Luister na ‘Bitterbosbende: Die been in die bos’ deur Anzil Kulsen

Anzil en haar seun Keenan het saam aan twee van die ‘Bitterbosbende’-boeke geskryf (Foto: Verskaf)

Dink net jy hou vakansie êrens langs die see en dan vind jy uit dat die gebou waarin julle bly gedeeltelik op grafte gebou is? Dit is presies wat ʼn paar jaar gelede met Anzil Kulsen en haar gesin gebeur het én waar die idee vir die Bitterbosbende-reeks ontstaan het.

“Ek onthou ons het iewers in die Kaap langs die see vakansie gehou toe ons dié nuus gehoor het,” vertel Anzil. “Nou ja, as die naasbestaandes van oorledenes nie hiervan uitgevind het nie, sou daar die een of ander wonderwerk moes gebeur voor die grafte ontdek kon word.”

Vertel meer oor die dorpie en waarom die verhaal juis hier afspeel?

In die Noord-Kaap waar die Kulsen-gesin woon, word hulle deur myndorpe omring: van Aggeneys tot Postmasburg, Kathu en Kimberley. Anzil het gereken Kathu sou ʼn lekker Bitterbos wees, maar dan kon die dorpie netsowel in enige ander provinsie wees.

As die Bitterbosbende-reeks in ʼn fliek omskep sou word, wie sal die rolle van die bende vertolk?

Anzil dink so ʼn rukkie en erken plegtig dat dit nie ʼn maklike taak is om akteurs te identifiseer nie.

“Sjoe, ek is bly ek hoef dit nie in werklikheid te doen nie. Dis soveel moeiliker as om net karakters te skep,” sê sy.

Maar as sy dan moet kies, wie sou dit wees?

“Vir meneer Louw sal ek Tobie Cronjé kies, Quanita Adams moet die rol van mevrou Bosman speel, vir Vian Singleton as Leonard, ʼn jong Clint Brink as Kurt en Beata Bena in die rol van Nieke.”

Anzil en haar seun Keenan het saam geskryf aan Bitterbosbende (deel twee): Die been in die bos en Bitterbosbende (deel drie): Die been in die bos. Wat was hulle grootste uitdaging as ma en seun om saam ʼn boek te skryf?

Vir Anzil en Keenan was dit ʼn wonderlike ervaring om saam aan die verhale te skryf.

“Hoewel ons soms kop gestamp het, was dit gaaf om ʼn bondgenoot te hê wat nuwe idees vir die storielyn kan uitdink,” sê Anzil.

Keenan het dit ewe veel geniet om lewe aan die Bitterbosbende te gee, sê hy.

“Die Bitterbosbende-reeks is nie net spookstories nie, maar ook ʼn groep jong vriende se avontuurverhale waaruit lesers genot kan put,” vertel Keenan.

Die voorlesing word in samewerking met die skrywer en uitgewer moontlik gemaak. Neem kennis dat die voorlesing nie in ʼn klankateljee opgeneem is nie, maar deur die skrywer self.

  • Luister hierbo na ʼn voorlesing deur Anzil Kulsen van Bitterbosbende (deel twee): Die been in die bos.
  • Lees meer oor Anzil en Keenan Kulsen se Bitterbosbende-reeks hier op Maroela Media.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R135,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by NB-Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.