Marion Erskine skep oase vir boekwurms

Marion Erskine (Foto: Clare Clark Photography)

Lekkerleesboekrak is een van die bekendste en aktiefste kuiergroepe op Facebook waar meer as 11 000 lesers daagliks ʼn goeie dosis boek-lafenis kry. Boekwurms van reg oor die wêreld kom hier byeen om saam oor boeke te gesels, aanbevelings te maak of sommer net te deel in die samesyn van ʼn aanlyn leesgemeenskap.

Dié groep is in 2007 deur Marion Erskine, wat al langer as twee dekades in die buiteland werk, begin. Marion vertel via Zoom vanuit sy huis in Nantes, Frankryk, dat hy uit voeling met die Afrikaanse boekmark was en ʼn behoefte gehad het om op hoogte te bly.

“Ek het in daardie stadium in Taiwan gewerk. Daar was geen boekwinkels of biblioteke nie, en ook nog nie apps soos Libby waar jy aanlyn toegang tot boeke kon kry nie.

“Die enigste manier om Afrikaanse leesstof in die hande te kry, was om ʼn paar boeke aan te skaf wanneer ek een keer ʼn jaar Suid-Afrika toe gekom het, en dit dan saam met my terug te neem.”

Dit was egter nie genoeg om Marion se leeslus te voed nie, en daarom het hy besluit om Lekkerleesboekrak op Facebook van stapel te stuur. “Ek het die groep gestig en begin om vir Afrikaanse lesers vir aanbevelings te vra en in die proses ander skrywers se werk te ontdek.

“ʼn Mens moenie vergeet dat Facebook in 2007 eers momentum gekry het nie, en voorheen was die Afrikaanse digitale landskap dus maar eintlik dor. Nuuspublikasies het veel later eers na digitale platforms geskuif, en boonop was die aanbod vir e-boeke beperk en digitale ruimtes waar boekgesprekke kon plaasvind, het nie bestaan nie.”

Lekkerleesboekrak is in 2007 deur Marion Erskine begin. (Foto: Maroela Media)

Lekkerleesboekrak se gemeenskap het stadigaan begin groei, en mettertyd het al hoe meer skrywers ook by die groep aangesluit en saam gesels.

“Die doel was van die begin af om op lekkerleesboeke te fokus. Dit kon in enige genre wees, solank dit boeke is wat jou intrek en wat jy nie kan neersit nie. Daar is uiteraard ʼn plek vir klassieke literêre werk, maar ons wou graag ʼn platform skep waar lesers gemaklik oor enige boek wat hulle geniet het, kan gesels.

“Wat die groep ook oor die jare reggekry het, is om die afstand tussen skrywers en lesers te vernou. Ek het self ʼn wanindruk oor skrywers gehad, maar dit het verander toe ek begin het om hulle by die gesprekke op Lekkerleesboekrak te betrek.

“Ek sou byvoorbeeld vir Fanie Viljoen ʼn boodskap stuur as daar ʼn gesprek oor een van sy boeke aan die gang is en vra of hy gaan omgee om saam te kom gesels. Dit was vir lesers geweldig opwindend om te sien dat skrywers doodnormale mense is wat lekker kan gesels.”

Die groep het nie net Afrikaanse lesers op eie bodem se aandag getrek nie, maar gou ook ʼn volgeling van lesers opgebou wat soos Marion in die buiteland is. “Dit het my regtig verbaas dat soveel mense aanklank by Lekkerleesboekrak gevind het.”

Om so leesgemeenskap te bestuur en te sorg dat dit vir al die lede ʼn aangename saamkomplek is, moes Marion en sy span administrateurs reëls in plek stel en soms ook stem dik maak. Mense wat oor die jare dié taak saam met Marion verrig het, is Christelle Pretorius, Heino du Plessis, Anschen Conradie, Karin Behrens en De Wet Theron.

“Een van die lekker dinge is dat lesers regtig eerlike opinies oor boeke kan lewer. Hulle mag op ʼn konstruktiewe manier sê dat hulle nie van iets gehou het nie, sonder om afbrekend teenoor die skrywer te wees,” meen Marion.

Hoewel die verwagting van duisende boekwurms deels op sy skouers rus, is dit ná 17 jaar steeds elke dag vir Marion lekker om deel van die Lekkerleesboekrak-gemeenskap te wees.

Marion Erskine (Foto: Clare Clark Photography)

“Ek het goeie en slegte dae, en my aandag is nie altyd ten volle daarby nie, maar dit is nog steeds vir my heerlik om die groep te help bestuur. Dit is my verbintenis met Afrikaans, veral noudat ek in Frankryk is en nie die taal baie hoor of sien nie.

“Ek is nou 22 jaar uit Suid-Afrika uit, maar ek doen nog steeds so baie vir Afrikaans omdat ek wil en dit geniet om die taal op hierdie manier te ondersteun. Dit laat my op ʼn vreemde manier voel asof ek nog by die huis is.”

Terwyl Marion oor die vreugdes, uitdagings, hoogte- en laagtepunte en organiese groei van Lekkerleesboekrak gesels, merk hy op dat dié groep hom anker en veel meer as net ʼn projek is.

“As daar môre iets met my moet gebeur, sal ek graag wil hê dat dit wat Lekkerleesboekrak bereik het, my nalatenskap moet wees.

“Ek probeer om die beste vir Afrikaans te doen, en te help bou aan ʼn wonderlike gemeenskap van mense wat lief is om te lees en lief is vir Afrikaans. Dit is wat ek wil nalaat.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.