Luister: Kenner gee raad oor vasdieet

Argieffoto (Foto: Sanah Suvarna/Unsplash)

Onderbroke vas, ook bekend as die vasdieet en in Engels “intermittent fasting”, het in die laaste paar jaar al hoe gewilder geword.

Dit kan ook soms die wenkbroue laat lig wanneer maaltye oorgeslaan word, veral ontbyt wat nog altyd as die “belangrikste maaltyd van die dag” bestempel is.

“Die hele ingesteldheid dat jy in die oggend moet eet, is na my mening nie die waarheid nie. As jy nie honger is nie, moet jy in die eerste plek nie eet nie,” sê Bernadine Douglas, ʼn voedingsterapeut van Kaapstad en skrywer van die gesondheidsboek 12-week body and mind transformation.

Douglas het in ʼn onderhoud met Maroela Media oor dié dieetneiging gesels. Sy verduidelik waarom dit ʼn leefstyl eerder as ʼn dieet is, en deel dan wenke met lesers wat dié metode wil beproef.

“Peuselhappies is uit, want enige kos wat kalorieë bevat, gaan jou vas breek. Dit is ook belangrik om genoeg water te drink, anders kan jy dalk hoofpyn kry,” verduidelik sy. Dit is ook toelaatbaar om koffie, tee en beenkragsop gedurende jou vasperiode te drink.

Douglas, ʼn boorling van die Vrystaat en stigter van Slender Slim 4 U, stap al sowat sewe jaar saam met haar kliënte die pad na ʼn gesonder leefstyl.

Sy sê die vasdieet is ʼn volhoubare eetpatroon met groot potensiaal om ʼn gesonde leefstylverandering in jou lewe te bring. Dit is ʼn doeltreffende metode om gewigsverlies ʼn hupstoot te gee, die immuunstelsel te verbeter en hormone weer te balanseer.

“Baie mense wil graag begin om te vas, maar hulle weet nie heeltemal waar om te begin of wat om te doen nie. Daarom het ek dit baie eenvoudig in my boek uiteengesit om dit makliker vir beginners te maak,” sê sy.

Sy gee ook in haar boek praktiese wenke, raad en aktiwiteite om lesers te help om dinge te identifiseer wat hulle geestelik en emosioneel terughou. Verder is daar inkopielyste met uitruilopsies, oefeninge wat maklik tuis gedoen kan word, en skakels na aanlyn video-demonstrasies.

“My boek is nie die einde nie; dit is maar net die begin van ʼn 180 ºC-leefstylverandering,” sê Bernadine.

Douglas het saam met Bridgette Allan The Banting Solution (2016) geskryf, en sy was die medeskrywer van Tim Noakes se The Banting Pocket Guide (2017).

  • Your 12-week body and mind transformation het by Penguin Random House verskyn. Dit kos R190 (prys onderworpe aan verandering) en lesers kan hier klik om die boek aan te skaf.
  • Bernadine Douglas het in ʼn onderhoud met Maroela Media gesels oor die vasdieet, wat ook in haar jongste gesondheidsboek, getiteld Your 12-week body and mind transformation, bespreek word. Luister bo-aan die berig na die volledige onderhoud.
  • Lees hier alle vorige artikels oor onderbroke vas hier op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.