Luister: Koppige Ami hou Irma Venter op haar tone

Die krimiskrywer Irma Venter kuier by Maroela Media. (Foto: Christa Steyn-Bezuidenhout/Maroela Media)

Irma Venter het die ondersoekende joernalis Ami Prinsloo in Minder as niks (2021) aan lesers bekendgestel as iemand wat eiewys is en vir niks of niemand bes gee nie. Ami se koppigheid en honger vir nuusstories kom ook na vore in Die verkeerde vrou (2022) en Al wat tel, wat pas verskyn het.

Ami se sterk karakter hou deurgaans ook vir Irma op haar tone, maar dit is nietemin vir dié krimiskrywer heerlik om met so ʼn karakter te werk.

“Sy is soms dwars, en sy het ʼn moeilike streep in haar, maar ʼn goeie hoofkarakter het ʼn bietjie sleg en ʼn bietjie goed in hulle,” sê Irma in Maroela Media se ateljee.

Sy voeg by dat daar ʼn interessante storie agter Ami se karakter is. “Ek het eers aan die S-reeks en met ʼn hele spul ander karakters gewerk. Al wat tel was aanvanklik die agtste boek in die reeks, en die titel sou Safari wees. Maar dit wou net nie met daardie karakters uitwerk nie, en die storie het ook nie vir my sin gemaak nie. Ek het toe met die Ami Prinsloo-reeks begin, en dit het al die stukke mooi in plek laat val.”

In Al wat tel hoor Ami dat ʼn man voor die gimnasium waar sy oefen, geskiet is, en onmiddellik kry sy die gevoel dat daar moeilikheid is. Toe die Valke boonop op die toneel is, het sy geweet dié man was belangrik. Sy sit met talle vrae soos of dit ʼn sluipmoord was, wie die jong blonde vrou is wat saam met die slagoffer was, en watter voorwerp die speurder by die misdaadtoneel optel en in sy sak druk.

Terwyl Ami besig is om antwoorde op haar vrae te probeer opspoor, kruis haar pad met Marc Göttler, ʼn Duitse joernalis. Hy ondersoek bewerings van ʼn ontstellende voorval in Mosambiek, ʼn paar kilometer anderkant die grens van Suid-Afrika. In ʼn poging om uit te pluis of daar ʼn verband tussen Ami en Marc se stories is, vat hulle die pad, die wildernis in. Hier beland Ami in omstandighede wat haar dwing om uit te vind wat die meeste saak maak.

Op die vraag oor of Ami se storie afgehandel is, verklap Irma dat sy ʼn toekoms vir die karakters sien.

“Ek hoop daar gaan nog ʼn boek of twee in die reeks wees. Om ʼn ondersoekende joernalis, veral in ʼn Suid-Afrikaanse konteks, te wees, gee vir jou baie ruimte om verhale te kan skep.

“Ek sal graag Ami se karakter nog wil ontwikkel. Lesers wat haar nou al ken, sou agtergekom het dat ek haar ʼn klein bietjie sagter en meer lief en geliefd gemaak het.”

Irma meen karakterontwikkeling is ʼn belangrike fokus in haar skryfwerk. “ʼn Mens sal nie sommer in die eerste boek van my reekse ʼn karakter teëkom wat in daardie boek onmiddellik verander of ʼn ommekeer ervaar nie. Dit gebeur vir my oor die tydperk van ʼn reeks. Ek dink in daardie opsig is Ami nog op haar pad, en ek sal dit graag nog verder wil oop skryf.”

Al wat tel kos R330 (prys onderworpe aan verandering). Kik hier om die boek op NB-Uitgewers se webwerf te bestel of by Graffiti Boeke aan te skaf.

  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met Irma Venter. Sy het in Maroela Media se ateljee oor haar jongste roman, Al wat tel, gesels. 

In hierdie video lees Irma Venter spesiaal vir Maroela Media se lesers ʼn stuk uit haar jongste roman, Al wat tel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.