Luister: Sê só nee vir peuselhappies

Argieffoto (Foto: Glenn Carstens-Peters/Unsplash)

Om tydens die feesseisoen te probeer gesond eet of met jou eetgewoontes vol te hou, kan om die minste te sê, ʼn tameletjie wees. Veral as jy saam met vriende of familie vakansie hou en kos een van die vreugdes van jul samesyn is.

Sê jy dalk vir die soveelste keer nee wanneer ʼn bord met peuselhappies die ronde doen of wys jy die nagereg van die hand, dan word daar éérs gefrons.

Bernadine Douglas, ʼn voedingsterapeut van Kaapstad en skrywer van Your 12-Week Body and Mind Transformation, sê hoewel dit belangrik is om duidelike grense te stel, is dit ook heeltemal normaal om nou en dan toe te gee.

“ʼn Mens word baie keer oorweldig deur mense wat jou probeer forseer om goed te eet wat jy nie wil eet nie. Daarom is dit belangrik om die grenslyne baie duidelik te trek en dit as riglyn in sulke situasies te gebruik.”

Douglas sê verder dat mense wat met ʼn leefstylverandering begin ook nuwe standaarde stel. Dit is belangrik om daarby te hou, dit uit te leef en kos wat nie by hierdie raamwerk inpas nie, van die hand te wys.

“Ons moet leer om vir mense nee te sê. Begin deur te sê dat jy ʼn eetprogram vir ʼn gesonder leefstyl volg en dat daar sekere goed is wat jy nie gaan eet nie. As dit nie werk nie, sê net vir mense dat jy nie honger is nie,” sê sy.

Dit is nie eers nodig om vir iemand te sê dat jy op ʼn dieet is nie. “Dit maak die deur oop vir ʼn gesprek wat kon gebly het. Hou jouself eerder eenkant of raak net besig, want dan is die fokus op iets anders as kos.”

Peuselhappies is egter nie heeltemal taboe nie, trouens, dit is heeltemal normaal om dan en wan lus te wees vir iets soets. Douglas se raad is om waaksaam te wees wanneer jy probeer om gesonder te leef of gewig te verloor deur laekoolhidraat-eetgoed te kies.

“Ek sê altyd vir my kliënte dat nagereg ʼn bederf is, en nie ʼn beloning nie. ʼn Mens moet ook realisties wees en besef dat dit normaal is om nou en dan lus te raak vir soetgoed. Solank jy net waaksaam is oor watter peuselhappies jy kies.”

Met haar selfhelpgids neem Douglas lesers op ʼn gesondheidsreis van 12 weke. Elke week het ʼn gesonde, voedsame en smaaklike maaltydplan wat laag in suiker is, vinnig en maklik is om voor te berei, en wat die hele gesin saam kan geniet. Verder is daar inkopielyste met uitruilopsies, oefeninge wat maklik tuis gedoen kan word, en skakels na aanlyn video-demonstrasies.

  • Your 12-Week Body and Mind Transformation het by Penguin Random House verskyn. Dit kos R190 (prys onderworpe aan verandering) en lesers kan hier klik om die boek aan te skaf.
  • Maroela Media het in ʼn onderhoud met Douglas oor haar jongste gesondheidsboek, getiteld Your 12-Week Body and Mind Transformation, gesels. Luister bo-aan die berig na die volledige onderhoud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.