Luister: Kunstenaar, ontsluit die entrepreneur in jou


lukas-de-beer-01

Lukas de Beer. Foto: Twitter.

Lukas de Beer verwys na homself as ʼn “artrepreneur”. Dié sanger is vir sy debuutalbum, Storm op Jupiter, vir ʼn Ghoema benoem, het al talle liedjies geskryf, bedryf ʼn boetiek platemaatskappy en is deesdae ook ʼn lewensafrigter en ankeraanbieder op Kaapse Kansel se ontbytprogram.

Lukas het dus eerstehandse ervaring van wat dit verg om skeppend te wees, én die potjie aan die kook te hou.

“Ek dink dié belangrikste ding wat jy kan doen, veral vir jong kunstenaars, is om regtig net jou eie kreatiewe stem te vind. Dit is ongelukkig nie iets wat jy oornag besef nie. Dit is ʼn pad wat jy moet stap, dis ʼn hele proses,” sy hy.

Lukas het in September ʼn boek, Artrepreneur – A Field Guide for Creative Professionals, uitgegee waarin hy kunstenaars wil oortuig dat hulle ook entrepreneurs is. “As jy regtig daarin belangstel om ʼn toekoms te bou in die kunste, moet jy verstaan hoe ʼn onderneming werk en moet jy begin dink soos ʼn sakeman.”

artrepreneur-lukas-de-beer

Foto: Artrepreneurcoach.com

Die eerste helfte van die boek gaan oor die kunsloopbaan as ʼn onderneming. Hy skryf ondermeer oor kritiek, motivering, die algemene struikelblokke vir ʼn kunstenaar, kreatiwiteit en selfs verhoudings. In die tweede helfte van sy boek bring hy elemente van lewensafrigting in, dit is immers waarmee hy hom meestal besig hou.

Hy begelei die leser deur die sake-aspekte van skeppende werk. Lukas fokus ook daarop om vrae te vra wat die leser sal help om te verstaan hoe ʼn mens as kunstenaar ʼn netwerk skep wat jou in jou onderneming se sukses kan ondersteun.

Lukas staan ook ʼn hele hoofstuk af aan die idee van suksesvol versus betekenisvol. In dié hoofstuk draai hy al die konvensionele idees rondom sukses op die kop.

Hy lag en sê dan: “Kunstenaars moet eintlik sakke vol genade hê om eindelik by hulle eie, outentieke stem uit te kom!”

Sy finale wysheid aan kreatiewe mense is dat hulle kuns moet skep vanuit hulle ware self: “Want dan sal mense by jou kuns aanklank vind. Ja, begin deur net jouself te wees.”

  • Esté Meyer Jansen het vanuit Kaapstad met Lukas de Beer oor sy boek gesels. Luister na die onderhoud bo-aan hierdie berig.
  • Artrepreneur is by uitgesoekte boekwinkels beskikbaar en kan bestel word deur ʼn e-pos na [email protected] te stuur. Besoek artrepreneurcoach.com vir meer inligting oor Lukas se boek en werksessies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.