‘n Uittreksel uit Byleveld: Dossier van ‘n baasspeurder

Lyke op die water

“Wat maak julle nou?” vra die jongman verskrik toe sy twee vriende hom onverwags oorrompel, vasbind en in die kar bondel. By die Bruma-meer parkeer hulle. Dis die dooie ure van die nag. Die man stoei terwyl hulle hom uit die kar lig, wal toe dra. Die water is diep en swart. Hy is vreesbevange. Hy weet wat wag.

Die twee swaai die liggaam wyd oor die water, laat los. Die plonsslag verbreek die nagstilte. Hulle kyk rond of iemand hulle gesien het, stap dan doodluiters terug kar toe, klim in en ry weg. In die donker water van die meer trek die bakstene wat aan die man vasgebind is, sy liggaam stadig af bodem toe. Hy spartel tevergeefs. Sy longe brand.
Waaraan sou hy gedink het net voor hy sy bewussyn verloor het? Sy grootworddorpie, duisende kilometers weg in die savanne van Afrika? Sy pa se gesig, sy ma se sagtheid? Of was daar net paniek, die wete dat sy familie tevergeefs op hom sou wag…

Toe word alles, vir laas, vir hom donker.

Dis nou hoe jy van ’n f*kop ’n feature maak,” sê Piet Byleveld elke keer glimlaggend as hy verby Bruma-meer in die ooste van Johannesburg ry…

… Deur die jare het mense die meer ook as ’n klandestiene stortings- terrein gebruik. Van tuinvullis en valstande tot ou wasmasjiene het daarin beland. Van riool tot riool, kan ’n mens maar sê. Maar in 2000 het iets anders in die meer beland. Lyke. Toe ’n derde liggaam vroeg in Januarie 2001 opgeblaas in die warm somerson daar ronddryf, het kommissaris Perimal Naidoo genoeg gehad. Hoekom maak sy manne nie vordering nie? Twee restaurante en ’n haarsalon het al toegemaak sedert die eerste lyk nege maande vroeër op die troebel water gedryf het. Dink jou in: jy sit nog ewe lekker en eet aan jou steak in die buitelug-eetplek, dan dobber ’n lyk hier langs jou verby.

Alles het op nog ’n reeksmoordenaar gedui. Kry dus die reeks- moordspesialis. Naidoo bel vir Piet Byl met die opdrag: neem die saak oor, los dit op, en vinnig…

… “Die slagoffers was swart mans, almal in kortbroeke. Hulle voete was aan mekaar vasgebind, sommige steeds met klippe aan toue om die liggame te laat sink. Dit was duidelik moorde. Reeksmoorde.” Die vraag op almal se lippe was: hoeveel lyke lê dalk op die Bruma- meer se bodem? Piet besluit toe om die meer te laat leeg loop, met advokaat Gerrit Roberts se instemming. “Maak léég,” sê hy vir Piet. Dit was ’n aanvegbare besluit, want ’n leë, stinkende meer kon die hele omgewing negatief raak, en die winkels nog verder benadeel. Maar Piet laat hom nie van stryk bring nie.

Dit neem twee dae vir al die water om uit te loop. Anglo American, die eienaar van die sakekompleks, se base is briesend. Die stadsraad is ewe ontstoke. Die hele omgewing stink so dat g’n mens dit kan uithou nie, en Piet se professionele geloofwaardigheid is op die spel. “Al wat nié kwaad was nie, was die voëls wat feesgevier het tussen al die dooie visse,” sê Piet.

Hy begin lag en vertel hoe ’n advokaat hom gebel en gesmeek het om asseblief, noudat die meer leeg is, sy verloofde se ring op die bodem te probeer opspoor. “Hulle het ’n rusie gehad en toe smyt sy die ring in die water.” Polisiemanne met rubberstewels en honde is die slymerige gemors ingestuur om na lyke te soek. Hulle kry toe meubelstukke, super- marktrollies, bottels en bierblikke. En hope dooie vis.

Maar nie een lyk nie. En g’n ring nie…

… Op 8 Februarie 2001 kry Piet ’n oproep van die Germiston- polisiestasie. Twee mans is by Rhodespark in Kensington, nie ver van Bruma nie, in hegtenis geneem vir die onwettige besit van twee vuurwapens. Hulle is albei van Hillbrow, die 22-jarige Themba Nkosi en die 35-jarige Simon Majola. Iets aan die twee se profiel gee Piet snuf in die neus. Hou die verdagtes net daar, laat weet hy, hy is op pad. “Toe ek daar aankom, toe’s die twee kliphardegat. Die jonger een, Nkosi, was aangetrek volgens die nuutste modes; dit het gelyk of hy dink sy arrestasie is ’n groot grap. Majola was baie stiller; ek dink hy’t goed geweet sy turf sit. ‘Ek vat julle deur Brixton toe,’ sê ek toe vir hulle. ‘En julle moet maar solank ’n bietjie dink.’”

Die twee het goed geweet wie Piet Byleveld is. En waaroor hulle moes dink. Hulle is in aparte voertuie Brixton toe. Nog voor hulle daar aan- kom, begin die frisgeboude Nkosi se lippe bewe. Daar werk die ou formule toe weer: die Byleveld-plus-Brixton vreesresep.

Piet laat hulle in afsonderlike kantore sit. Nkosi huil eers en toe praat hy. Hy vertel nie net van die drie moorde by Bruma nie, maar sommer ook van voorvalle by Rhodespark waar hulle mense geroof het, van ’n moord daar op ’n Baptistepastoor op 15 Mei 2000 en van ’n huisroof waar hulle sommer hulle vriend ook doodgemaak het. “Hy was duidelik die leier van die twee, die brein agter die moorde, wreder en slimmer as Majola. “Later konfronteer ek Majola en sê Nkosi het alles gebieg, hy blameer jou, hy sê jy’t die moorde gepleeg. So jy beter nou die hele storie vertel. Hy vertel toe alles. Die lyke in Bruma-meer was vriende wat te veel geweet het en toe stilgemaak moes word. Hulle gaan wys toe vir Piet die tonele uit, asook ander moorde in Rhodespark waarvan hy nie eens geweet het nie.

Dit was eintlik ’n verspot maklike saak, maar Piet weet alte goed geen saak is verby voor die regter se hamer geslaan het nie. Dinge kon nog skeefloop in die hof. Hulle kon maklik weggekom het; daar was geen ooggetuies nie, net die bekentenisse wat hulle gemaak het. “Onthou, hulle was net gevang vir onwettige besit van ’n vuur- wapen, geen ander aanklagte nie.”…

… Koponderstebo, met sy pet in sy hand geklem, het Majola gehoor hoe hy agt lewenslange vonnisse plus nog 422 jaar tronkstraf opgelê word. Hy was getroud, met twee kinders, maar hy het reeds vroeg in sy lewe gekies om ’n misdadiger te wees en het nooit enige berou getoon nie, het regter Labuschagne gesê. Nkosi het sy vyf lewenslange vonnisse plus nog 253 jaar tronk- straf met ’n luide vloekwoord begroet.

Uittreksel geneem uit Byleveld: Dossier van ʼn baasspeurder deur Hanlie Retief (2011), gepubliseer deur Umuzi, ʼn uitgewershuis onder die vleuel van Random House Struik

Lees meer hier oor Byleveld: Dossier van ‘n baasspeurder

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.