Luister: Hans du Plessis oor sy nuwe boek, ‘Tussen die klippe’


Prof. Hans du Plessis en die skrywer Ilse Salzwedel by die bekendstelling van 'Tussen die klippe' op 12 Mei 2016 in Pretoria Foto: Maroela Media

Prof. Hans du Plessis en die skrywer Ilse Salzwedel by die bekendstelling van ‘Tussen die klippe’ op 12 Mei 2016 in Pretoria Foto: Maroela Media

Skryf is vir hom ʼn geloofsdaad, sê prof. Hans du Plessis oor sy jongste boek, Tussen die klippe. Daarom word die temas van liefde en sy geloof in God, nes in sy vorige boeke, ook duidelik.

“Wanneer ek skryf, is ek baie bedag daarop dat ek besig is om te doen waarvoor ek op aarde is,” verduidelik hy. “Daarom is die liefde en my geloof in God belangrik.”

Volgens Du Plessis is die boek is só geskryf dat almal lekker daaraan kan lees. “Soms skryf mense so ingewikkeld dat lesers nie die storielyn verstaan nie. Dit was met die skryf van Tussen die klippe vir my baie belangrik dat mense die storie wil lees en verstaan.”

Hy vertel die storielyn kom uit die geskiedenis. “Ek het geweet ek wil ʼn roman skryf oor die 1800’s. Ek wou egter met dié roman bietjie verder gaan as die sogenaamde onseker tye in 1850. Ek wou ook nog altyd ʼn vrou as hoofkarakter hê. Ek het toe pertinent ʼn saak raakgelees in die volksraadnotules, waar die man aangekla is van veelwywery en ek het dit toe omgeswaai sodat dit veelmannery is.” Tussen die klippe

Tussen die klippe is ook simbolies. “Die howe het destyds tussen die klippe gesit toe dorpe soos Silverton nog nie ontwikkel is nie. Die verteller in die verhaal is Johannes, wat gegrond is op die apostel Johannes in die Bybel. Hy dink aanvanklik die liefde is net tussen mens en God, maar hy kom later ook agter daar is liefde tussen mens en mens, met ander woorde tussen die klippe ook.”

Du Plessis sê dié simboliek kan ook in die Nuwe Testament opgelees word. “Wanneer Moses van die berge afkom met die kliptafels, loop hy tussen die klippe. As jy mooi kyk na die betekenis van die Bybel, is die een klip die liefde van die Here en die ander die liefde vir jou naaste. Die roman probeer sê daar is ʼn sterk verband tussen die Ou en die Nuwe Testament.”

Daar is egter geen verband met die vorige twee Groot Trek-romans nie. “Die enigste draad wat deurloop, is die Groot Trek en die sogenaamde mentaliteit en gees van die tyd. Die Groot Trek was ʼn geloofsdaad en hierdie tema van onsekerheid kan raakgelees word in Tussen die klippe.

Hy wil die boek nie in ʼn boksie sit nie, verduidelik hy. “Dit het ʼn baie sterk Christelike karakter, maar dis nie ʼn Christelike roman nie. Daar is liefde in, maar dis ook nie ʼn liefdesroman nie en daar is historiese feite in, maar dis nie ʼn historiese roman as jy dit meet aan die vereistes nie. Dit het ʼn liefdesstrekking, Christelike strekking en historiese strekking, maar dit is eintlik ʼn hofdrama.”

Tussen die klippe is beskikbaar by boekwinkels landwyd of op Lapa-uitgewers se webwerf.

Maroela-lesers kry ʼn spesiale afslag by Graffiti Boeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Strussbob ·

Ek sien uit om hierdie boek te lees. Julie vac saam di katte en warm woorde!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.