Luister: Herinneringe oor Franz Marx opgediep

Chris Vorster, skrywer van ‘Franz Marx: Uit die perd se bek’. (Foto: Verskaf)

Franz Marx, een van die pioniers van Suid-Afrikaanse televisie, het kykers jare lank voor die kassie vasgenael gehou.

Karakters soos Antie Stienie en Bruce in Agter elke man het diep in kykers se harte gekruip, terwyl Egoli se Nenna, Bertie en Nora ook gou huishoudelike name geword het.

Maar het Jan Publiek ooit werklik geweet wie Franz Marx, wat in 2021 in die ouderdom van 79 dood is, regtig is en hoe ontsaglik hard hy gewerk het? Waarskynlik nie, maar mense in sy binnekring het hom geken en hulle het hulle herinneringe aan dié legendaries figuur onomwonde met Chris Vorster gedeel.

‘n Jonger Franz Marx. (Foto: Verskaf)

Vorster, ʼn bekende akteur, dramaturg en regisseur en dosent aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Dramadepartement, het in ʼn onderhoud met Maroela Media oor sy nie-biografiese boek oor Marx gesels.

Die boek heet Franz Marx: Uit die perd se bek en dit spruit uit Vorster se doktorale studie in kreatiewe skryfwerk wat hy vroeër vanjaar voltooi het.

“Toe ek begin het, wou ek my aanvanklik net op Afrikaanse televisiedramas toespits, maar in die navorsingsproses het ek besef dat Franz bykans oral in die bedryf betrokke was,” sê Vorster.

Dit was dus vir Vorster ʼn logiese besluit om in sy studie op Marx se bydrae te fokus. “Dit was die beste persoon om mee af te skop; ek het die meeste inligting oor hom versamel en Egoli was in soveel opsigte ʼn nuutjie vir Marx en die plaaslike televisiebedryf.”

In Franz Marx: Uit die perd se bek verwoord en verpak Vorster sy gesprekke met Marx, asook sy familie en vriende en hy gebruik ook van sy navorsing om die narratief aan te vul.

Vorster skryf onder meer in die boek dat Egoli oor ʼn tydperk van 18 jaar (van 1992 tot 2010) uitgesaai is. Om dit in konteks te plaas, verteenwoordig dié verhaal 1 000 weke en meer as 4 500 episodes; oftewel, die ekwivalent van 69 vollengte-rolprente per jaar.

“Ek dink as jy ʼn superintelligente mens kan kry wat baie fluks is, dan gaan daardie persoon suksesvol wees. Franz was baie kreatief, want hy het van vroeg af sy brein gevoed deur baie te lees.”

“Hy was boonop geweldig trots op die feit dat hy goed is in wat hy doen, en hy het dit reggekry deur harde werk en ʼn fantastiese brein.”

  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met Chris Vorster oor sy jongste boek, Franz Marx: Uit die perd se bek.
  • Klik hier om die boek aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.