Lukrake vrae aan Carina Stander

Carina Stander (Foto: Verskaf)

Die bekroonde Afrikaanse digter, kunstenaar en skrywer, Carina Stander, het onlangs haar jongste boek – ʼn roman – vrygestel. Die Bergengel het in Mei vanjaar die lig gesien tydens ʼn solokunsuitstalling by die Tina Skukan-galery in Pretoria met die kunstenaar se eie werke.

Dié roman is ’n mistieke en allegoriese fantasieverhaal van grootword en groei wat tot volwasse sowel as jong volwasse lesers sal spreek.

Stander is verder veral bekend vir werke soos Die vloedbos sal weer vlieg (2006) en Wildvreemd (2011).

Adéle Changuion het ʼn paar lukrake vrae aan dié skrywer gestel.

Stander se skets van haarself (Foto: Verskaf)

Jy woon nou al byna ‘n dekade in die Tsitsikamma – het jy al ooit die woud ingevaar om ʼn bietjie te skryf?
Gits, beslis! In ‘n sekere sin vaar ek elke dag die woud in om te skryf, selfs al sit ek in die kombuis of in die bed met my skootrekenaar – of miskien vaar die woud my in?! Ons woon hier binne-in die Tsitsikamma Nasionale Park met blouape op ons dak, bosbokke in die agtertuin, Knysna-loeries wat bessies vreet en vuurvliegies op windstil aande in die lente. In ons omgewing het ek die sesdag-Tsitsikamma-staproete en die vyfdag-Otter-wandelpad met ‘n notaboek en pen kafgedraf vir die skryf van reisartikels. Maar selfs al het ’n mens nie skryfgoed byderhand nie, is jy steeds ‘n skrywer. Jy versamel die heeltyd indrukke, jy aas oral met jou ore en oë. Ons gesin stap elke week ‘n paar keer deur die woud, oor die berg of kuslangs. Een van die sinne in Die Bergengel het tydens só ‘n woudstap ontstaan toe ek vir my seun gesê het: “’n Voorloper kry die meeste spinnerakke, maar die mooiste uitsigte van almal.”

Wat is die vreemdste ding wat jy al gedoen het om jou te help skryf?
Terwyl ek my eerstelingroman, Wildvreemd, geskryf het, het ek gewonder hoe Jan Alleman my hoofkarakter sou ervaar. Eendag het ek in ‘n plattelandse kroegie tussen ‘n groep hardebaarde gaan sit wat ek van g’n kant af geken het nie. Ek het hulle gevra of hulle die heuningboer wat net buite die dorp woon al gesien het – sy dra ‘n rooi kopdoek, lyk Portugees en is blykbaar stom. Ek het lank aan my Appletiser geteug, so nugter soos dagbreek, gefokus op my navorsing, terwyl die manne my uitgevra het en ek haar vir hulle beskryf het asof sy werklik is. Hoe meer gekletter hulle geraak het, hoe meer oortuig was die klomp dat hulle my storieboekkarakter sowaar as wragtig al gewaar het! Een het selfs by sy pêl gespog: “Wil jy vir my sê jy’t nog nie vir Honey gesien nie?! Jy sal dit nie vergeet nie – sy is flippen mooi!” Honey, die naam wat hulle vir haar gegee het, was later een van die byname wat ek in die boek vir die heuningboer gebruik het.

Vir die skryf van Die Bergengel het ek ‘n ander werkwyse ontwikkel. Nadat ek ‘n dosyn vakkundige boeke vir navorsing gelees het, wou ek terugkeer na die verbeeldingsveld, die ruimte waar stories gebore word. Ek het musiek opgesit, myself geblinddoek en die tonele in die boek getik asof dit ‘n fliek is wat voor my afspeel. Ek is opgelei as visuele kunstenaar, daarom was dit vir my nodig om die prentjies in my kop helderder te sén. Ek het geluister na Rachamaninov, na “Simphony of Sorrowful Songs” van Górecki (daardie lieflike Poolse klaagliedere) en na Beethoven se “Maanligsonate” terwyl ek sekere nagtonele geskryf het. Ek het ook na die klankbane van heelwat films soos The Piano en Amélie geluister. En by herhaling na Ludovico Einaudi se klaviermusiek. Daarna was daar natuurlik nog baie ure van herskrywery sonder die blinddoek, maar van die belangrikste oomblikke in Die Bergengel het uit donkerte gespruit.

Die omslag van ‘Die Bergengel’ (Foto: Verslag)

Jy het ʼn graad verwerf in Beeldende Kuns. In watter genre ‘spesialiseer’ jy?
Ek het my honneursgraad in beeldhou by Tuks behaal. Daarna het ek ‘n paar jaar vir beeldhouers in Cambridge en die Skotse Hoogland gewerk. In daardie jare het ek meestal gesweis, brons gegiet, graniet geslyp en hout gebeitel. Maar vandat ek kinders het, fokus ek op inksketse. Ink is ‘n onmiddellike, blitsvinnige medium wat ideaal is vir ‘n ma van twee jong seuns! Ink is bekostigbaar, ook vir die kunskoper. Dit is egter veral die verrassingselement van ink wat my verlei. Die toevallighede. Die vrye vloei; die spontaniteit; die proses van wording en beweging. Konseptueel pas inksketse ook mooi aan by skryfwerk.

Watter dier beskryf jou persoonlikheid die beste?
Soms is ek ‘n regte eekhoring (ek is mal oor neute en boomklim). Of ‘n windswaeltjie, die reisiger. Maar meer waarskynlik is ek ‘n wolf. Hulle sorg vir hul families – vir die welpies en die grysaards. Al verbeel mense hulle dat wolwe mak gemaak kan word, het hulle ‘n onuitwisbare soort wildheid.

Jy het al vreeslik baie gereis. Watter plekke het die grootste indruk op jou gemaak?
Die Peruviaanse Amasone en Andesberge. Die Skotse Hoogland waar ek ses maande gewoon het. Om te snorkel in Hawaii, Mosambiek en Zanzibar. Die Okavango Delta van Botswana. Ek is lief vir al die bergreekse van Suid-Afrika, maar die Tsitsikamma het my hart gesteel.

Carina Stander (Foto: Verskaf)

Jou twee seuns is nog jonk, maar wanneer die tyd kom dat hulle moet begin vlerksleep, watter raad sal jy vir hulle gee?
Jip, die seuns is skaars nege en ses jaar oud. Hulle was nog nie verlief nie, maar ons gesels dikwels oor verhoudings. Gerrit se gunstelingboereraat aan ons seuns is: “Meisies is soos katte. Julle weet mos wat gebeur as julle vir Avontier en Mooiloop (die seuns se katte) probeer vasdruk? Hulle hol net weg! Eendag moet julle net mooi rustig bly en ‘n meisie laat glo sy het die vryheid om jou te kies.”

As die tyd ryp is, sal ek eerder vir my seuns vrae vra as om hulle raad te gee. My eerste vraag sal wees: “Wanneer jy en sy stokhoringoud is, wanneer skoonheid en seks en sukses alles nietig word, sal julle dan nog met mekaar kan gesels en saam stil wees?” En die tweede vraag: “Wil jy ‘n dogter soos sy hê?” Dié vraag het niks met kinders kry te doen nie, dit gaan oor karakteranalise. Want wie wil tog ‘n dogter hê wat selfsugtig of kil is, iemand in wie se liefde en lojaliteit jy twyfel? As die antwoord “ja” is, as hy dink dit moet baie spesiaal wees om só ‘n dogter te hê, dan weet hy dis iets baie besonders. Ek weet, want dis die twee vrae wat ek myself afgevra het voordat ek sewentien jaar gelede my hart vir Gerrit gegee het.

Watter raad het jy vir jong skrywers?
Wat skryf in die algemeen betref: Glo in jou eie stem, oefen jou stem en laat dit helder hoor. Jy moet jou eie stem ontwikkel met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dis die grootste skryfgebod.

Die Bergengel is tans op Exclusive Books se Homebru-lys. Lesers kan dus dubbelpunte by Exclusives verdien as hulle die boek in Junie aanskaf. Vanaf Julie sal dit ook landswyd beskikbaar wees by ander boekwinkels soos Bargain Books, Graffiti Boeke en Protea Boekhuis.

Vir meer inligting, besoek Carina Stander se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae