Luister: Hulde aan ʼn woordmeester

jaap-steyn-skrywer

Die taalhistorikus en skrywer Jaap Steyn. (Foto: Kraal Uitgewers)

Die gerekende taalhistorikus en skrywer prof. Jaap Steyn (1938–2021) se boek So is onse mense was so te sê afgehandel toe hy verlede jaar onverwags dood is.

“Sy dood was ʼn groot skok vir ons almal en dit het uiteraard uitdagings gebied. ʼn Mens moet seker realisties wees oor hierdie soort ding, maar ek dink ons almal het heimlik gehoop dat prof. Jaap vir ewig by ons sal wees,” sê Ilze Niewoudt, publikasiebestuurder van AfriForum Uitgewers.

Nieuwoudt en Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, wat saam met Steyn aan sy boek gewerk het, het kajuitraad gehou en besluit om hierdie publikasie as ʼn laaste eerbewys aan Steyn te voltooi.

Maroela Media het in ʼn onderhoud vir Bailey en Niewoudt gepols oor hoe dit was om hierdie proses sonder Steyn klaar te maak. Hulle brei in hierdie gesprek ook uit oor die inhoud van die boek en elkeen deel hul gunstelingherinneringe van Steyn.

Nieuwoudt beskou dit as ʼn bedekte seën dat hulle reeds so ver met die publikasieproses gevorder het, aangesien dit hulle toe in staat gestel het om wel die boek te kon uitgee.

“Ek dink dit was ʼn ongelooflike geleentheid dat ons aan ʼn stuk erfenis kon werk wat nou finaal afgesluit is. Daar gaan nie weer ʼn boek saam met prof. Jaap Steyn wees nie.”

So is onse mense bevat ʼn versameling “herbesoeke” oor geskiedkundige onderwerpe, outobiografiese grepe en rubrieke.

Volgens Bailey is daar nie een sentrale tema wat in die boek vervat word nie, maar dit is eerder ʼn samekoms van onderwerpe wat vir Steyn belangrik was.

“Dit is ʼn samevatting van werk wat hy oor baie jare gedoen het oor onderwerpe wat hom na aan die hart gelê het soos sy liefde vir die Vrystaat en die Anglo-Boereoorlog se geskiedenis, asook sy liefde vir Afrikaans wat eintlik maar ʼn oorheersende tema in sy lewe was,” sê sy.

In So is onse mense lewer Steyn opnuut ʼn bydrae deur die verkenning van die bykans vergete geskiedenis van die laaste dramatiese dae van Mei 1902, soos gesien deur die oë van twee toonaangewende dramaturge.

Hy herontdek die lewe en werk van die veldprediker JD Kestell en stel ondersoek in na die mense wat verantwoordelik was vir die oprigting van die Nasionale Vrouemonument.

Steyn benader ook die geskiedenis meer outobiografies en gee lesers ʼn kykie in sy lewe as jong Vrystaatse seun van die Brandwaterkom. Daarna volg tien korter rubrieke, elk met Steyn se kenmerkende fyn benadering tot interessanthede uit die verlede.

Bailey sê wanneer sy die boek lees, is dit asof Steyn oorkant haar sit en gesels.

“Die lekkerte, as jy hom geken het, is dat dit voel asof jy sy stem hoor wanneer jy die stukke lees. Dit is amper soos ʼn gesprek wat jy weer met hom het en hoewel hy ʼn uiters asosiale mens was en nie regtig gehou het van groot groepe mense nie, het hy ʼn ontsettend goeie waarnemingsvermoë vir mense gehad.

“Of dit nou pres. Steyn, Kestell of interessante figure in die Vrystaat was, jy voel letterlik of jy daardie mense leer ken deur sy oë, en ek dink dit onderstreep net weer watter ongelooflike skryftalent hy gehad het,” vertel Bailey.

Die boek word afgesluit met huldeblyke van oudkollegas, vriende en familie wat hulde aan een van Afrikaans se grootste woordmeesters bring.

So is onse mense is Steyn se derde boek wat by dié uitgewer verskyn. Die vorige publikasies sluit in Ons gaan ʼn taal maak – Afrikaans sedert die Patriot-jare (2014), waarin die geskiedenis van die ontwikkeling van Afrikaans volledig deur Steyn beskryf word, en Verset & opbou: Skrywers en politici as aktiviste vir Afrikaans (2019), wat op die uitdagende en prysenswaardige werk van verskeie Afrikaanse taalaktiviste soos pres. MT Steyn, SJ du Toit, CJ Langenhoven en NP van Wyk Louw, fokus.

  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met Alana Bailey en Ilze Nieuwoudt oor prof. Jaap Steyn se laaste boek, So is onse mense.
  • So is onse mense word deur AfriForum Uitgewers uitgegee. Die boek kos R290 (prys onderworpe aan verandering).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.