Luister: Hykie Berg: ‘My storie van hoop’

Hykie-BergLeonie Bezuidenhout

Hykie Berg is ʼn bekende gesig wat sedert 2009 elke weekaand op die kassie in sitkamers regoor die land kuier as dr. Conrad Bester in die kykNET-sepie Binnelanders.

Nadat hy sy diploma in drama verwerf het aan die Universiteit Stellenbosch, het sy loopbaan in die vermaakbedryf posgevat. Hy maak sy televisiedebuut in die jeugreeks The Res en in 2007 verskyn hy in sy eerste rolprent, Ouma se slim kind.

Om te val

Hykie was op die kruin van sukses toe sy dwelmduiwel hom weer begin jaag het. “Voordat ek gaan drama studeer het, was my lewe reeds ʼn gemors,” vertel hy. “Ek was vir baie lank verslaaf aan heroïen. Ek is weer en wéér na ʼn rehabilitasiesentrum toe en het skoon gekom.

“Daarna het ek gaan drama studeer en ek was amper agt jaar skoon. In daardie tyd het dit baie goed gegaan met my loopbaan. Ek het goeie rolle begin kry en het begin sake doen. Ek het selfs ʼn paar toekennings begin wen. Tien dae voor my agt jaar merk het ek weer teruggeval in my ou gewoontes. Ek het vir twee jaar al die dwelms gebruik wat ek in die hande kon kry, omdat ek gedink het ek kan hierdie goed beheer.”

Dit was nie die geval nie, vertel hy. “In daardie twee jaar het ek my kar, my huis en my werk verloor. Dit het toe baie sleg met my gegaan. Ek het ʼn klomp motorongelukke gehad en die media het my beetgekry. Ek het al my geloofwaardigheid in die bedryf verloor en ek is gevra om te loop by [die SAUK-sepie] 7de Laan. Totdat ek weer my donkerste diepte moes kry en ek omtrent weer vyf keer terug rehabilitasiesentrum toe moes gaan.”

Hykie vertel openhartig dat hy eendag met ʼn naald in sy hart wakker geword het in ʼn kliniek. “Ek het besef ek moet weer skoon kom en ek is toe Botswana toe vir ʼn jaar. Ek het ʼn klomp sake-inisiatiewe daar probeer en teruggekom Suid-Afrika toe met R500 000 se skuld en niks anders nie.”

Hy vertel hy was selfs Weskoppies toe vir drie maande. “Die tydlyn van presies hoe hierdie goed gebeur het, brei ek meer uit oor in die boek. Stadig maar seker het ek myself weer op dreef gekry. Elsje Stark van Stark Studios het gevra of ek belang sou stel om ʼn rolletjie te kom speel op Binnelanders en ek was verskriklik dankbaar vir die rol. Ek moes terug trek Johannesburg toe en moes elke dag met ʼn taxi inry stad toe om te skiet, want ek het nie ʼn kar gehad nie. Ek het in Stefan Ludik se woonstel gaan bly. Al wat ek gehad was ʼn matras en gordyne.”

Om weer op te staan

In 2011 stof Hykie ander bekende deelnemers uit toe hy die realiteitsprogram Survivor wen. “Daar het ʼn wonderlike ding met my gebeur op die eiland. Dit is waar daar regtig ʼn ommekeer in my geestelike lewe gebeur het.

“Toe ek Survivor wen, dink ek kon die publiek sien, oukei, die ou het sy lewe reggeruk,” sê Hykie. “Net ʼn paar jaar voor dit was ek soveel keer in die nuus oor moeilikheid wat ek gemaak het en my naam was swartgesmeer deur my eie toedoen. Met die wen van Survivor was dit asof die Here my verlos het.”

Hy sê die Here het sy hart op die eiland kom aanraak. “Ek het besef Hy het my hele lewe lank vir my die platform gegee om Sy werk te doen en om Hom te dien. Om akteur te word was nooit om toekennings te wen of om bekend te wees nie. Dit was om vir my ʼn platform te gee om mense te bereik om hulle hoop te gee met my storie.”

Dis toe dat hy besluit het hy wil sy verhaal vertel. “Mense het geweet van my persoonlike uitdagings. Ek besluit toe om die 12 stappe van Narkotika- en Alkoholiste Anoniem ook by die boek in te sluit, want duisende mense verstaan nie wat die herstelproses is van ʼn verslaafde nie. Die boek is toe maar net ʼn reis van hoe God Homself aan my geopenbaar het.”

Die heel eerste keer wat hy na ʼn rehabilitasiesentrum toe is, was op die ouderdom van 21. “Ek sal nooit vergeet hoe daar ʼn ou vertel het dat hy omtrent ʼn jaar en ʼn half skoon was op daai stadium nie. Ek kon nie glo dat iemand vir ʼn jaar lank nie ʼn druppel drank of enige dwelms gebruik het nie. Ek kom toe agter die ou se storie is baie erger as myne; jy dink mos altyd jy is die heel ergste. Skielik kon ek met die ou vereenselwig. Geen dwelmverslaafde se storie is uniek nie. Die goed wat ons doen verskil dalk, maar dit kom altyd op dieselfde ding neer. Dis waar ek besef het wat die krag is daarvan om jou storie te vertel.

“Ek het my storie al soveel keer vertel, omdat ek dink dit is belangrik vir mense om te weet as verslaafde is jy nie alleen nie. Jy is nie uniek nie en jou geval is nie geïsoleerd nie. Duisende mense sukkel hiermee,” sê Hykie.

“Vandag gaan dit uitstekend met my. Ek is nou vyf jaar getroud met Melissa. Sy is ʼn wonderlike vrou en sy verstaan met wie sy getrou het. Ek het vrede vandag, en rustigheid.”

Intussen het hy ook betrokke geraak by projekte waar hy mense wil bemagtig om iets met hulle lewens te maak. “Dit het absoluut my passie geword om met mense te werk en vir hulle te sê as jy ʼn droom het, en jy het ʼn wil en jy wil hard werk, kan ons jou help om daardie drome te bereik. Ek kan nie vir ʼn ou vis gee nie, maar ek kan hom help om self ʼn 100 000 visse te vang.”

Hoop in aksie

“Ek glo as iemand nog asemhaal, is daar nog hoop,” sê hy. “Ek is die laaste 20 jaar van my lewe al deel van die wêreld van herstellende verslaafdes en mense wat sukkel met disfunksionele gedrag. Ek het al die ergste van die ergstes gesien skoon kom en ek het al ouens gesien wat jy gedink het gaan skoon kom, maar hulle kom nooit skoon nie. Die hartseer is jy weet nooit wanneer so ʼn persoon sy laagste punt gaan bereik nie.”

“Die Bybel is ʼn boek van aksie. Die Here was ʼn man van aksie,” sê Hykie. “My boek met die 12 stappe is ʼn boek van aksie. Dis nie ʼn selfhelpboek nie. Jy gaan dit nie lees en dan is jy skielik skoon nie. Ek verduidelik in die boek wat verslawing is uit ʼn psigologiese, biologiese, emosionele en geestelike oogpunt. Aksie gebeur deur jou wat die werk insit, en die res word oorgelaat aan God.”

Hykie vertel die boek fokus op sy eie verslawing en die uitdagings wat hy ervaar het. “Ek praat oor disfunksionele families, en ek sê ook in die boek dat almal moet weet – meeste families is disfunksioneel. Ek het grootgeword in ʼn huis waar alle probleme onder die mat ingevee is. Alles het agter geslote deure gebeur. Ek het altyd na ander families gekyk en gedink hulle is so perfek. Dis natuurlik ʼn klomp nonsens. Vandag weet ons dat enige ou wat in ʼn proses van herstel wil ingaan, daaroor moet praat. Mense word vandag aangemoedig om oor hulle probleme te gesels en oor wat in die huis aangaan. Dit is nie meer snaaks vandag om te weet dat in elke liewe gesin daar iemand is wat aan depressie of ʼn eetsteurnis of ʼn geestesversteuring, ly nie. Dit is normaal.”

Hykie verduidelik dat verslawing medies erken word as ʼn siekte en dit is ook medies bewys dat sekere mense as gevolg van hulle genetika meer geneig is om ʼn verslaafde te word. “Soveel as 95% van mense wat sukkel met verslawing, ly ook aan ʼn ander geestesgesondheidstoestand soos depressie of bipolariteit wat aandag moet kry. Daarom noem ons dit ‘dubbele diagnose’.”

Hy sê daarom is dit so belangrik vir enigiemand wat verslaaf is om na die regte soort plekke te gaan om te herstel. “Daar is honderde plekke wat nie geregistreer is nie, van ouens wat dalk nou ook die lig gesien het en besluit het om ʼn plek oop te maak waar mense byvoorbeeld in die groentetuin werk tot hulle skoon kom. Dit is nie altyd so eenvoudig nie. Partykeer rig so ʼn plek meer skade aan as enigiets anders.”

“Baie mense wil my bespreek om met kinders te kom praat oor die gevare van dwelms. Ek doen dit nie, want dit help nie. Dit is nie effektief nie. As ek kom, gesels ek oor my eie storie. Ons praat oor drome en ideale, en oor om die beste weergawe van jouself te wees.”

Enige iemand wat advies wil hê, kan vir Hykie kontak op sy webwerf of ʼn e-pos te stuur na [email protected].

Lees ‘n uittreksel uit die boek op Maroela Media. 

Uitgewer: NB Uitgewers
Prys: R180.00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Willie woes ·

Nee wat as jy dit twee keer na rehab weer gedoen het . Is jy n addict.verdoem

Lisa ·

Ek stem glad nie saam nie Willie en wie is jy om iemand te verdoem?

Persoonlik het ek baie respek vir Hykie en haal my hoed vir hom af en wens hom net alles van die beste toe vir die toekoms.
Hy is werklik een van die min akteurs wat elke geleentheid gebruik om ons Vader te verheerkik

tey

Sjoe nee ·

Sjoe nee passop vir oordeel, die ding kan jou of jou familie slaan. Hykie is in volle beheer en ek en menige bid elke dag vir hom, hy stap n pad met die Vader, saam is die bose oorwin. Bid liewer vir verslaafdes, moenie verdoem! Hykie ou maat houvas jy sal staande bly!

Frans ·

Onthou Willie Farao van die Egiptenare het vir die soveelste maal gedink hy is in beheer van die Israeliete, toe versuip hy in die see. Die Here kyk agter sy kinders en by hom is alles moontlik. Farao was ń doemprofeet. Sterkte Hykie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.