‘Madiba Magic’ na skole ter viering van Mandela 100 jaar

Die Jakes Gerwel Stigting en Tafelberg-Uitgewers herdenk vanjaar saam Nelson Mandela se honderdste geboortedag op 18 Julie 2018 met die heruitreiking van Madiba Magic, die oudpresident se versameling geliefde kinderstories.

Die boek sal by vyftien skole reg oor die land bekendgestel word en ervare storievertellers sal by skole in die Oos-Kaap, Gauteng en die Wes-Kaap stories uit die boek op vindingryke manier vir jong leerders toeganklik maak deur voordrag, dans en musiek.

Skole waar daar min blootstelling is aan boeke en lees, word ingesluit by hierdie projek.

Benewens die interaksie met die leerders skenk Tafelberg-Uitgewers ook boeke aan die skoolbiblioteke wat besoek word.

Hierdie laerskole is ingesluit: Tshatshu (King William’s Town), James Ntungwana (Kwa Nobuhle buite Uitenhage), Kei Road, Gilbert Xuza (Somerset-Oos), Melpark (Melville), Norwood (Johannesburg), Kwa-Faku (Philippi), Molo Mhlaba en Intshayelelo (Khayelitsha), Blue Mountains (Altydgedacht buite Durbanville), Westcott (Dieprivier), Groenheuwel (Paarl), Wallacedene, Hillcrest (Mowbray) en Mountain Road (Woodstock).

Die gewilde Madiba Magic, wat spesiaal vir die Mandela-vieringe in Engels in ’n nuwe formaat uitgereik is, bevat ’n versameling stories so oud soos Afrika self, wat deur die eeue heen om aandvure oorvertel is. Dit sluit in verhale van die San en ander inheemse groepe, tot verhale van die vroeë seevaarders wat met hul seilskepe ook stories met hulle saamgebring het. Die jong leser word verder ook bekendgestel aan die slim planne en onnutsige streke van die inwoners wat hierdie ruwe, veeleisende kontinent bevolk – hulle diep menslikheid, ruim harte en spontane humor.

Madiba Magic het al groot sukses plaaslik en internasionaal beleef. Meer as 100 000 Engelse kopieë van die boek is verkoop en dit is vertaal en in onder meer Swede, Nederland, Duitsland, die VSA, Frankryk, Italië, Mexiko en Portugal beskikbaar.

“Madiba se liefde en sy ruim hart vir kinders het mense aangegryp en hierdie boek verwoord iets daarvan. Dit is die stories wat hy vir kinders sou vertel,” sê Michelle Cooper, uitgewer by Tafelberg, oor die groot sukses van die boek.

Met Jakes Gerwel as direkteur-generaal in oudpresident Nelson Mandela se eerste demokraties verkose kabinet, asook Gerwel se aandeel in die keuse van stories vir Madiba Magic, is die Jakes Gerwel Stigting trots om ’n vennoot van hierdie projek te wees. “Die Jakes Gerwel Stigting is ernstig oor die bevordering van lees en om jong kinders bloot te stel aan die wonder van boeke, en daarom is dit vir ons ’n groot voorreg om deel te wees van hierdie leesprojek,” sê Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting.

Madiba Magic
Uitgewer: NB Uitgewers
Prys: R295-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek nou by Graffiti Boeke
Die boek is ook in Afrikaans beskikbaar as Die Madiba-boek: Nelson Mandela se gunstelingstories vir kinders

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.