur die boek loop. “My deurlopende tema in die boek is dat fanatisme in enige vorm nie ’n oplossing is nie. Dit het al gemeenskappe die afgrond ingestuur.”
- Albert Blake het in Oktober ʼn draai in Maroela Media se ateljee kom maak en met Anja van der Merwe oor Robey Leibbrandt en sy omvattende biografie gesels. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie artikel.