Maanschijnbaai: Nan en Jeannie

Chanette Paul

Dis die tweede boek in die Maanschijnbaai-tweeluik en vertel die storie van die vier wilde Calitz-vroue of -slette, soos die locals hulle noem, wat die eksentrieke Casper Calitz: pa, oupa en oupagrootjie, se erfgename is. Jo erf die liederlike kasarm van ‘n huis, Sue erf die pienk Cadillac, Jeannie erf sy boekery en Nan erf die esoteriese winkeltjie, genaamd Hiërofant. Hulle besluit om die huis te restoureer en haal daarmee die gramskap van die plaaslike gemeenskap op die hals.

Die tweeluik bevat drama, romanse, spanning, humor en sosiale kritiek. Die intrige draai om verhoudings op alle vlakke asook oor oordeel, vooroordeel, en die keuses wat mens maak.

Oor die outeur:
Chanette Paul word rond en bont groot. Haar eerste skryfsukses kom op sestien, naamlik ’n sprokie wat op Siembamba voorgelees is, en in haar universiteitsjare word ’n kortverhaal in Huisgenoot gepubliseer. Eers twintig jaar later, gee sy weer aandag aan haar skryfwerk. Sedertdien is ’n verskeidenheid verhale en humorartikels, en vier en dertig boeke gepubliseer. Benewens ’n MA-graad in Afrikaanse en Nederlandse Letterkunde (1988), verwerf sy ook in 2003 ’n MA-graad in Skeppende Skryfwerk onder leiding van prof. Etienne van Heerden. Vir haar debuutromanse ontvang sy Perskor se prys vir beste romantiese fiksie. In 1999 en 2006 is Wip van die droomvanger en Leila word lig onderskeidelik finaliste vir die ATKV-Prosaprys, en in 2010 is die derde Gys Niemand-boek, Boheem, finalis vir die ATKV se Woordveertjies in die spanningsromankategorie.

Met die eerste in die Gys Niemand-reeks, Springgety, betree Chanette die spanningsmark in alles erns en dit bring ’n waterskeiding in haar skryfwerk mee. Dis nie die eerste keer dat sy haar in ’n nuwe genre begewe nie, maar die skryf van spanningsromans was ’n ingrypende koersverandering. Chanette woon die afgelope paar jaar in die Overberg waar sy met allerlei storiedinge bedrywig is.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R195-00*
*Prys onderhewig aan verandering

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.