Luister: Wincklers wil hê huwelike moet floreer

Die glanspaartjie Heinz en Aletté-Johanni Winckler, het onlangs in ʼn onderhoud met Maroela Media oor hul jongste boek, Kom ons praat oor die huwelik, gesels. In dié boek word geloofsbeginsels met hulle 15 jaar huwelikservaring verweef met die doel om ander paartjies vanuit ʼn Christelike perspektief te ondersteun.

“Ons het ʼn baie sterk passie wat jy net kan beskryf as iets wat God in ons harte geplant het – om te sien dat huwelike goed doen, en nie net oorleef nie, maar floreer,” sê Heinz.

Hy en Aletté het al verskeie huwelikseminare aangebied. Tydens die Covid-19-pandemie het hulle ook twee aanlyn seminare aangebied wat deur sowat 1 000 paartjies bygewoon is. Ná die sukses hiervan het Lux Verbi die Winckler-egpaar genader met ʼn versoek om ʼn boek oor hulle huweliksprogramme te skryf.

Kom ons praat oor die huwelik sluit besprekings in oor Bybelse grondslae wat in plek moet wees, hoe om van emosionele bagasie ontslae te raak en hoe om te kommunikeer. Die egpaar skryf ook oor intimiteit, finansies, skoonfamilie en vele ander aspekte waarmee getroude paartjies in hul daaglikse lewe moet omgaan.

Volgens Heinz word hierdie onderwerpe deurgaans met geloofsbeginsels in verband gebring. “Dit gaan oor beginsels, maar ons weet ook dat daar uitsonderings en mense met spesifieke omstandighede is. Die boek is nie daar om hierdie uitsonderings en uitdagings af te maak nie.

“In so boek is dit egter onmoontlik om elke liewe scenario in detail te behandel. My en Aletté se raad en advies kom uit ons eie ervaring wat op Christelike beginsels en die woord van God gegrond is.”

Wanneer hulle gepols word oor raad vir paartjies wat aan die begin van hierdie huwelikspad staan, antwoord Heinz: “Iemand het een keer gesê: ‘As mense die helfte van die moeite wat hulle in die troudag insit ook in hulle huwelik insit, sal huwelike baie anders lyk’.

“Dit is so waar, want die harde werk is hoofsaaklik om elke dag op te staan, en van voor af te kies om jouself neer te lê, jou kruis op te tel, vir Jesus te volg en jou vrou (of man) uit daardie plek lief te hê.”

  • Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met Heinz en Aletté-Johanni Winckler. Die Wincklers het met Maroela Media oor die huwelik en hulle jongste boek, Kom ons praat oor die huwelik, gesels.
  • Klik hier om Heinz en Aletté Winckler se boek Kom ons praat oor die huwelik aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Ek koop eerder n boek oor die ANC se struggle as hierdie boek.

Wilhelm ·

Haha! Ek stem, sal eerder ‘n telefoon boek lees, en gelukkig voel my vrou dieselfde.

johan ·

Die geskiedenis wys dat hierdie pare wat so graag ander wil leer oor huwelike dikwels self met probleme opeindig…

Estelle ·

Ek stem, Andre. As jy n “glanspaartjie” is, is jy skielik n huweliksberader en pastoor ook … Hou maar verby, ek gebruik eerder my ouma en oupa se huwelik as riglyn

Bella ·

hoe is dit dat “sommige” lesers so verskriklik negatief is oor iets goed. ook ALTY lus om te kerm en kritiek te lewer. ek love die winklers se hart vir die huwelik.

Miskruier ·

Stem nogal saam, almal werk aan die perfekte troudag maar hoeveel ouers staan terug as hul merk daar is probleme in hul kinders se huwelike.

Susan ·

Respek vir mekaar, en goeie kommunikasie is die sleutel tot sukses van ons huwelik van 38 jaar, jy het nie nodig om boeke te lees daaroor nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.