Luister: Susan Coetzer deel pittige lewenslesse in nuwe boek


Susan Coetzer. Foto: Facebook via Susan Coetzer

Susan Coetzer. Foto: Facebook via Susan Coetzer

Die veelbekroonde skrywer en aktrise Susan Coetzer het vroeër vandeesweek haar splinternuwe boek, Mamma het ʼn breek nodig, bekendgestel. Coetzer vertel dié boek is ʼn samestelling van al haar gewildste stories wat as rubrieke oor die jare in tydskrifte verskyn het.

Die skrywer het gedurende die bekendstelling by die Barnyard Teater in Pretoria gesê verskeie lesse in haar lewe het haar genoop om tot stilstand te kom en na te dink oor haar lewe. “Ek vertel in die boek onder meer van lekker tye, soos wanneer my jongste oorsee gaan, en lesse wat ek by ʼn vyfjarige leer,” het sy verduidelik. “Ek vertel egter ook dat ʼn ma partykeer mag stilstaan en haarself tyd gun.”

Eie aan die skrywer kan aanhangers verwag om ʼn mengelmoes van stories te lees in Mamma het ʼn breek nodig. “Party is vrolike stories, en ander sal jou laat huil. Dis ʼn real slice of life, maar daar is ook altyd ʼn morele les wat jou laat glo in iets groters en beters.”

Haar stories het ook ʼn groot teenwoordigheid van God. “Ek hou nooit daarvan om iets van buitekant aan te plak nie,” het sy gesê. “In my lewensreis het ek uit my eie lesse geleer en op iets groters as mense staatgemaak. As ek terugkyk op my lewe het ek ook die goue draad van God probeer deurgee, omdat dit werklik is waaroor dit gaan.”

Sy sê haar stories vertel net genoeg van haar eie lewe om te verseker dat sy deursigtig en eg is. “Omdat ek in die kollig inbeweeg het, het ek geweet mense kan grawe. Daar is egter niks meer om weg te steek nie. Ek gebruik my lesse om ander te leer. Ek sal my jeans laat uithang maar nie my onderklere nie,” het sy geskerts.

Mamma het ʼn breek nodig is beskikbaar op die Voelgoedwinkel of kan op haar Facebook-blad bestel word.

Lees meer Mamma het ʼn breek nodig op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.