Maak só meer tyd vir lees

Argieffoto (Foto: Lilly Rum/Unsplash)

Dit is nog nie te laat om vanjaar ʼn leesuitdaging te aanvaar nie. As jy slim kies kan jy ook 52 boeke dié jaar lees.

Maroela Media het ʼn paar bronne geraadpleeg oor hoe jy meer tyd kan inruim om te lees, slimmer boeke te kan kies en boek te hou van jou vordering.

Stel daaglikse leesdoelwitte

Die belangrikste is om van die begin af realistiese doelwitte te stel en ʼn gewoonte daarvan te maak om te lees. Een manier is om te sorg dat jy elke dag ʼn bietjie lees – al is dit net 15 minute voor slaaptyd. Jou leesdoelwitte moet haalbaar wees, want anders gaan jy ontmoedig word en dalk nie verder wil aangaan nie.

Sodra jy ʼn daaglikse leesgewoonte geskep het, kan jy stadigaan meer tyd daaraan bestee om te lees.

Prioritiseer jou leestyd

Beplan vooraf watter tyd van die dag jou die beste gaan pas om te lees en hou daarby. Ons moet daagliks verskeie balle in die lug hou: van vergaderings en gesinsverpligtinge tot inkopies en ander take. Beskou jou leestyd as ʼn belangrike afspraak wat jy met jouself maak.

Party mense staan maklik vroeg op en sal dan in die oggend wil lees, terwyl ander mense dit weer sien as ʼn manier om aan die einde van die dag te ontspan. Dit is ook sinvol om aktiwiteite te identifiseer wat jou tyd mors en wanneer jy eerder kan lees, soos byvoorbeeld om saans minder televisie te kyk of ure op sosiale media rond te kyk.

Begin met eenvoudiger boeke

Dit is dalk ʼn goeie idee om met boeke te begin wat ʼn eenvoudige storielyn het en wat jy vinnig sal klaar lees. Op hierdie manier bly jou belangstelling in boeke geprikkel en jy sal gemotiveerd wees om aan te hou lees.

Hou altyd ʼn boek byderhand

Moenie die huis sonder ʼn boek verlaat nie. Pak een in jou handsak of skaf ʼn e-leser aan wat nie te veel plek opneem of te swaar is nie. Jy kan vinnig ʼn paar bladsye lees terwyl jy in ʼn ry staan, vroeg is vir ʼn afspraak of vir jou koffie of middagete by ʼn restaurant wag. Dit is verstommend hoe groot verskil daardie onverwagse tye in jou leesvordering maak.

Begin ʼn boekjoernaal

Boekjoernale is ʼn goeie manier om met jou leesdoelwitte tred te hou en te sien hoe jy vorder. As jy dus die soort leser is wat deur ʼn afmerklysie gemotiveer word, dan is ʼn boekjoernaal iets om te oorweeg. Dit kan ook ʼn plek wees waar jy jou indrukke van boeke, graderings, of oorwegings vir toekomstige leesstof kan neerskryf.

Neem aan ʼn leesuitdaging deel

Leesuitdagings is gedeelde doelwitte vir ʼn gemeenskap van lesers oor ʼn bepaalde tyd. Hierdie doelwitte wissel van leser tot leser en kan deur enige van die volgende riglyne bepaal word:

  • aantal boeke wat teen ʼn sekere tyd gelees moet word;
  • hoe gereeld jy lees;
  • boeke volgens bepaalde temas;
  • spesifieke genres of soorte boeke wat jy lees.

Jy kan ook by ʼn boekklub in jou omgewing aansluit. Die boekklub of leeskring se tempo mag dalk van joune verskil en julle gaan waarskynlik nie 52 boeke in ʼn jaar lees nie, maar ten minste kry jy dan die geleentheid om oor boeke te gesels. Dit is ook ʼn gulde geleentheid om aan verskillende genres en skrywers blootgestel te word.

Lees verskeie boeke op ʼn slag

ʼn Verskeidenheid soorte boeke stel jou in staat om by die situasie aan te pas en jou tyd optimaal te benut. Hou dus twee of drie boeke byderhand: ʼn e-boek vir wanneer jy reis of weg van die huis af is, ʼn boek vir wanneer jy by die huis is, een op jou bedkassie en ʼn oudioboek waarna jy in die motor kan luister.

Wissel ook tussen verskillende genres. Soms gaan jy net jou skoene wil uitskop en ontspan en in daardie oomblikke sal ʼn lighartige verhaal soos ʼn roman beter by jou gemoed pas.

Bronne: The 52 Book Club, LinkedIn, Medium

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

AmY ·

Ek doen hierdie al vir baie jare. Het in 2018 begin boek hou van al die boeke wat ek lees. In 2019 het ek 60 boeke gelees.
Op die oomblik lees ek sommer twee boeke gelyk. Deur die dag lekker stroperige Afrikaanse romanse en met bedtyd (op my foon) murder mysteries van die New York Times skrywers wat ek sommer gratis aflaai van die playstore boeke-toepassing.
Ek lees al Trompie en Saartjie van graad 3 af.
Dis ook sommer waar die skryfgogga my gebyt het.
Vyf van my kortverhale is al gepubliseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.