Luister & video: Kreatiewe denke is die toekoms van rugby


Kreatiewe-Rugby-Kobus-Neethling-en-Naas-Botha

Kobus Neethling en Naas Botha praat oor kreatiwiteit in rugby. Foto: Verskaf.

Dit word deesdae al hoe moeiliker om sterker, vinniger en fikser as jou teenstander op die rugbyveld te wees. Jy sal iets ekstra in die spel moet sit en hom moet klop met dit wat tussen jou ore sit.

Dít is die mening van die internasionale kreatiwiteitskenner, dr. Kobus Neethling, en oud-Springbokspeler, Naas Botha. Die manne het kragte saamgesnoer en ʼn boek geskryf oor kreatiewe rugby, wat as hulpmiddel kan dien vir rugbyspelers van alle ouderdomme, afrigters en die ouers van kinders wat graag die spel speel.

Die boek, Kreatiewe Rugby, wat deur Carpe Diem Media uitgegee word, is Woensdag by die Protea Hotel in Midrand bekendgestel. Esté Meyer Jansen het die geleentheid bygewoon en ‘n podsending hieroor saamgestel.

Dr. Kobus en Naas is albei eens dat daar op alle vlakke van rugby, maar veral op skoolvlak, te veel op struktuur gekonsentreer word en dat die wedstrydplan teen alle koste gevolg moet word.

“Talent gaan verlore wanneer afrigters nie hulle eie afrigtingsmetode volgens ʼn breinprofiel verstaan nie,” het Botha gesê. “As die afrigter dit verstaan, kan hy die talent in sy span beskerm. ʼn Wedstrydplan moet die wegspringplek wees, maar daar moet genoeg ruimte gelaat word vir spelers om kreatief te wees. Spelers moet die situasie kan speel.”

Kobus meen mense is maar eintlik net bang vir die onbekende en dit is hoekom hulle kreatiwiteit vrees. Volgens hom is daar sekere breinprofiele wat beter in seker rugbyposisies aard, maar deur rugby kreatief met ʼn heelbrein te benader kan elke speler beter in sy posisie in die span funksioneer en die span se kreatiwiteit kan tot uitmuntendheid verhoog word. “Alle mense is kreatief en kreatiwiteit kan aangeleer word, dis kennis waarsonder ons nie meer kan klaarkom nie,” het hy gesê.

  • Kreatiewe Rugby word uitgegee deur Carpe Diem Media en kan aanlyn by voelgoedwinkel.co.za bestel word.

Die insetsel is deur eNuus vervaardig. Kyk eNuus elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.