Luister: Talle vrae steeds onbeantwoord ná Stella-moorde

Xander Bylsma in die hof in Februarie 2019. Skuins agter hom sit Rianette Engelbrecht, Marna se ma. (Foto: Mia Spies/eNuus)

Die Stella-koshuismoorde in 2018 het skokgolwe deur die land gestuur. Xander Bylsma is intussen tot twee keer lewenslank gevonnis vir die moord op sy voormalige vriendin, Sharnelle Hough, en dié se boesemvriendin, Marna Engelbrecht.

Susan Cilliers, skrywer van Die Stella-moorde, het met Maroela Media gesels oor die trauma van Stella se boeregemeenskap, vrae wat ná die hofsaak onbeantwoord gebly het en haar gesprekke met Xander en die slagoffers se gesinne.

Hier volg ʼn uittreksel uit Die Stella-moorde deur Susan Cilliers:

 Die seun wat oorleef het

13 Mei 1999

Kimberley[1]

Xander aanskou die eerste lewenslig twee maande te vroeg. Met sy geboorte op sewe maande is hy piepklein en word hy na die neonatale waakeenheid gehaas.

Mercia is gedurende haar swangerskap aangeraai om die fetus te laat aborteer omdat sy Duitse masels opgedoen het. Sy was kort-kort in die hospitaal weens komplikasies, wat eindelik ook tot Xander se premature geboorte gelei het. Al was dié babatjie nie beplan nie, wil sy tot elke prys hê hy moet leef. Sy het tevore verskeie babas weens miskrame verloor. Dis haar en Monté se eerste lewende baba sedert hulle in 1995 getroud is. Hul harte loop oor toe hulle die bondeltjie mens eindelik kan huis toe neem.

Xander is nie ʼn maklike kind nie. Dit word gou duidelik hy is erg hiperaktief. Later word hy ’n baie besige kleuter, slaap min en word nie gou moeg nie. Xander is omtrent agt jaar oud toe sy ouers weens, onder meer, geldelike probleme skei. Die seuntjie sukkel om hierby aan te pas en bly hoop sy ouers sal versoen raak. Hy woon tot sy graaddriejaar by sy ma en grootouers aan moederskant op Hartswater in die Noord-Kaap voordat hy in graad vier by Monté op sy plaas gaan woon.

Xander bring sy laerskooljare in skole op onderskeidelik Jan Kempdorp in die Noord-Kaap en Vryburg in Noordwes deur. In graad agt gaan hy na die Stella Gekombineerde Skool wat ʼn laer- en hoërskool insluit. Gedurende die week is hy in die koshuis, maar naweke bring hy by Mercia of Monté deur.

Hy sukkel om nuwe verhoudings in die lewens van sy ouers te aanvaar. En die verhouding tussen Xander en Monté raak strammer toe hy in 2015 met Saret trou en sy by hulle op die plaas kom woon.

Xander is steeds woedend oor die feit dat sy ouers geskei is. Hy ervaar gevoelens van hulpeloosheid. Hy het ʼn moeilike temperament en word nie maklik getroos wanneer hy ontsteld is nie. As enigste kind is hy jaloers op sy besittings. Hy word beskryf as pynlik netjies en perfeksionisties, maar dat hy terselfdertyd nie van struktuur en roetine hou nie.

Hy sê reguit wat hy dink en huiwer nie om sy man te staan nie. Xander is lief vir diere en geniet dit om tyd in die buitelug deur te bring. Hoewel hy oënskynlik gewild is by die skool en aktief aan sport deelneem, verkies hy stokperdjies wat hy alleen kan beoefen soos hengel en jag.

Gedurende sy skooljare neem sy ouers hom vir sielkundige hulp, maar hy staak dit voortydig omdat hy sukkel om emosioneel openhartig teenoor die sielkundiges te wees. Xander gebruik ook ʼn ruk lank Ritalin, maar dit akkordeer nie met hom nie. Hy hou op om dit te gebruik op doktersaanbeveling en maak nou eerder op kruiemiddels staat, onder meer sodat hy beter kan slaap. Intussen presteer hy akademies bevredigend, maar die feit dat hy nie getrou huiswerk doen en studeer nie, is ʼn bron van konflik tussen veral hom en Monté. Xander sit soms ook met sy onderwysers vas weens sy “hardkoppigheid”.

Op twaalfjarige ouderdom word Xander in 2011 van vandalisme by sy skool beskuldig. Hy ontken dat hy betrokke was. Later word hy weens ʼn onverwante voorval tydens ʼn tugverhoor by die Stella Gekombineerde Skool skuldig bevind aan boeliegedrag en aanranding. In Mei van sy matriekjaar in 2017 word Xander in nóg ʼn tugverhoor skuldig bevind dat hy drank in sy besit gehad het. Gevolglik word hy uit die skoolkoshuis geskors.[2] Xander se ouers glo egter die drank wat Xander in die koshuis weggesteek het, was nie syne nie.

Oor sy voorkoms is die skraalgeboude tienerseun effe selfbewus en daarom vermy hy dit om kortbroeke te dra.

September 2017

Xander weet presies hoe sy meisie, Sharnelle, se rok moet lyk wanneer sy aan sy sy gaan wees by sy matriekafskeid: ʼn skouerlose donkerblou rok wat tot op haar voete hang en eenvoudig gesny is om haar fyn kurwes te vlei.

Xander en Sharnelle is baie opgewonde oor die groot dag op 26 September. Hy en Mercia beplan alles saam. Sy gaan ook die rok wat Xander wil hê, laat maak – al het Sharnelle en Sonja eintlik reeds vir haar ʼn rok gekoop. Vir Mercia is dit amper so spesiaal soos om vir ʼn bruid reg te maak. Sy wil haar seun help om sy meisie te bederf. Sy moet so pragtig lyk en voel soos wat sy werklik is, dink Mercia.

Sy en Xander beplan saam die juwele wat Lallie by die rok moet dra. Hoewel Xander eintlik glad nie wil hê Lallie moet grimering dra nie, oortuig Mercia hom dis gepas vir die geleentheid. Xander se ouma sorg weer vir lekkerruikroom en parfuum. Die dag van die afskeid bederf Mercia vir Sharnelle met ʼn grimeersessie en skuimbad by haar woonstel. Sharnelle neem ʼn slukkie van die botteltjie vonkelwyn wat Mercia op hierdie spesiale dag oopgemaak het.

Toe die voordeurklokkie lui, is Sharnelle gereed. Sy lyk soos ʼn prinses in die vlootblou rok met silwer patrone, silwer skoene en fyn juwele. Haar lang blonde hare hang los en golwend oor haar kaal rug. Xander gee vir haar ʼn bos pers-en-geel veldblomme wat hy vroeër die dag gaan pluk het. Hy lyk aantreklik in sy kakiekleurige broek en blou baadjie wat Sharnelle se blou rok en oë komplementeer.

Die twee tieners klim saam in Monté se dubbelkajuitbakkie en ry na die Hoërskool Stella waar hulle die einde van Xander se hoërskoolloopbaan gaan vier.

Desember 2017

Op agttien staan Xander op die drumpel van sy grootmenslewe. Hy het pas matriek geslaag en geniet Kerstyd op die plaas van sy oupa aan moederskant, John Tapuch. Hy en Mercia, wat speels na hom verwys as haar “Worsman”, sit saam langs die viswaters. “Ma jaag die visse weg!” raas hy wanneer Mercia te hard na sy sin praat. Xander is ernstig langs die viswaters. Hy duld geen musiek of geraas nie. Nogtans geniet Mercia en Xander dit om saam te hengel.

Hy neem foto’s en poseer vir die kamera. Mercia roei hul bootjie terwyl Xander se stok in die water lê. “Worsman, my arms word seer,” kla Mercia so nou en dan. Dis vir haar lekker om te sien hoe haar seun die buitelug geniet. Hy hou daarvan om gras onder sy voete en die Kalahari-sand tussen sy tone te voel.

Januarie 2018

Xander verdien R4 000 per maand as bestuurder op sy pa se plaas. Die jong boer gaan kuier ook gereeld by Sharnelle op Stella. Net nadat hulle maande gelede begin uitgaan het, het hy ʼn lang WhatsApp-boodskap aan Sharnelle se ma, Sonja, gestuur waarin hy beloof om haar te beskerm en mooi na haar te kyk.

Sonja is beïndruk met die beleefde jong man wat altyd gewillig is om te help met takies.

Monté gee sy seun ruimte om sy jongmenslewe te geniet. Hy beskou hom as ʼn grootmens en laat hom kom en gaan soos hy wil. Mense in die kontrei beskryf Xander as vriendelik en goedgemanierd. Terselfdertyd is daar egter ʼn skadu wat Xander bly volg: ʼn reputasie van skielike uitbarstings van woede, “sy ander kant”.

Hy gaan kuier gereeld vir Sharnelle op die plaas waar sy en haar gesin woon. In die kombuis is hy behulpsaam en hy vra Anna beleef of hy met ditjies en datjies kan help.

Daar is egter iets wat soos die spreekwoordelike klippie in ʼn skoen bly pla en karring aan Xander se gemoed: Marna kan hom nie verdra nie. Hy is maar net te bewus daarvan dat die verhouding tussen hom en Sharnelle nie Marna se goedkeuring wegdra nie.

Xander Bylsma omhels sy ma ná sy skuldigbevinding aan die Stella-moorde. (Argieffoto: Maroela Media)

Maart 2018

Die verhouding tussen Xander en Sharnelle begin uitrafel. Haar vriende en familie word mettertyd bewus hiervan. Wanneer Sharnelle en Xander naweke en vakansietye by Sonja op Koster kuier, merk Sonja op haar Lallie met wie sy nog altyd ʼn hegte verhouding gehad het, is nie meer so spontaan en vrymoedig teenoor haar as tevore nie. Sharnelle bespreek ook nie met haar ma die besonderhede van die oënskynlike probleme in haar verhouding met Xander nie.

Sonja druk haar nie; sy besef haar enigste dogter is iemand wat altyd eerder die vrede probeer bewaar.

Vroeg in Mei is die verhouding tot niet nadat Ronnie en Xander in ʼn selfoongesprek ooreenkom dis dalk beter dat Xander en Sharnelle se paaie skei.

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Lapa Uitgewers, ʼn druknaam van Penguin Random House, verskaf.

  • Luister boaan die uittreksel na ʼn onderhoud met Susan Cilliers, skrywer van Die Stella-moorde. Sy gesels met Maroela Media oor die trauma van Stella se boeregemeenskap, vrae wat ná die hofsaak onbeantwoord gebly het en haar gesprekke met Xander en die slagoffers se gesinne.

[1] Die inligting oor Xander se vroeë kinderjare en skooljare kom uit onderskeidelik ʼn sielkundige verslag wat tydens sy borgtogverhoor in Desember 2018 ingedien is en ʼn maatskaplike verslag wat in 2020 tydens sy verhoor ingedien is. Dit word volledig in die bronnelys aangedui.

[2] Portia Pedinyane, maatskaplike werker, het in haar verslag geskryf Xander is permanent uit die skool geskors weens die drankvoorval. Dit is egter verkeerd. Hy is in der waarheid nie uit die skool nie, maar uit die koshuis geskors. Hy het steeds matriek aan die Hoërskool Stella voltooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Janine ·

Walglik soos die moorde was, kry ek steeds hierdie kind (Xander) OOK jammer. So ook almal geraak deur hierdie absolute tragedie. :(

melaney ·

Dit is ongelukkig so. Party mense leer eers ‘n les nadat hulle goed aangejaag het. Hopelik sal dit beter met Xander gaan die dag as hy vrygelaat word.

Anoniem ·

Hoofstroom gevangenis is nie altyd die oplossing nie. Sal moet teruggaan na die oudae waar “Geestes gesondheids gevangenisse” geopen word waar gevangenisse met geestesongesteldhede
geplaas word. Hul ontwikkel gewoonlik net groter probleme in die hoofstroom gevangenisse.

Johanna ·

Geen normale mens pleeg moord nie .
Trauma en/of Emosionele verwerping, oorbeskerming, geen boundaries en stuktuur wat wankel, by ma doen ek so en by pa doen ek anders is baie verwarrend vir kinders. En foute wat altyd geregverdig word ipv erken word is ALLES n stoompot wat een of ander gaan ontplof.
Ma/Pa, n kind mag nie net altyd sê “ek is jammer” nie. Daar is gevolge vir Dade. Jammer gaan nooit daardie 2 dogters vir hulle families terug gee nie. En feit is, julle kan julle seun gaan besoek in die Gevangenis, daardie families sal nooit ooit weer hulle kinders op hierdie aarde sien loop nie.
Ek voel baie jammer vir die 2 dogters se ouers, dit moet bitter swaar vir hulle wees.
Vir die seun se ouers will ek sê, sterkte. Julle het nog tyd om iets wat verkeerd was reg te stel en daaraan te werk.
Moet asb nie julle seun aanhoudend SPOIL in die Gevangenis nie. Hy is daar om n les te leer, wat hy baie lank terug reeds moes geleer het..

Anoniem ·

Ek kry beide gesinne/families uit my hart uit jammer.
Dit is nie maklik om ‘n kind met ‘n afwyking/te kort koming in vandag se lewe so normaal moontlik groot te maak nie. Van oral is daar kritiek. Fasiliteite is nie beskikbaar waar spesifieke geestegesondehieds gevalle afsonderlik behandel en reabiliteer kan word nie. Die groepsdruk en kulture speel ook vandag ‘n groot rol met die emosionele stryd waarin ‘n individu vasgevang is. Medikasie word voorgeskryf wanneer ‘n Sielkundige/Psigiater gespreek word. Opname en waarneming word nie meer deeglik gedoen nie, daar is nie fasiliteite beskikbaar nie. Goed dit gaan beter met die persoon so die medikasie moet help, is die siening. Ek het ‘n dierbare vriendin verloor as gevolg van ‘n Psigiater wat elke keer net meer en meer medikasie voorgeskryf het as sy hom besoek het. Die oorsaak/oorsprong van die probleem word nie gesoek nie.
Met haar dood het dit aan die lig gekom dat dit breingewasse was. Hartseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.