Madelein gryp die lewe ten spyte van beenkanker aan

Die skrywer Madelein Rust het met Maroela Media gesels. (Foto: Verskaf)

Vir baie mense is die nuus van terminale kanker en daarmee saam die verlies van een of beide borste, die einde van hul pad van hoop. Madelein Rust, spanningskrywer, het ses jaar gelede die nuus gekry dat sy beenkanker het. Sy het egter nie gaan lê nie; inteendeel. Madelein en haar gesin werk nou deur ’n “emmerskoplys” en haar nuutste – en negende – boek, 25 trappe na benede, het in Augustus by Penguin Random House verskyn, skryf Maryke Roberts.

Soos met enige navorsing voor jy iemand vir ’n onderhoud nader, begin ek by die geloofwaardigste bron: haar eie webwerf. Ek leer onder meer dat haar skrywersloopbaan afgeskop het toe een van haar kortverhale, Joy, in Bateleur Boeke se skolemarkbundel, In ’n neutedop, opgeneem is. Daarna het sy haar hand aan die skryf van romantiese kortverhale gewaag, en haar twee pogings in dié genre, Tango in die Kuberruim en Skarlakenvrou, verskyn toe in Huisgenoot. Een van haar ander kortverhale, Die dag toe oom Willem geval het, het kort daarna in Maskew Miller Longman se Literary Awards Edition skolemarkbundel, Sussie Veer is dood en ander verhale, verskyn.

Haar debuutroman, Die 13de kaart, verskyn in Julie 2014 en is kort daarna op Nielsen se internasionale topverkoperlys. Dit word vir ’n ATKV-Woordveertjietoekenning vir spanningsliteratuur benoem.

Haar tweede roman, Monstersaad, verskyn in Julie 2015, en oes groot lof van resensente sowel as lesers in. Ook dié boek verskyn op Nielsen se topverkoperlys. Sy dra dié boek op aan kankerlyers, onwetend dat sy maande na die boek verskyn sélf die pad gaan stap. Op Amazon word dit as haar gewildste boek aangedui en by elkeen van haar boeke is daar vier of 4,5 sterre, wat bevestig dat sy vinnig een van ons land se gewildste misdaadskrywers geword het.

In Julie 2016 verskyn Bloedlyn, ’n opvolg op Monstersaad. Die boek bevind hom tussen Graffiti Boeke en Exclusive Books se topverkopers binne die eerste week na sy verskyning.

Elkeen van haar daaropvolgende boeke – Moordhuis, Lam ter Slagting en Kanker Schmanker! – verskyn op die Nielsen topverkoperlys, met Moordhuis en Lam ter Slagting wat vir Woordveertjietoekennings benoem word.

Moeilik om te glo dat iemand wat slegs maar vir sewe jaar boeke laat verskyn al so ʼn groot deel van ons misdaadfiksie-genre geword het. Die biografie sluit af: “Madelein woon in Johannesburg saam met haar man, Jaun, haar seun, Nico en twee katte. Haar dogter, Tanya, is ’n wetenskaplike wat in Bloemfontein woon. As sy nie skryf nie, lewer Madelein motiveringspraatjies, verslind misdaadfiksie en historiese romans en beproef nuwe restaurante.”

Dit vertel egter nie van haar beenkanker waarvoor sy hormoononderdrukkers moet gebruik om die kanker te verlangsaam nie, want daar is geen kuur nie. Sy het egter dié kapsules gestaak ter wille van lewenskwaliteit bó duurte en neem nou net ’n driemaandelikse inspuiting.

Madelein-Rust

Madelein Rust het besluit kanker kan haar nie onderkry nie. (Foto: Facebook)

Die webwerf verklap ook nie dat sy – anders as wat jy sou dink – voltyds skryf nie. Madelein is ’n senior opleidingsbeampte wat na die opleidingsbehoeftes van twee besige afdelings in ʼn internasionale skoonheidsmaatskappy omsien.

Dis ook eers tydens ’n video-onderhoud met Trisa Hugo op Boekemakranka ’n jaar of wat terug wat Madelein vertel: “Ek is in Bloemfontein gebore en getoë en het regte aan Kovsies studeer. My gunstelingvakke was strafreg en Medicina forensis (mediese reg). Ek het van boewe gehou en wou van kleins af uitvind waarom hierdie ouens doen wat hulle doen. Dit het my egter nie gekeer om op te skop toe ek net vyf vakke oorgehad het om te voltooi nie. My bewysregdosent het vir ons gesê dat regte nie oor die ‘good guys’ versus die ‘bad guys’ gaan nie. Dit gaan oor die soek van skuiwergate om jou kliënt vrygespreek te kry, of die persoon nou skuldig is of nie.

“Ek kon my nie daarmee vereenselwig nie. Ek is gedurig op soek na ’n goeie uitkoms vir die ‘good guys’ en dis waaroor my boeke gaan: daardie ewigdurende geveg tussen lig en duisternis.”

Sy was lank ’n mediese skrywer sowel as opleidingsbestuurder én ma, en het begin om kortverhale te skryf. “Niks moord of doodslag nie, net gewone verhale vir tydskrifte. Op die rype ouderdom van 38 kondig ek aan dat ek bedryfsielkunde wil studeer en maak toe ses jaar later klaar. My gunstelingvak was abnormale sielkunde.”

In haar 40’s besluit sy “om ’n groot boek, ’n boek-boek te skryf” en Die 13de kaart word vrygestel.

In die onderhoud sê Trisa: “Daar is ’n sielkundige rypheid in haar karakters en sy is nou eers maar ses jaar op die literêre toneel, maar sy het vir hom gevat. Sy is op die Nielsen topverkoperlys met elke boek wat sy skryf.”

Madelein erken daar is altyd ietsie van haarself in elke boek wat sy skryf, en dat daar “amper Paaseiers oor Madelein in elke storie versteek is”.

Terug by die emmerskoplys. Dis tien dinge wat sy en haar gesin gaan saamdoen terwyl sy nog sterk genoeg is.

Sy glo natuurlik dat mense te laat in hul lewens met emmerskoplyste begin – “Kyk net wat het met my gebeur. ’n Mens moet leef asof elke dag jou laaste is” – sê sy; nie spyt oor enigiets in haar lewe nie. “Ek glo al die dom dinge wat ’n mens doen, leer jou iets en al die slegte ervarings slyp jou.”

Die tien goed op Madelein se emmerskoplys:

  1. Skryf ten minste nog drie boeke.
  2. Brei vir Tanya en Nico elkeen ’n kombers. (Nico se kombers is gebrei en Tanya s’n is amper klaar!)
  3. Gaan saam met Tanya, Nico en Jaun op ’n seevakansie.
  4. Duik saam met haaie.
  5. Kry ’n tatoe.
  6. Ry virtueel saam met Tanya en Nico perd.
  7. Doen virtueel saam met Tanya en Nico bungee jumping.
  8. Gaan saam met Jaun, Tanya en Nico op ’n bosvakansie naby ʼn waterval.
  9. Doen virtueel saam met Tanya en Nico tandem-valskermspring.
  10. Gaan stap nog een keer saam met olifante.

Sy vertel dat sy reeds saam met haaie geswem het, saam met Tanya, Nico en Jaun op ’n seevakansie was, ’n tatoe gekry het én virtueel saam met Tanya en Nico perdgery het.

“Ek weier om dinge van my lysie af te haal. Dit word bloot virtuele ervarings waar ek alles middellik deur my arme kinders beleef. Die voorwaarde is dat dit deur middel van foto en video moet voel asof ek dit saam met hulle gedoen het. Gelukkig is my kinders avontuurlustig.

Tanya, Madelein en Nico het ook tatoes gekry. (Foto: Verskaf)

“Die spesiaalste ervaring was, vreemd genoeg, die tatoe. My kinders het besluit hulle sal elkeen terselfdertyd ook ’n tatoe kry, maar omdat hierdie siekte van my ernstig is, moes daar iets van my in hul tatoes wees sodat hulle iets van my het wanneer die tyd aanbreek.

“Nico is ʼn sagteware programmeur en sy tatoe bestaan uit ʼn kode in my handskrif – syfers wat ‘ek is lief vir jou’ beteken en Tanya se tatoe is ʼn vlinder – my gunstelinginsek – met ʼn hartjie en soentjies in my handskrif. My tatoe sê ‘unbreakable’ – ʼn herinnering dat die mens se siel nie gebreek kan word tensy jy dit toelaat nie – vir daardie moeilike dae.”

Van sterk genoeg gepraat: Sy het staal in haar pype. In dieselfde jaar wat haar spanningsroman, Lam ter Slagting, verskyn, laat sien sy ook Kanker Schmanker die lig. ’n Eerlike en onsentimentele boek oor haar reis met kanker; hoe haar regterbors afgesit is, maar sy besluit het dat haar vroulikheid nie aan haar borste gekoppel is nie. “Ek is net soveel vrou as voor die operasie. My vroulikheid is in my kop, my hart en in daardie onmeetbare ding wat die siel genoem word,” verklaar sy.

Die opbrengs van die boekverkope is vir die eerste twee jaar ná vrystelling aan People Living With Cancer, ’n organisasie wat kankerlyers bystaan, geskenk.

Louise Viljoen skryf in haar resensie op hierdie webwerf dat sy die boek “heelhartig vir enigiemand wat met kanker gekonfronteer word aanbeveel, hetsy omdat jy of iemand na aan jou daarmee gediagnoseer is. Dis ’n verhaal wat jou aan die hart sal gryp en jou oë sal laat oopgaan.”

Madelein sê sy het aanvanklik die boek geskryf omdat sy kankerstryders en hul geliefdes wou help. “Ek wou raad deel oor die klein en groot dinge waarmee ʼn mens te doen kry wanneer jy teen kanker veg. Die siel-skoonmaak was onverwags. Die skryf van die boek was beslis ’n soort katarsis, maar dit was slegs ’n bonus.”

Die boek was uiters gewild. Sy vertel dat die meeste lesers sê dat hulle aanvanklik nie wou begin lees nie omdat die onderwerp te diep sny, maar toe hulle eers begin lees, kon hulle nie ophou nie. “Deur die bank sê lesers dat hulle net so hard gelag het as wat hulle gehuil het en dat hulle vol moed was toe hulle die boek neergesit het. Dit was presies die belewenis waarvoor ek gehoop het.”

Hommeltuigfoto van Tanya en Nico se perdrit op die strand. (Foto: Verskaf)

Kanker kom oor jou pad. Elkeen hanteer dit anders. Ek wonder wat haar verbaas het in haar eie reaksie en hantering van kanker. Sy vertel: “Laat ek dit nou maar erken: ek is ydel. Ek was verstom oor die manier waarop ek die mastektomie hanteer het. En die verlies van my hare. Kanker het my wintie gemaak. Met die hulp van bo het ek ʼn houding gehad van: ‘Goed, kanker – jy vat my hare, ek sit ’n lieflike pruik op. Jy vat my bors, ek gebruik ’n fabelagtige prostese. Dis asof ek dapperder geword het elke keer wat ek kanker op dié manier kon troef; meer hardekwas teenoor die siekte kon word.”

Sy kyk die gevreesde kanker in die oog; beteken dit haar grootste vrese is nou oorwin? “Ek moes leer om met Zacharia, my rolstoel, vrede te maak en ek moet nog leer hoe om te aanvaar dat ek nie meer die Grys Mamba, my Renault Laguna Coupe, kan bestuur nie. Vir kanker is ek glad nie bang nie. Al waarvoor ek bang is, is dat ek nader aan die einde nie meer waardigheid gaan hê nie. As mense vir my vra waarvoor hulle kan vra wanneer hulle vir my bid, vra ek altyd vir gebede dat ek alles wat saam met kanker kom met waardigheid sal kan hanteer, tot op die bitter einde.”

Haar besluit om die hormoonpille ter wille van lewensgehalte te staak, kon nie maklik gewees het nie. “Ek het individueel met my man en kinders oor die hormoononderdrukkers gesels en die besluit wat ek geneem het om dit te staak. Elkeen het vir my gesê hulle wil my graag vir so lank as moontlik by hulle hê, maar slegs as my lewenskwaliteit goed is. Sonder die addisionele onderdrukkers is ek verlos van depressie en erge gemoedskommelinge, wat insluit episodes van erge aggressie sowel as fisiese newe-effekte soos ontsettende droë vel en hare, haarverlies, verlies aan libido en verskriklike warm gloede. Ek is myself sonder die medikasie.”

Sy voel kanker elke minuut van die dag aan haar lyf. Madelein sê sy ly nou aan chroniese pyn vanweë die skade wat die tumor (sy noem hom Osama) in haar bekken en heup aangerig het.

Madelein en Jaun voor die duik. (Foto: Verskaf)

“Die pyn word met morfien beheer, wat ’n impak op my geheue en my vermoë om te konsentreer het. Die pyn perk ook my mobiliteit in en dis waarom ek langer afstande, soos in ’n inkopiesentrum, in ’n rolstoel moet aflê. In die huis stap ek sonder krukke, maar ek lyk soos een van die zombies in The Walking Dead. Ek maak net nie sulke aaklige geluide nie.”

Madelein is tans met tydelike ongeskiktheidsverlof. “Ek skryf wanneer Osama nie te seer is nie en wanneer die morfien my kop nie te dof maak nie, maar my gunstelingtyd is nog steeds soggens wanneer al die ander mense slaap. Vrye tyd is wanneer Tanya van Bloemfontein af ry om te kom kuier. Dis wanneer ons Netflix-reekse lê en kyk, saam speletjies op die tablet speel of nuwe restaurante saam met Nico en Jaun beproef.”

Met haar spanningsromans ontgin sy die donker kant van die mens se psige. Dit moet moeilik wees om in die donkertes te wroeg as jy boonop met jou eie sterflikheid worstel? “Gelukkig nie! My skryfwerk laat my van die werklikheid ontsnap. Dit voel gereeld vir my asof dit swaarder met my arme karakters as met my gaan,” vertel sy met ’n glimlag.

Sy het nou ’n gros misdaadstories op haar kerfstok. Ek pols haar om te hoor of een van daardie drie boeke op haar emmerskoplys dalk ligter gaan wees. “Dit sal vir my verskriklik lekker wees om ’n romantiese komedie te skryf, maar daar is net te veel misdaadstories wat in my kop rondwoel en die tyd is net te min. Ek skat ek sal maar eerder daarby hou.”

Ek dink onwillekeurig aan die plakkertjie wat jy gereeld op die motor voor jou se buffer sien – die een met die kruisie en hartjie met ’n gelykaanteken tussenin. Ek wil daardie simbole met ’n prentjie van Madelein wat gelyk is aan krag en hoop vervang. En dan wil ek ook dadelik pen en papier vir my eie emmerskoplys nadertrek.

Meer oor haar jongste boek, 25 trappe na benede:

Wat wag daar om ontdek te word net vyf en twintig trappe na benede? Wanneer Renée Verster-Roux haar swart gewaad, donker grimering en skarlaken lipstif aansit, klim sy trap vir trap na die wêreld van haar alter ego af. As Lisbé is sy nie meer die swartskaapdogter van die ryk Versters nie, maar ʼn bedrewe knoeier wat haar as ʼn waarsêer voordoen om haar trustfonds aan te vul.

“Vir haar is Janine Oosterhuis, ’n doktersvrou wat oortuig is haar man wil haar vermoor, presies die tipe kliënt wat sy soek: skatryk en paranoïes. Die dag toe dié vrou met die groot diamante en bang oë egter haar huis binnestap, het alles verander. Hoe kon sy voorsien dat iemand die vrou werklik sou vermoor? Terwyl Renée ondersoek instel, veg sy teen nuwe herinneringe en teisterende nagmerries van die dag toe haar driejarige broertjie dood is. Hoe meer sy probeer uitrig, hoe groter

raak haar ma, Melisandré, se afsku. En dan is daar haar ontwikkelende gevoelens jeens Hermann, die onweerstaanbare polisieman.

Wat het daardie dag met haar boetie gebeur? Is dit waarom haar ma haar herhaaldelik straf en oënskynlik haat? En waarom bly sy van die kelder in hulle Bayswaterhuis droom? Wat wag daar om ontdek te word, net vyf en twintig trappe na benede? Renée móét onthou as sy haar lewe wil terughê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Filistyn

Wow. Wat n inspirasie. Jy is pragtig Madelein, en sterkte met die pad vorentoe.

Hardekwas

Yster vrou. Welgedaan!

Boerkind

Absoluut merkwaardig! Wonderlike mens met deursettingsvermoë… Baie sterkte – God genees steeds!!

apollonio

Madelein, jy is baie mooi, talentvol, met die regte gesindheid om nog drie boeke te skryf. Geniet jouself en leef sodat ons almal jou voorbeeld kan nastreef!

MsMac

Wat ‘n pragtige en inspirerende vrou! Daai ’25 trappe na benede’ klink na my soort boek, gaan bietjie uitkyk vir hom.