Luister: Kry jou kop reg vir gewigsverlies

Argieffoto (Foto: Andres Ayrton/Pexels)

Een van die grootste redes waarom mense sukkel om gewig te verloor of hulle gesondheidsdoelwitte te bereik, is omdat hulle te maklik opgee, meen Bernadine Douglas, ʼn voedingsterapeut van Kaapstad en skrywer van die gesondheidsboek 12-week body and mind transformation.

“Die persoon het dalk ʼn terugslag gehad of een week nie gewig verloor soos wat hulle gedink het hulle moes nie en dit is waar die meeste mense ʼn groot fout maak,” sê Douglas.

Ander mense wat dalk nie heeltemal tou opgooi nie, is geneig om hier te begin met verkeerde eetgewoontes, omdat hulle denkwyse nie reg is nie.

“Mense dink hulle verdien dit nie of hulle ‘aanvaar’ dat hulle maar net van daardie mense is wat nooit gewig gaan verloor nie. Dit is juis hierdie selfvernietigende ingesteldheid wat mense moet breek.”

Douglas moedig mense aan om deur te druk – al beteken dit jy verloor net 500 g per week. “Moenie omdat jy net ʼn paar gram verloor het, wil moed opgee nie. Dit beteken nie jy is sleg of jy kan dit nie doen nie. Enige gewigsverlies is beter as niks nie.”

Sy sê verder dat ons nie altyd beheer het oor die lewe en die kos wat by funksies en familiegeleenthede voorgesit word nie. Die belangrikste is om daarna so gou as moontlik weer terug te keer na jou gesonde eetplan.

“As jy van die wa af geval het, moenie staan en kyk hoe dit in die verte verdwyn nie. Hardloop eerder so gou as wat jy kan en spring terug op die wa. As jy vandag afval, klim dan net môre weer terug en gaan net aan.”

Emosies speel ook ʼn groot rol in ʼn mens se behoefte om te eet. Douglas stel voor dat jy begin deur die kos wat jou laat beter voel te identifiseer en om dan te probeer vasstel watter ander aktiwiteit of ding wat nie kosverwant is nie, dieselfde uitwerking op jou gemoed het.

“Begin dan om dit as jou plaasvervanger te gebruik in plaas daarvan om te eet. Jy moenie kos gebruik om jou goed te laat voel nie. Gaan eerder vir ʼn massering, laat doen jou hare of naels of gaan stap saam met jou kinders in die berg. Doen lekker goed wat dieselfde uitwerking as daardie trooskos gaan hê.”

Die invloed wat sosialemediaplatforms op jou motivering het, moet ook nie onderskat word nie. Douglas se eerste wenk wat sy met lesers deel, is om groepe te verlaat wat jou negatief beïnvloed.

“Dit is nogal interessant – die meeste van my klante volg groepe wat resepte en video’s deel, maar dit is in teenstelling met wat hulle eintlik probeer bereik.

“Sien dit so, as hierdie inhoud nie op jou tuisblad verskyn nie, kan dit jou nie in die versoeking stel nie. Wanneer jy so iets sien, plant dit ʼn saadjie by jou en gaan jy die heeltyd lus wees vir ʼn sjokolade, koek of wat ook al jy gesien het.”

In Douglas se jongste gesondheidsboek gee sy praktiese wenke, raad en aktiwiteite om lesers te help om dinge te identifiseer wat hulle geestelik en emosioneel terughou. Verder is daar inkopielyste met uitruilopsies, oefeninge wat maklik tuis gedoen kan word, en skakels na aanlyn video-demonstrasies.

“My boek is nie die einde nie; dit is maar net die begin van ʼn 180 ºC-leefstylverandering,” sê Bernadine.

Bernadine het saam met Bridgette Allan The Banting Solution (2016) geskryf, en sy was die medeskrywer van Tim Noakes se The Banting Pocket Guide (2017).

  • Your 12-week body and mind transformation het by Penguin Random House verskyn. Dit kos R190 (prys onderworpe aan verandering) en lesers kan hier klik om die boek aan te skaf.
  • Maroela Media het in ʼn onderhoud met Bernadine oor die belangrikheid van gesonde gewoontes en motivering gesels. Luister bo-aan die berig na die volledige onderhoud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.