[Luister] Tobi Jooste oor sy boek én nuwe DVD

Tobi Jooste (Foto: Maroela Media)

Tobi Jooste (Foto: Maroela Media)

Die sanger, akteur en skrywer, Tobi Jooste, het onlangs in die Maroela Media-ateljee kom kuier om te gesels oor sy tweede boek, Daar is ʼn Eiffeltoring in sy boedel en oor die herdenking van sy tien jaar in die musiekbedryf.

Dié boek, wat twee jaar gelede vrygestel is, is reeds in sy tweede druk, aangesien dit verlede jaar landwyd uitverkoop het. Tobi vertel die boek word ook as voorgeskrewe boek in skole oorweeg.

“Ek sê altyd vir almal dié boek is my baba. Die storie gaan kortliks oor ʼn oupa wat op sy sterfbed lê. Sy kleinseun het ʼn gejaagde lewe geleef en toe hy besef sy oupa gaan sterf, het hy by sy oupa se sterfbed gaan sit om by hom te leer en sy kennis te bekom,” het hy vertel.

Tobi vertel die boek het ook vele lesse om lesers te leer. Dit is veral die universele boodskap wat lesers gaan raak. “Dit gaan oor die lewe en dit gaan oor lesse. Liefde is liefde en haat is haat. Die oupa het behoorlik sy tyd gebruik om die kind te leer. Die groot les is egter dat die antwoorde gaan kom wanneer jy reg is om die antwoord op iets te ontvang.”

Hy vertel die titel van die boek is geïnspireer deur ʼn koerantopskrif wat hy ʼn paar jaar gelede op ʼn lamppaal raakgelees het. “Ek het gesukkel met ʼn titel. Ek het eendag van die vliegtuig afgeklim en op pad huis toe was daar ʼn opskrif ‘daar’s ʼn seekoei in my swembad’. Dit het my bygebly. In die storie laat die oupa iets na wat onkoopbaar is en met my navorsing het ek gesien die Eiffeltoring staan op die duurste grond en dat dit ook onkoopbaar is. Vandaar die Eiffeltoring in sy boedel.”

Die sanger vier ook vanjaar tien jaar in die musiekbedryf met ʼn splinternuwe DVD, Die katedraal. Dié DVD bevat geestelike musiek.

“Ek het besluit vir my herdenking in die musiekbedryf gaan ek ʼn DVD uitgee met musiek wat ek wil sing. Ek wou dit al lankal doen. Ek is baie lief vir reis en my reise het my al na baie katedrale, veral in Europa, geneem en vandaar die naam.

“Ek het een jaar in Wene in ʼn katedraal gaan staan en sing. Ek was besig om “Amazing grace” te sing, toe ʼn straatmusikant, wat voor die deur sit en bedel het, skielik sy viool begin speel. Ek sê altyd dit is die hoogtepunt van my musiekloopbaan. Toe die liedjie klaar was, het ek my hand uitgesteek en ons kon nie ʼn gemeenskaplike taal kry nie. Toe ek eindelik die DVD saamstel, wou ek hê dit moes daardie boodskap oordra,” het hy bygevoeg.

Vir meer inligting, besoek Tobi se Facebook-blad of webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.