[Luister] Juliana Coetzer: ‘Oorkant jou’

Juliana Coetzer gesels oor haar boek Oorkant jou (Foto: Janie du Plessis)

Juliana Coetzer is ʼn psigoterapeut en die skrywer van die boek Oorkant jou. Sy het al voorheen die boek Bloedvreemd geskryf, wat gaan oor haar dogter wat op sewejarige ouderdom met ʼn seldsame siekte gediagnoseer is en hoe dit haar gesin geraak het.

Dié keer skryf Juliana oor haar ondervinding as psigoterapeut, asook oor die pasiënte wat al oorkant haar gesit het.

“Daar is ʼn spesifieke gedagtegang met die titel van die boek. Ek het eers gedink om die titel ‘Oorkant my’ te maak, maar dis eendimensioneel. Ons skuur mekaar; oorkant my sit iemand, maar oorkant daardie mense sit ook iemand. Ek wou dit persoonlik maak.

“Oorkant die leser is daar ook mense wat swaar kry, seer het en veg om oorlewing. Dit is weer iemand met wie die leser hom of haar kan identifiseer en vir wie hy of sy ʼn stem kan gee,” het Coetzer gesê.

Oorkant jou vertel die stories van mense wat Coetzer se pad gekruis en ʼn indruk op haar gemaak het.

Oorkant jou vertel stories oor mense wat oorkant my in my kantoor kom sit het, en hul stories met my gedeel het. Baie van hul stories het in my kop vasgesteek, en ek het begin voel ek wil aan hulle ʼn stem gee. Van die mense het my ook gevra of ek hul stories namens hulle sal skryf. Ons het besluit watter stories om te skryf en saam daardeur gewerk.

“Daar is natuurlik ook fiksie in die boek, wat gebou is rondom temas wat ek wou deurgee. Die boek wys die uitwerking van die stories op my lewe, en hoe ek en die pasiënte mekaar se lewe geskaaf en geskuur het.”

Coetzer het fiksie en niefiksie gemeng in die boek om mense se identiteit te beskerm, maar ook om ʼn nuwe dimensie aan die boek te gee.

“Vir my was die belangrikste dat daar vertroue moet wees. Niemand mag herkenbaar wees nie, mense mag nie hulself of ander kan herken nie. Al die stories is heeltemal verander en fiksie is ingebring, ter wille van vertroulikheid.

Oorkant jou deur Juliana Coetzer (Foto: Facebook)

“Die fiksie het ook komedie ingebring, wat die boek ligter maak. Mens moet kan lag, en nie net die swaar onderwerpe raaksien nie. Ek het sekere karakters ingeskryf wat die ligtheid by die boek kan inbring. Ek het baie karakters geskep vir wie ek so lief geraak het, wat my baie meer herinner aan niefiksie as aan fiksie. Die fiktiewe karakters is moontlik die karakters wat aan my ʼn stem gegee het, wat eintlik dele van my is.”

Die karakters in Oorkant jou is deur Coetzer uitgekies om twee oorhoofse temas aan die boek te gee.

“Twee groepe mense word in my karakters uitgesonder: eerstens mense wat mag oor ander uitoefen deur middel van mishandeling, en tweedens seksboelies. Dit gaan alles oor hoe mense deur ander mense swaar kry, oor ander mense se doen en late en die uitwerking daarvan op hul lewe.”

Oorkant jou het uiteindelik vir Coetzer gehelp om die stories uit haar kop te kry. Sy kon ʼn stem gee aan die pasiënte wat so ʼn groot rol in haar lewe gespeel het.

“Empatie en deernis is vir my die belangrikste in Oorkant jou. Ek wil hê mense moet dít voel wanneer hulle die boek klaar gelees het. Die boek is daar sodat die leser kan weet dat elke mens ʼn storie het, self diegene wat die sogenaamde skuldige is en ander mense seermaak. Daardie mense kom ook van iewers af en is ook gevorm deur iets of iemand. Dit is ook die proses wat ek op die einde moes aanvaar; alles gaan daaroor,” het Coetzer gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.