[Luister] Gretha Wiid gesels prontuit oor die huwelik in nuwe boek

Gretha Wiid. Foto: Facebook via Gretha Wiid

Gretha Wiid. Foto: Facebook via Gretha Wiid

Die verhoudingskenner en gewilde spreker, Gretha Wiid, het vandeesweek haar jongste boek in samewerking met Troukoors bekendgestel.

Gretha het tydens die bekendstelling in Pretoria gesê Trouboek is vol praktiese wenke en sal paartjies noop om te gesels oor belangrike sake. “Dis ʼn boekie wat in 52 weke opgedeel is, waarmee paartjies vir ʼn jaar lank huweliksvoorbereiding kan doen,” het sy verduidelik. “Daar is twee komponente aan die boek – die beplanning van die troue, soos die fotograwe en dan is daar ʼn komponent om paartjies slimmer te maak oor geldsake, kommunikasie, die wittebrood en ander kwessies.”

Sy sê die boek gee paartjies die geleentheid om mekaar die noodsaaklike vrae oor troue te vra. “Aan die einde van elke week word ʼn uitdaging ook vir die paartjie gestel. Ek dink hulle gaan verdieping beleef en praat oor goed waaroor hulle nooit gedink het om te praat nie.”

Gretha vertel mense onderskat dikwels die belangrikheid van huweliksvoorbereiding. “Huwelike in Suid-Afrika trek swaar en die egskeidingsyfer sê dit. Ons leef in ʼn eeu waar mense meer gefokus is op hulself en maklik uit ʼn verhouding stap. Mense het meer inligting nodig oor ʼn verhouding wat neerkom op praktiese raad. Die Trouboek laat hulle gesels oor belangrike dinge.”

Jong paartjies, wat die eerste keer trou, sal die meeste aanklank vind by die boek. “Dis vir paartjies wat sê hulle wil nie twee keer by die kansel ʼn draai maak nie, maar wil anders wees. Dis vir paartjies wat nie die roete van skei wil volg nie.”

Die boek is binnekort in alle boekwinkels landwyd beskikbaar.

Besoek Gretha se Facebook blad of Troukoors.

Lees meer oor die Trouboek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.