‘Maar wat kan Jesus ons van leierskap leer?’

man_stap_sonsondergang_stiltetyd.jpg

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Hier volg ʼn uittreksel uit Jesus-leierskap: Hoe om te lei in ’n veranderende wêreld deur Roelof Botha.

Die meeste mense sien Jesus heel moontlik as ʼn goeie leraar, messias, rabbi of profeet. Ek vermoed dat min mense Hom vandag as ʼn navolgenswaardige voorbeeld in leierskap beskou, ten minste in die moderne sin van die woord.

Watter redes sou daar kon wees – behalwe ons geloof in Hom – om Jesus as ʼn voorbeeld van leierskap in vandag se moderne konteks voor te hou? Die antwoord is relatief eenvoudig. Indien leierskap hoofsaaklik oor invloed gaan, en veral die invloed op groot groepe mense se denke en handelings op ʼn permanente basis, is Jesus waarlik ʼn merkwaardige voorbeeld. Wie in die geskiedenis het meer invloed as Jesus gehad? Iemand kan dalk reageer met voorstelle soos Mohammed of Siddhartha Gautama (Boeddha). Wel, miskien. Dit is egter my mening dat Jesus een van die doeltreffendste leiers is wat die geskiedenis al ooit opgelewer het.

Dit kan vandag steeds gesê word, selfs 2 000 jaar ná Jesus se lewe op aarde. Ek maak nie hierdie stelling bloot vanuit my persoonlike geloof in Jesus nie (alhoewel ek nie skaam is daaroor nie). Dink net aan wat Hy vermag het in slegs drie jaar se aktiewe werk op aarde. Jesus se bediening aan ʼn betreklik klein groepie eenvoudige mense het ontplof in ʼn kragtige beweging van geloof, hoop en liefde wat al 2 000 jaar lank aan die gang is en mense uit alle oorde inspireer.

Ons volg vandag die leierskapadvies van mense soos Tom Peters, Peter Drucker, Jack Welch, Mark Zuckerberg, Steve Jobs, Bill Gates, Mahatma Gandhi of Nelson Mandela.

Alhoewel hierdie mense aangrypende voorbeelde is en oor baie wysheid vir leiers beskik, heers sommige van hulle se invloed nog nie eens 50 jaar nie! Jesus se lewe, boodskap en invloed het egter die toets van tyd deurstaan.

Min mense besef hoe Jesus die morele landskap van die antieke wêreld verander het, veral in terme van ʼn liefdesetiek. Menslike gelykheid was ook nie ʼn waarde wat in die antieke tyd nagestreef is nie. Skrywers soos Plato het byvoorbeeld geglo dat daar in ʼn gesonde en normale samelewing verskillende sosio-ekonomiese klasse móét heers. Volgens hom was die aanvaarding van en onderskeid tussen rykes, slawe, die weermag of polisie dus uiters noodsaaklik. Daarbenewens het vroue ook uiters min regte gehad. In teenstelling hiermee het Jesus die gelykheid van alle mense verkondig.

Selfs teenstanders soos Nietzsche en moderne historiese geleerdes soos Francis Fukuyama erken Jesus se invloed in dié verband. Jesus het ook ʼn permanente invloed op die intellektuele en akademiese wêreld uitgeoefen, en Hy het groot paradigmaskuiwe in die godsdienstige, filosofiese en wetenskaplike arenas veroorsaak. Reeds in die eerste drie eeue is ʼn beduidende persentasie van die imponerende Griekse filosofieë vervang met geloof in Christus. In die jaar 350 nC was 56% van die destyds bekende wêreld Christelik. Dit het gebeur omdat die gemiddelde mens van daardie tyd die boodskap van Jesus se lewe, dood en opstanding beskou het as verhewe bo die ander heersende filosofieë.

Jesus se invloed is ongeëwenaar in die menslike geskiedenis. Deur die eeue heen het sy Gees Jesus se kragtige boodskap in mense voortgesit. Jesus skyn groter te wees as die onsekerhede waarmee ons elke dag saamleef. Sy boodskap het al tallose kultuurskuiwe in die samelewing oorleef! Sy boodskap het die ganse geskiedenis in ʼn nuwe rigting gestuur, so meen menige geleerde. Hoeveel te meer kan Hy nie ʼn invloed uitoefen op ons lewe vandag en in ons gemeentes nie! Vir ons is hierdie wêreld onbekend en bedreigend, maar nie vir Hom nie. Daarom maak dit sin om dieper na Jesus se leierskapstyl te kyk.

Hý is ons hoop!

Hoe het Jesus ʼn lewegewende kultuur geskep? In tye van krisis gaan mense altyd terug na hul hoofbronne, na hul mees kernagtige verhale en waardes. Wanneer dit goed gaan, is mense geneig om nie so intensief en aandagtig na hul eie tradisie te luister nie. Onwetend raak leiers verwyderd daarvan. Hier wil ek leiers dan terugneem na die evangelie self, meer spesifiek die Evangelie van Markus. Ons wil noukeurig oplet hoe Jesus sy dissipels gelei het en hoe Markus dit opgeskryf het. Ons wil sien en hoor en proe hoe Jesus dit gedoen het – en steeds doen – deur die voortgaande werking van sy Gees. Ons wil Jesus se doen en late volg en soos vlieë teen die muur sit en luister hoe Hy sy dissipels – die eerste kerk – gelei het, hoe Hy gepraat het, hoe Hy mense tot aksie aangespoor het, hoe Hy kritiek hanteer het, en waarin ons leiding kan gee in ons organisasies en gemeentes. Ons wil leer hoe dit gebeur het dat Jesus ʼn swanger kerkgemeenskap agtergelaat het, wat die wêreld verander het. Jesus het die skynbaar onmoontlike reggekry.

In die woorde van die Australiese aktivis en evangelis Alan Walker: “Let it never be forgotton that it is Christ we offer.” Vanweë die sentraliteit van die skep van kultuur, is die tegniek en toolbox van die leier nooit so belangrik soos die waardes nie. Tegniek skep nie kultuur nie. Die konsekwente uitleef van Jesus-waardes doen dit wel.

Ons sal nie kan aangaan soos vroeër nie. Die samelewing het verander. Die wêreld waarvoor ons as geestelike leiers opgelei is, bestaan nie meer nie. Ons sal baie dinge vars en splinternuut moet doen. Voordat ons egter by die doen uitkom, moet ons seker maak ons is nog getrou aan wat Jesus verwag. Daar is geen tekort aan boeke oor die tegnieke en vaardighede wat vir goeie leierskap nodig is nie, maar dalk moet ons eers weer gaan kyk wat Jesus verwag ons moet wéés voordat ons wonder oor presies hoe ons alles moet dóén.

Hy het sy identiteit as Messias gevind. Ons wil opnuut in sy voetspore volg deur die manier waarop ons self leiding kan gee in ons organisasies en gemeentes. Ons wil leer hoe dit gebeur het dat Jesus ʼn swanger kerkgemeenskap agtergelaat het, wat die wêreld verander het. Jesus het die skynbaar onmoontlike reggekry.

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Yolande

Amen