Luister: Stories so in Ilze se kraal

Ilze Nieuwoudt saam haar kinders, Andreas (7) en Amelie (11). Hier is hulle soos hulle gunstelingkarakters uit storieboeke aangetrek: Andreas as Peter Rabbit en Amelie as Liewe Heksie. (Foto: Verskaf)

Ilze Nieuwoudt, publikasiebestuurder by Kraal Uitgewers en ma van twee, meen sy is nie skaam daaroor om te erken dat sy eintlik ʼn “groot nerd” is nie.

Dié borrelende donkerkop het joernalistiek by die Universiteit van Pretoria studeer en werk al sowat 15 jaar in die mediabedryf. Sy was voorheen ʼn joernalis en mediaskakelbeampte en is sedert 2012 by Kraal Uitgewers betrokke.

Nieuwoudt het onlangs ʼn draai in Maroela Media se ateljee gemaak om oor haar jongste boek Prinsessie en Boekeman en Kraal Uitgewers se kinderboekafdeling te gesels.

“Ek kom uit ʼn gesin uit waar ons van kleins af boeke verslind het,” vertel sy. “Ek het die mooiste herinneringe van hoe ons as kinders die biblioteek besoek het. Hoewel dit nie die mooiste en fênsieste biblioteek was nie, het ons elke liewe boek, van Saartjie tot Trompie, daar gelees. My ouers het dit nogal aangemoedig.”

Prinsessie en Boekeman is Nieuwoudt se eerste kinderboek en die derde een wat by Kraal Kleinspan verskyn.

Dit vertel die verhaal van Prinsessie wat dikwels tussen die bladsye van haar boeke wegkruip en waar die karakters haar enigste ware maats is. As die storms woed, bou sy ʼn boekefort om haar teen die storms én die lewe te beskerm. Eers lees klein Prinsessie oor Wolraad Woltemade, Racheltjie de Beer en dan ander rare karakters uit feëverhale.

Later droom Prinsessie van prinse op perde uit ver, ver lande. Uiteindelik gaan sy self op reis en vind die een ding waarvan sy nooit kon droom nie – ʼn boekeman.

Die kern van die verhaal is dat die wêreld van ʼn leser baie eensaam kan raak en daarom is dit belangrik om jou met mense te omring saam met wie jy die vreugde van stories kan ervaar, sê Nieuwoudt.

“In ʼn boekewêreld kan jy jou maklik in die storie en karakters verdiep, maar om in die werklike lewe nog steeds vriende te hê met wie jy dit kan deel, is amper vir my die meer verrykende wêreld van boeke.”

Hierdie samesyn is iets wat sy van kleins af in haar gesinslewe beleef het. “Ek en my sussies veral, en my pa, het boeke wat ons saam-saam lees en stories wat ons agterna die heeltyd net met mekaar wil deel.

“Die wonderlike ding van boeke is om dit met ander te deel. Dit is eintlik maar wat ek met Prinsessie en Boekeman by mense wil tuisbring.”

Die verhaal het spontaan ontwikkel, vertel Nieuwoudt. Sommerso in die nag, wanneer daar die dag iets gebeur het wat haar pla, trek sy haar foon nader en skryf dan los gedagtes in die vorm van gedigte neer.

“Ek skryf dit vir myself en ek noem dit gediggies, want dit is nie hogere letterkunde nie. Maar dit is uiteindelik hoe die boek tot stand gekom het. Ek het ook maar een aand in my bed gelê en net  begin skryf.”

Prinsessie en Boekeman kos R140 (prys onderworpe aan verandering) en is aanlyn op Kraal Uitgewers se webwerf beskikbaar. Klik hier om die boek aan te skaf.

  • Luister bo aan die artikel na die volledige onderhoud met Ilze Nieuwoudt. Sy het onlangs ʼn draai in Maroela Media se ateljee gemaak om oor haar jongste boek Prinsessie en Boekeman en Kraal Uitgewers se kinderboekafdeling te gesels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.