Luister: Olivia Loots deel reiswenke in ‘Ek. Frankryk. 246 Dae.’


Olivia Loots Foto: Facebook via Ek. Frankryk. 246 dae.

Olivia Loots Foto: Facebook via Ek. Frankryk. 246 dae.

ʼn Oorbruggingsjaar is nie nét ʼn rusjaar nie. Olivia Loots, ʼn derdejaarstudent in Visuele Studies en Tale aan die Universiteit van Pretoria, het pas ʼn boek uitgegee oor haar agt maande lange oorbruggingsjaar in Frankryk, en sê dié boek is vir elkeen wat dieselfde reis beplan en vol nuttige wenke.

Loots sê die boek, Ek. Frankryk. 246 Dae., is saamgestel uit ʼn reeks dagboekstukkies wat sy oor haar agt maande lange oorbruggingsjaar geskryf het. “Ek het elke dag dagboek gehou, sketse gemaak, foto’s geneem,” verduidelik sy. “Die dagboekstukkies was oorspronklik net vir myself, maar ons het mettertyd besluit om dit as boek uit te gee oor die waardevolle inligting wat dit bevat.”

Sy sê haar ma het haar aangepor om die dagstukkies as boek uit te gee omdat dit baie interessanthede bevat. “Dit het aan die einde stories geraak. Dit was moeilik om al die wenke saam te sit, omdat jy nie noodwendig op ʼn spesifieke oomblik besef jy leer nie. Daar is wenke oor openbare vervoer, hoe jy met mense kommunikeer en die taalkwessie oorbrug, waar jy kan Wi-Fi kry en selfs hoe ʼn mens joga doen en jou skouers kan laat ontspan.”

Loots meen dié boek het haar op meer as een manier oor aanpasbaarheid geleer. “Ek het geleer ʼn gegewe situasie is geen eenrigting-kwessie nie, en dat ek ʼn rol speel in hoe iets gaan uitdraai. Ek het baie oor selfstandigheid geleer, om aan te pas by ander mense se roetine, die verskillende tale en die omgewing. Ek het besef hoe belangrik menseverhoudings en aanpasbaarheid is.”

Jongmense wat dieselfde ondervinding wil hê, sal die boek die meeste geniet, hoewel ouers ook aanklank daarby sal vind. “Die boek is geskryf vir jongmense wat dieselfde tipe reis wil aanpak. Ek het egter ook al van baie ouers positiewe terugvoer gekry. Hulle het dikwels ʼn spesifieke idee oor waarmee hul kinders besig is, en die boek gee ʼn blik daarop. Eintlik sal almal dit geniet.”

Die boek is nog nie in boekwinkels nie, maar kan direk bestel word deur ʼn e-pos te stuur na [email protected]. Die boek kos R220 plus koerierkoste.

Besoek haar Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.