Luister: Oor die soet en sout van ouerskap

Argieffoto (Foto: timkraaijvanger, Pixabay)

“Wanneer jy in die spieël kyk, moet jy die liefde wat jy so maklik vir ander mense gee, eerste vir jouself uitdeel,” sê Lente Swift, een van die stigterslede van Die Naguilklub.

Lente het Die Naguilklub in 2018 saam met Suzanne Smit en Juanli Theron gestig met die doel om ʼn veilige hawe vir ouers te skep.

Pleks van meeding om perfeksie het dié drie vroue in die digitale wêreld ʼn ruimte geskep waar ouers mekaar kan ondersteun deur die brutale fase van slapelose nagte, snotneuse en vloermoere.

Suzanne stem saam met Lente en moedig ouers aan om meer deernis met mekaar te hê.

“Ons stories gee vir ander mense toestemming om ook hulle stories te vertel en mag dit so wees. Mag ons by babatees, ʼn braai of waar ook al ons bymekaarkom, genade met mekaar hê.”

Die Naguilklub se stories en raad van die afgelope paar jaar het pas in ʼn boek, getiteld Meer as net ʼn ma, verskyn.

Lente en Suzanne het in Maroela Media se ateljee oor die boek kom gesels en ook vertel waarom hulle opgewonde oor die toekoms van Die Naguilklub is.

“Ek is veral opgewonde oor die positiewe bydrae wat dit in vroue se lewe maak,” sê Lente. Sy vertel verder:

“Wanneer vroue ma’s word, word hulle opnuut met hulle liggame, selfaanvaarding, en ʼn klomp ander vrae gekonfronteer. My hoop is dat vroue wat dit lees, ongeag of hulle kinders het of nie, opnuut sal besef hoe ongelooflik spesiaal en merkwaardig en besonders hulle geskep is.”

Lente is ʼn ma van twee en ʼn toegelate prokureur met ʼn graad in sielkunde. Sy en haar gesin woon in Durbanville. Suzanne is ook self ʼn ma, ʼn toegelate prokureur en belastingspesialis, en sy woon saam met haar man en twee dogters in Centurion. Juanli is ʼn taalkenner en die hoof van die Universiteit Stellenbosch se taalsentrum. Sy het ʼn dogter en ʼn seun en hulle gesin woon in Stellenbosch.

Die vertellings in Meer as net ʼn ma is verstommend eerlik, dikwels hartroerend, soms snaaks en gevul met die soet en swaarkry van ouerskap.

“Ons skryf oor goed wat regtig ontblotend is en wanneer ek dit dan op Die Naguilklub deel, sit ek letterlik en wag vir mense om te reageer. Ek skakel partykeer sommer my foon vir twee dae af,” erken Lente.

Wat ook wel in die proses gebeur het, is dat Lente ʼn platform saam met Suzanne en Juanli geskep het wat haar geestesgesondheid ʼn hupstoot gee.

“Die aanvaarding van my emosies en uiteindelik die stories wat ek deel, is ongelooflik bevrydend,” sê sy. “Dit het ʼn enorme invloed op my geestesgesondheid gehad en dit is presies wat hierdie boek is – ʼn geestesgesondheidsboek wat die binnewêreld van ma’s (en ouers) ondersoek.”

Een van Die Naguilklub se hutsmerke is #ouerskapsonderoordeel en volgens Suzanne dra dit by tot die positiewe ervaring van Die Naguilklub.

“Saam met die stories wat ons deel, lewer dit ʼn positiewe bydrae. Dit maak nie saak hoe swaar, diep of lig die ervarings is wat ons deel nie. Daar is geen oordeel in liefde nie.”

Meer as net ʼn ma het pas by NB-Uitgewers verskyn, en dit kos R280 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek aanlyn te koop.

  • Lente en Suzanne het in Maroela Media se ateljee oor Meer as net ʼn ma kom gesels en ook vertel waarom hulle opgewonde oor die toekoms van Die Naguilklub is. Luister boaan die berig na die volledige onderhoud.
  • Lees meer oor Die Naguilklub hier op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.