Luister: Vrou vertel oor 40 jaar saam met ʼn narsis

Ilse Verster, skrywer van ‘So lyk ʼn vrou…’ (Foto: Verskaf)

Ná 40 jaar saam met ʼn narsis het Ilse Verster daarin geslaag om haarself uit dié hel op aarde te red.

Verster het haar lewensverhaal in Só lyk ʼn vrou… vasgepen en hiermee hoop sy om ander persone, spesifiek vroue, wat hulleself in soortgelyke omstandighede bevind, te help.

In ʼn onderhoud met Maroela Media vertel Verster meer oor haar heelwording, hoe om die gevaarligte van gesinsgeweld raak te sien en waarom dit belangrik is om so verhouding te beëindig.

Lees hier ʼn uittreksel uit Só lyk ʼn vrou wat pas by Lapa Uitgewers verskyn het.

Ons droomhuis is gebou. Vier maande later besluit Bart die tyd is reg, hy wil nou ʼn kind hê. Ek wil eerder ʼn eetkamerstel en meubels vir die ander kamers koop; ons het my salaris nodig, kap ek teë, maar verniet. Dieselfde aand spoel hy my voorbehoedpille in die toilet af. Ek is nog te jonk om ʼn kind te hê, ek wil nog ons huis mooi maak en die land saam met Bart verken. Bart snork rustig terwyl ek in die donker wroeg.

“Weet jy dat jy swanger is?” vra ʼn vriendin ʼn paar maande later. Ons dryf in die getypoel by Cintsa-Wes waar ons vakansie hou.

“Wat bedoel jy, hoe…”

“Kyk net af na jou borste.” Ek kyk na my borste maar sien niks snaaks nie. “Dis die are, kyk hoe dik en donkerblou is hulle.” Sowaar. Ons gaan koop ʼn tuisswangerskaptoets. Vyfuur die volgende oggend doen ons die toets. Ons beplan ʼn sjampanjeontbyt later die oggend; dis Bart se verjaarsdag. Dis met ʼn breë bors dat hy hulle almal inlig dat ek nie mag sjampanje drink nie, ek is swanger.

Ek vra Bart om die nuus stil te hou. Ek wil self my ma vertel. Daar is in elk geval net een telefoonhokkie in die kamp en hy is meer stukkend as heel.

Terug by die huis besoek ek ons huisdokter voor ek my ma bel om te reël dat ons die volgende naweek gaan kuier. “Is daar nie iets wat jy my moet vertel nie, Esli?” vra Ma met ʼn tikkie beskuldiging in haar stem.

“Nee, wat bedoel Ma?”

“Ons het ʼn voëltjie hoor fluit dat jy swanger is.”

“Waar hoor Ma dit?”

“Jou skoonma. Sy het ons op Bart se verjaarsdag al gebel om te vertel.”

Ek word koud. Ek weet nie watter emosie voorloop nie: woede, hartseer of magteloosheid. Ek het beplan hoe ek blomme en sjampanje sal vat, die oomblik met my mense deel. Sy ma het my dit ontneem.

“Jy is ondankbaar, Esli, ek het jou ʼn verleentheid gespaar. Mens sou hoop dat jy nou al beter maniere sou hê. Ek het jou net beskerm,” trap Maria my oor die telefoon uit toe ek haar bel. “Jou ma sou woedend wees as sy dit eers twee weke later hoor. Ek het gedink jy het meer respek vir haar as om haar in die duister te hou. Stilbly is net so goed as lieg.” Ek gaap soos ʼn vis op droë grond. Ek het verwag dat sy verskoning sou maak, dat sy so opgewonde was dat sy haarself nie kon keer nie, maar nee, sy pak die skuld op my. En sy is nog nie klaar nie.

“Jy is hopeloos te jonk, jy sal vinnig moet grootword as jy ʼn ma wil wees. Jou selfsugtigheid en eiesinnigheid sal moet end kry, anders kry ek daardie kind jammer. Nog ʼn ding: julle bring nie julle kinders vir my om op te pas nie. Ek het klaar kinders grootgemaak.”

Dit voel of die bloed by my voete uitloop. Geen gelukwensing, net ʼn kop-was. “My ma sal nooit so iets sê nie,” verdedig Bart haar toe ek hom vertel. “Bel haar en vra haar self.”

“Jy moet my ma verskriklik haat om sulke leuens oor haar op te maak. Sy kla reeds dat jy nie vriendelik genoeg met haar is nie. Ek gaan nie nou aan haar bewys sy is reg nie. Jy gaan haar hulp nodig hê as die baba eers gebore is. Dis nie asof jou dierbare mammie, wat die nuus heel eerste moes hoor, hier gaan wees om jou touwys te maak nie. Terwyl jy so gretig is om jou ma eerste te vertel, onthou dat sy jou hier in Pretoria gelos het toe sy agter die Hollander aan Nelspruit toe is. Net soos jou dierbare pappa is sy nie gepla oor jou nie,” gaan hy smalend voort. “My ma was nog net goed vir jou, jy beter jou seëninge begin tel. Glo my, my ou vroutjie, jy wil nie ʼn vyand van my ma maak nie.”

Die nag lê ek met my hand op my buik waar ons kind besig is om te groei. Hoe gaan ek ʼn goeie ma vir die klein lewetjie wees? Doeke aansit, baba bad en winde uitvryf is nie vreemd vir my nie. Ek was vyftien toe Wian gebore is. Dit was soos popspeel vir my en Nira. Ek was so opgewonde oor ons baba. Nou voel ek nie opgewasse vir die taak nie?

Ek is spyt Ma bly so ver. En om te sê dat sy nie vir my omgee nie! Ma het nog altyd haar hande vir ons afbaklei. Bart verwag dat ek van sy ma se hulp en raad gebruik gaan maak terwyl sy reguit vir my sê sy wil nie betrokke wees nie. Ek het gewéét ek is nog te jonk. Maar Bart was nie bereid om te wag nie.

Gedagtes in die nag word vrese sonder einde. Teen die oggend is ek gedaan. Toe ek regop kom, tref die eerste oggendnaarheid my. Ek maak dit net-net badkamer toe. Bart wil hom doodlag. “Ja-nee, jy is definitief swanger,” laat hy selfvoldaan hoor voor hy sy ma bel om die nuutste verwikkeling oor te dra. En ʼn klomp ouvrouraad van Maria te kry.

Bart voel baie sterk oor ons privaatheid. Hy sorg dat hy by is as ek my ma bel. Ek kan ook nie by die werk persoonlike sake oor die telefoon met haar bespreek nie. Maar Ma het lankal deur Maria gesien. Sy reël my babatee by my tante se huis, sonder om Skoonma daarby te betrek. Sy kry slegs ʼn  uitnodiging deur die pos.

  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met Ilse Verster oor haar boek, So lyk ʼn vrou…
  • So lyk ʼn vrou… word deur Lapa Uitgewers uitgegee. Klik hier om die boek aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hannelie ·

O hel PASOP vir daai tipe skoonma!!! Hulle veroorsaak meer seer as enige iets anders.
Ek kry jou so jammer, jy moes hom 40 jaar terug gelos het. Sterkte vorentoe. Ek dink ek gaan beslis jou boek koop en lees.

antieke antie ·

hierdie kon my storie wees…. net myne hou al baie langer aan …. en sy was die goeie ouma …. en die vergiftiging van my kinders was baie subtiel dat ek soos die aggressor lyk en hy die slagoffer …

Sandra ·

Ek kon gelukkig na 18 maande uit so ‘n huwelik kom, danksy ondersteuning van my familie. Kon wegbreek met my baba van 3 maande. Nou, 45 jaar later besef ek hoe gelukkig ek was om betyds te breek.

Wielspore ·

My dogter het na 9 jaar saam ‘n narsis hom gelos, die twee seuns uit die huwelik het van geboorte af onder die skerp tong en swaar hande van hom deurgeloop. Te danke aan die oplettentheid van ‘n kleuterskoof hoof en my dogter se werk kollegas is sy oortuig om uit die lewe van hel te klim. My hart het stil gaan staan die dag toe die kleurskool hoof my (Oupa) bel en sê dat die 6 maande seuntjie vanoggend by die skool afgelaai is en dit lyk of sy neus gebreek is. Die narsis se verskoning was dat hy teen die klein tafeltjie geval het nadat die kind oor sy voete gestruikel het. Op 6 maande kan die gemiddelde kind nog nie loop. Die laaste strooi was toe hy my dogter met die vuis op die oog geslaan het nadat sy wou huis toe gaan na ‘n kuier by familie. Hy was gedrink en dit was tyd vir die kinders om te gaan eet, bad en slaap. Die narsis wou nog kuier saam sy pelle. Dit was vir my as ouer ‘n voorreg om 700 km deur die nag te ry om my kind uit die kloue van die narsis te gaan red.

Janine ·

Ek is sommer in trane! Mag jou lewe vorentoe net vol geluk en seëninge wees.

Perdeby ·

Ek het nou 7 mnde vir so n person gewerk en vanoggend besluit en bedank en loop ook sommer dadelik. Niemand Kan enige iets reg doen nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.