Luister na ‘Die Bergengel’ op RSG

Carina Stander se fantasieroman, Die Bergengel, word van Donderdag 14 Desember elke weeksaand om 21:10 op RSG voorgelees. Die akteur Pieter van Zyl gee aan hierdie magiese werk gestalte deur sy aand-boekvoorlesings.

Dié boek was Maroela se “boek van die maand” in Augustus 2017. Johan Myburg, resensent, skryf: “Dit is nie om dowe neute nie dat Carina Stander agter in Die Bergengel na haarself as opgeleide beeldhouer verwys. Dit is juis haar vernuf om te verbeeld wat in dié roman, die eerste van drie, so voorop staan. En daarmee saam die vaardigheid om te verbeel.”

“Vir die eerste keer gaan ek die storie wat al vir soveel jare deur my verbeelding rank, kan hoor!” skryf Carina Stander in ‘n plasing op Facebook. “Toe ek die nuus kry dat RSG besluit het om my héle roman, ál 90 000 woorde voor te lees, wou ek in die rondte tol soos ‘n bakoorjakkalsie na die reën. Die wonderlike Ronel Geldenhuys sit in die regie-stoel met Pieter as stemtowenaar.”

Oor die boek:

In Gabriëllië het dertien jaar reeds verloop sedert daar enige teken was van ’n Bergengel en glo die jonger generasie byna nie meer aan die bestaan van dié mitiese kreature nie. Eron Verberger, seun van die klokmakersegpaar Gibor en Alida Verberger, word egter gedwing om met nuwe oë na fantasie én werklikheid te kyk wanneer hy saam met sy pa op ’n lewensveranderende avontuur vertrek. Wie is die misterieuse Reënboogmaker met wie hulle pad elke nou en dan kruis? Is die brande wat deur die land trek werklik net vure van vernuwende “skoonbrand”, soos die Regiohoofde beweer, of is dit die gevreesde Vuurstorms waarvan die geskiedenis vertel?

’n Mistieke en allegoriese fantasieverhaal van grootword en groei wat tot volwasse sowel as jong volwasse lesers sal spreek.

“ … daar is sekere vermoëns wat alle Bergengele oor alle eeue heen in hul wese moes inweef. Vermoëns soos die Dissipline van Feesviering (om elke klein vredesverdrag te vier), die Dissipline van Geheimhouding (om vir twee dekades aaneen die nasie sonder erkenning te dien, vermom as gewone werker) en die Dissipline van Gemeenskap en Afsondering. Vir ’n Bergengel is daar altyd die wisseling tussen binne en buite: of hy is ’n alleenloper wat tevrede is met sy eie geselskap, maar deur meegevoel gedryf word na die trop, of hy is ’n kuddewese wat moet leer om gelukkig te wees as ’n eenkantling. Om ’n Bergengel te wees, is om alleen deur die ondergrondse gange van ’n kapel te stap terwyl daar gesing word – jy hoor nie net die musiek en die stemme nie, jy hoor ook hoe dit eggo in die toekoms.”

Die boek is uitgegee deur Protea Uitgewers.
Prys: R220-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek nou by Graffiti Boeke 

Carina Stander tussen die blomme van die Weskus Nasionale Park (Foto aan Maroela Media verskaf deur Carina Stander)

Oor die outeur:

Carina Stander (gebore in 1976) was plaaskind in die Waterberge van Limpopo. Ná ’n honneursgraad in Beeldende Kuns aan die Universiteit van Pretoria werk sy ’n paar jaar vir beeldhouers in Cambridge en die Skotse Hoogland. Ná ’n meestersgraad (met lof) in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad verskyn haar digdebuut, die vloedbos sal weer vlieg, (Tafelberg 2006). Dit was op die kortlys vir die Universiteit van Johannesburg debuutprys en agt van dié gedigte is in Groot Verseboek opgeneem. ’n Handvol gedigte uit haar tweede bundel, woud van nege en negentig vlerke (Tafelberg, 2009) is getoonset deur die Nederlandse musiekgroep, Souldada vir hul CD’s “Oer de grins” en “Watervolk”, asook deur Herman van den Berg vir sy CD, “Onthou”.

Sedert 2006 is sy vryskutjoernalis by ’n tiental nasionale tydskrifte en koerante, was twee maal Artikelskrywer van die Jaar by die Media24 tydskrif Lééf en finalis vir die ATKV-Mediaveertjie. Sy publiseer in versamelbundels en van haar kortverhale en gedigte is voorgeskryf vir skole. Wildvreemd, haar debuutroman, verskyn in 2011 by Tafelberg en word in 2013 ook in Nederlands vertaal (Uitgeverij Athenaeum). Van Cordis Trust ontvang Carina die Orde van die Goue Pen en sy gebruik dié publikasieprys om haar seun Aden van Niekerk se eie vertellings en sy kinderkuns byeen te bring in Wolkland (2013) – ’n kinderboek deur ’n kleuter. Carina woon in die Tsitsikamma saam met haar man en twee seuns.

Luister na die boek:
Pieter van Zyl lees van Donderdag 14 Desember elke weeksaand om 21:10 in RSG se aand-boekvoorlesing Carina Stander se Die Bergengel voor.
Dit word op gewone draadloos uitgesaai, asook wêreldwyd op RSG se internet-kanaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.