Luister: Parapleeg koester pa-seun-oomblik

Alwyn Uys het die 8 km se koue waters tussen Robbeneiland en Bloubergstrand aangepak. (Foto: Light Lounge Studio/Verskaf)

ʼn Bietjie meer as sewe jaar gelede, op die aand van 13 Desember 2014, het ʼn gru-ongeluk Alwyn Uys van sy middellyf af verlam gelaat.

Uys en sy pa het die aand van sy ongeluk ʼn uitval gehad waarna Uys in sy motor geklim en gery het. Met ʼn onrustigheid in sy hart is Uys toe vort na sy meisie in Kirkwood in die Oos-Kaap.

Die 90 km tussen St. Francisbaai en Kirkwood het Uys al honderd kere vantevore afgelê, maar dié aand het ʼn sameloop van gebeure daartoe gelei dat sy motor gerol het en hy deur die passasiersruit geslinger is.

ʼn Vreemdeling het oor hom gehurk waar hy in die veld lê en laat weet dat die ambulans op pad is. Op die vraag wie hy kan bel het Uys versoek dat die man eerder sy vriend en meisie as sy pa bel.

“Ek is te bang om my pa te bel. Ek weet my kar is afgeskryf en dat hy kwaad gaan wees, veral omdat ons kort voor die ongeluk woorde gehad het (bl. 18).”

Later die aand toe Uys sy pa in die hospitaal sien, was hierdie onderonsie van vroeër skielik ʼn onbenulligheid.

“Ek het soveel vrede ervaar toe ek daar in hospitaal hoor dat my pa by my is. Alles was net op daardie oomblik oukei. Ek was eintlik besig om dood te gaan, maar toe ek my pa se stem hoor het ek ʼn rustigheid ervaar,” vertel Uys.

Dit was ʼn spesiale oomblik wat Uys nooit sal vergeet nie.

“Die lewe is dieselfde – dit maak nie saak waardeur ons gaan nie, die oomblik wanneer God sê: ‘Ek is hier, Ek gaan jou nie verlaat nie,’ dan gaan jy oukei wees.”

Alwyn is nie ’n swemmer nie en die groot oop see en uitgestrekte afstand wat hy moes swem het hom nogal bang gemaak. (Foto: Light Lounge Studio/Verskaf)

Uys was ʼn kranige rugbyspeler met Springbok-drome toe dié ongeluk al sy toekomsplanne in die wiele gery het.

Dié boorling van St. Francisbaai in die Oos-Kaap, het sy BCom-graad in kwantitatiewe bestuur en ʼn honneursgraad in finansiële bestuur aan die Universiteit Stellenbosch voltooi. Ná sy studie het hy na die Oos-Kaap teruggekeer om vir sy pa te werk wat ʼn vrugte-uitvoermaatskappy bedryf het. Kort ná sy tuiskoms het hierdie ongeluk gebeur.

“Op 24 dink jy mos die lewe kan jou nie aanraak nie en dat niks met jou kan gebeur nie. Jy hoor altyd van hierdie tragiese goed en jy weet van mense wat verlam is, maar jy dink nie dit kan met jou gebeur nie,” vertel Uys.

Hy het onlangs in ʼn onderhoud met Maroela Media gepraat oor sy geloofsreis, uitdagings in die lewe en sy boek, Ongeskonde, wat pas by Lux Verbi verskyn het.

“Dit was vir my ʼn groot reality check toe ek besef die lewe het nie kriteria nie en dat so iets met my gebeur het. Maar ek het vir myself gevra ‘Wat nou? Gaan ek net in sak en as sit of gaan ek opstaan en iets maak daarvan?’”

Aan die begin was dit moeilik en hy het lank met God gestoei, erken Uys. Volgens hom het sy worsteling met die Here eers minder geword toe hy van sy ou lewe afstand gedoen het. “Dit het my omtrent vier tot vyf jaar gevat om regtig tot op ʼn punt te kom waar ek vrede gehad het en kon aanbeweeg.”

Uys sê verder hy het nie verwag dat die skryfproses so uitdagend sou wees nie. Om sy kinderdae, die egskeiding van sy ouers en talle ander terugslae in soveel besonderheid te moes herleef, was moeilik.

Die titel van Uys se boek is ironies, omdat “ongeskonde” per definisie wys op iets of iemand wat ongedeerd is. Uys verduidelik:

“Dit gaan daaroor dat die wêreld my dalk fisiek as gebroke sien, maar emosioneel en geestelik het ek soveel deur hierdie proses gegroei en ek sal dit vir niks verruil nie.

“Dit maak nie saak wat in die lewe nie gebeur, solank jou lewe in die Here gegrond is – en dit is waar ek my vesting gevind het – kan niks jou aanraak of breek nie.”

Uys het in ʼn spreekwoordelike sin gekies op te staan en steeds voluit te lewe. Hy sê die ongeluk het hom kans gegee om dinge te doen wat hy nooit voorheen sou gedink het hy kan doen nie.

Hy is deesdae ʼn gestremde atleet en neem onder meer aan driekamp deel. In 2019 het hy die eerste paraplegiese atleet geword wat ʼn Ironman-kompetisie in minder as sewe uur voltooi het, en op 11 Desember 2020 was hy die eerste parapleeg wat die koue waters van Robbeneiland na Bloubergstrand aangedurf het.

Uys se lewensverhaal is ook in ʼn dokumentêre rolprent omskep wat eersdaags op die kassie te sien sal wees.

  • Alwyn Uys het in ʼn onderhoud met Maroela Media oor sy geloofsreis, uitdagings in die lewe en sy boek, Ongeskonde, gesels. Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud.
  • Ongeskonde het pas by Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskyn. Klik hier om die boek aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.