Luister: Poppie Viool vermurwe harte

Op die agtersitplek van ʼn vreemde, luukse motor sit die 12-jarige Poppie Viljoen met Oupa se viooltas op haar skoot. Sy is saam met oom Frank en tannie Gwen van die welsyn op pad na die Swartwoud Kinderhuis.

Die viool is al wat sy oorhet nadat haar oupa onlangs dood is, en asof die groot onbekende van ʼn nuwe huis nie vreesaanjaend genoeg is nie, probeer Lusapho Gaba, “ʼn lang seun met ʼn boggel en oë wat lyk of hulle geskrik en toe so bly staan het” (bl. 6), haar bangmaak met allerhande stories oor die kinderhuis. Oor spinnekoppe wat so groot soos katte is en oor die mensvreter-arende wat kinders vang …

Wanneer Poppie een aand aan professor Mancini, ʼn pratende portret en musiekonderwyser, voorgestel word, besef sy dat haar viool baie spesiaal is. Die musiek van haar viool het die krag om hierdie gevreesde mensvreter-arende se harte te verander sodat hulle uiteindelik weer mense word.

In ʼn poging om haar roeping te vervul, is daar natuurlik ook ʼn paar hindernisse wat Poppie moet oorkom. Veral haar eie vrese en die feit dat sy ʼn jong meisie is wat teen iets veel groter en sterker as sy te staan kom.

Jan Vermeulen (Foto: Verskaf)

Dit is in ʼn neutedop waaroor die bekroonde skrywer Jan Vermeulen se jongste jeugverhaal, Poppie Viool en die Swartwoud-arende, gaan.

Vermeulen het in ʼn onderhoud met Maroela Media meer vertel oor Poppie se karakter en hoe hy deur haar storie lesers wil aanmoedig om hulle talente ten goede te gebruik.

Hy verwys na ʼn les in die verhaal waar die onderwyser vir Poppie-hulle demonstreer hoe ʼn dinamo op ʼn fiets gebruik kan word om lig op te wek. Die onderwyser verduidelik dat ʼn dinamo latente energie het wat deur middel van natuurlike krag, in dié geval ʼn mens wat die fiets trap, opgewek word.

“Poppie besef sy is soos ʼn dinamo met latente energie en dat sy as’t ware die vermoë het om die omgewing en wêreld rondom haar te verander,” sê Vermeulen.

“Die dieper liggende boodskap is dat daar in elkeen van ons ook so ʼn dinamo is. Ek en jy het latente energie wat ons kan gebruik om ʼn verskil te maak. Ons moet net eers die moed kry om in beweging te kom om ons talente te gebruik.”

Oor die gevreesde mens-arende in Poppie Viool en die Swartwoud-arende verklap Vermeulen dat die herinnering aan ʼn swart-en-wit rillerrolprent wat hy as sewejarige gekyk het, gelei het tot die ontwikkeling van dié karakters.

“Tydens die beplanningsfase van ʼn nuwe jeugverhaal het ek begin dink aan iets wat nie heeltemal skrikwekkend is nie, maar wat tog ʼn bangmaak-effek sal hê,” sê Vermeulen.

In sy soektogte het hy op inligting oor die Harpy-arend afgekom. Volgens Vermeulen se navorsing is dit op die oomblik een van die grootste arende ter wêreld wat besig is om uit te sterf.

“Die bedreiging van die Harpy-arende het my toe laat dink aan Poppie en dat sy met haar viool iets kan probeer doen om die uitwissing van mens-arende te help keer.”

Vermeulen het onderskeidelik in 2015 en 2017 Lapa Uitgewers se jeugromankompetisie met Asem en Oopmond gewen, en in 2019 die naaswenner met Baster. Hy het al verskeie Sanlampryse verower, asook die MER-prys, die Scheepersprys en ʼn ATKV-Kinderboektoekenning. Vermeulen is onder meer bekend vir sy volwasse fiksie en veral krimis.

Vermeulen sê dat daar tans ʼn paar skryfprojekte is wat hom besig hou, onder meer misdaadfiksie en volwasse fiksie, asook ʼn jeugverhaal wat eersdaags by Luca, ʼn druknaam van Lapa Uitgewers, verskyn.

Hoewel dit nog net ʼn gedagte is, het Vermeulen reeds planne vir ʼn tweede Poppie Viljoen-verhaal. “Ek wonder of daar nie nog ʼn storie oor Poppie te skryf is nie, maar dalk net in ʼn ander omgewing of omstandighede,” sê hy ter afsluiting.

  • Jan Vermeulen het in ʼn onderhoud met Maroela Media gesels oor Poppie Viljoen se verhaal, waar sy idee van mens-arende vandaan kom en waaraan hy tans werk.
  • Klik hier om Poppie Viool en die Swartwoud-arende aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.