Finansiële welvaart is binne elkeen van ons se bereik, jy moet net jou denke oor geld verander.
Dit is die mening van Wouter Snyman, ʼn finansiële kenner en uitvoerende hoof van die finansiële diensteverskaffer Attooh!
Snyman is ook ʼn medeskrywer van die boek Rich Brain, Poor Brain. Hy het die boek saam met die kreatiwiteitskenner, dr. Kobus Neethling, en dr. Raché Rutherford geskryf. In die boek wil hulle jou help om jou denkwyse te verander sodat jy groter finansiële welvaart vir jouself kan skep.
Volgens Snyman bepaal die soort vrae wat jy jouself vra die gehalte van jou lewe. “Dit is ʼn aanhaling wat ek by die motiveringspreker Tony Robbins gaan leen het. Jy moet uitvind wat jy wil doen, hoekom jy dit wil doen en wat keer jou tans om dit te bereik. As jy duidelikheid hieroor het, kan jy jou paadjie na finansiële welvaart beplan.”
Hy sê finansiële welvaart gaan ook dikwels daaroor om nuwe gewoontes te kweek oor hoe jy met jou geld werk. “As jy eers daardie goeie gewoontes gevestig het, gaan jy jouself daartoe moet verbind om dit deur te voer. Dit gaan oor fokus en konsekwentheid om suksesvol te wees.”
In Snyman se gesprek met Maroela Media het hy praktiese raad gegee oor hoe jy skuld kan delg. Hy het ook ʼn eenvoudige plan verskaf om jou eerste spaar- of beleggingsplan aan die gang te kry en jy kan dit doen met so min as R5 per dag.
- Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig om die raad en wenke te kry.
- Rich Brain, Poor Braindeur dr. Kobus Neethling, Wouter Snyman en dr. Raché Rutherford is beskikbaar by Bargain Books, alle goeie boekwinkels en kan aanlyn by Amazon bestel word. Besoek die Kobus Neethling-instituut se webwerf of Facebook-blad vir meer inligting oor die boek, breinprofiele en kreatiwiteit.
- Luister hier na Maroela Media se gesprek met die dr. Kobus Neethling en dr. Raché Rutherford oor die boek.