Marita se ‘Misverstand’-saadjie gedy

small_k6e5494_willem-lourens-sarie

Marita van der Vyver. Foto: Willem Lourens.

Marita van der Vyver se nuwe roman, Misverstand, se bekendstelling is op 1 Maart by Alliance Française in Kaapstad gehou. Yolanda Wessels het haar die volgende dag, wat ook nasionale boekedag was, by haar hotel in Oranjezicht ontmoet.

Marita is een van die eerste Afrikaanse skrywers wat die grense begin verskuif het met gewaagde sinsnedes. Sy vertel: “ʼn Mens glimlag nogal vandag oor dié bohaai ʼn kwarteeu gelede. Ek het nie werklik besef ek is besig om grense te verskuif nie, want ek skryf nie aspris om mense te skok nie. Ek luister hoe mense praat en by sekere karakters pas swetswoorde, sleng of suiwer Afrikaans. Ek glo die dialoog moet natuurlik klink en daar moet balans wees. Gelukkig is Afrikaanse boeke nou op standaard met wat in die wêreld aangaan, maar dit bly die leser se keuse, as jy dit nie wil lees nie, kan jy dit toemaak.”

Met onder meer tientalle romans, kortverhale, essays en rubrieke in verskeie gewilde tydskrifte, waar kom haar idees vandaan? “Soms gebeur dit oor ʼn lang tyd, selfs jare. Daar is ʼn klomp saadjies en dan begin ek uitdun en kyk wat gedy. Die een wat die sterkste groei en homself bewys, is waaroor ek skryf.”

Misverstand is ʼn meesleurende vertelling wat handel oor ʼn middeljarige skrywer en sy vertwyfeling in homself, so in dié geval, vertel Marita, het veral die frase, “wat wil ek eendag word”, gedy, want “eendag” is nóú hier. “Daarna het ek ʼn televisiefilm gesien oor ʼn middeljarige karakter wat teleurgesteld was in sy eie lewe. Dinge het toe net begin click.”

Marita sê dis ʼn baie groot kompliment as die leser haar skrywe as vloeiend beskou, want dis waaraan sy die hardste werk. “Ek wil hê die leser moet meegesleur word en nie sien hóé hard die skrywer gewerk het nie. Ek hoop dis waarvan ons ook meer in Afrikaans kan kry, lekker leesboeke met goeie, literêre waarde.”

marita-van-der-vyver-misverstand-960x1271Die terreuraanvalle in Parys het wél dié storielyn in ʼn ander rigting gestuur. Sy het geskryf aan die idee van ʼn karakter in Parys, maar nie ’n idee gehad hoe die storie gaan uitdraai nie. “Toe die terreuraanvalle plaasvind, het ek al so ʼn derde geskryf en net gewéét ek moet dit deel van die storie maak. As jy ʼn noue ontkoming het, laat dit jou anders dink oor die lewe en dood en met Willem wat so moedeloos was, het hy iets nodig gehad om hom te laat kyk na sy lewe op ʼn ander manier.”

Misverstand is uit ʼn mansperspektief, genaamd Willem Prins, geskryf. “Ek het gedink dit gaan moeilik wees, maar dit was ʼn baie lekker ervaring. Toe ek begin om in die kop te klim van ʼn manskarakter wat min of meer my ouderdom is en in die wêreld beweeg waarin ek is en ek eers Willem se stem hóór, het dit nie meer saak gemaak of hy ʼn man of vrou was nie. ʼn Skrywer moet homself (of haarself) kan verbeel of in enigiemand kan inskryf.”

Soos in al Marita se boeke, is dit baie prominent dat sy navorsing doen. Sy vertel blinkoog dat dit amper vir haar die lekkerste deel is en dat sy maklik méér doen as wat nodig is. Sy versamel baie inligting en al gebruik sy net 10%, gee dit haar die selfvertroue om te skryf. In die geval van Misverstand, moes sy in Parys gaan na die restaurante waar die terreuraanvalle plaasgevind het om haar huiswerk te doen. “Ek het die gebeure aanvanklik op televisie gevolg, want ek was toe in die Suide. Ek kon dadelik ʼn verandering bespeur onder die mense. Mense is meer bewus van wat om hulle aangaan, hulle is banger vir skares. Dit is ʼn noodtoestand en ons sal ʼn ander manier van lewe moet kry.” Sy was baie gelukkig om ʼn Franse leser, Georges Lory, ʼn Fransman wat Afrikaans kan praat en Parys soos die palm van sy hand ken, te kry om te help sodat niks deurglip wat nie sal werk in Parys nie.

In die geval van Misverstand, moes sy in Parys gaan na die restaurante waar die terreuraanvalle plaasgevind het om haar huiswerk te doen

Iets unieks is dat elke karakter ʼn “spreekbeurt” kry om te wys hoe ander mense Willem sien. “Dit was ʼn uitdaging dat elkeen sy stem vind, anders is die hele boek net van “hoe Willem homself sien”. Om ander karakters se “kamerahoeke” in te bring was ’n uitdaging, maar het ʼn buiteperspektief gebring wat die leser meer empatie met Willem gee. Hy ervaar ook ʼn deurlopende knaendheid in sy eie vertwyfeling as skrywer, hoe suksesvol hy was en hoop om weer te wees terwyl daardie één groot boekprys hom ontwyk, die prys sal “bevestig waarna hy smag en hom die erkenning gee”.

Hoeveel sluimer dié gedagte self by Marita? “Elke skrywer hoop vir die jackpot, goeie resensies, dat lesers daarvan sal hou en dat dit krities goed ontvang word. Maar ek skryf nooit ʼn boek en hoop om pryse te wen nie. Ek probeer ʼn boek skryf soos wat ek graag self sal wil lees en enigiets verder is ʼn bonus.”

Elke skrywer hoop vir die jackpot, goeie resensies, dat lesers daarvan sal hou en dat dit krities goed ontvang word

Willem smag daarna om nooit weer oor ʼn storie te wroeg nie, om nie bevrees of beangs te wees oor onderwerpe of idees nie. Normale emosies, maar vir Marita is dit een groot verskil tussen haar en Willem, want vir haar kom dit vanself. “Willem smag daarna om nooit weer teleurgesteld te wees in homself nie. Die storie wat jy klaar het, is nie die een wat jy in jou gedagtes gehad het nie, maar dis wat jou laat aanhou skryf. As jy die boek skryf wat jy présies in gedagte gehad het, die ultimate boek, sal jy nie aanhou skryf nie.”

Afrikaans is ʼn warm taal, maar haar boeke is al in sowat ʼn dosyn ander tale gepubliseer. Hoe word háár stem behou met die vertalings? “Dit is my vierde boek wat Annelize Visser vertaal het, so ons verstaan mekaar, kom uit min of meer dieselfde leeftyd, het dieselfde agtergrond en dit klink soos my karakter sou gepraat het as hy of sy Engels gepraat het, so ek is besonder gelukkig met die vertaling.”

Ons tyd raak min en dis die volgende joernalis se beurt om Marita onder oë te kry, maar ek wonder tog laastens wat sy ervaar as om te skryf “buite haar gemaksone”? “Met elke boek is daar iets nuuts wat ek probeer. Dalk die lengte van die boek of ʼn manskarakter. Maar ek móét skryf oor iets wat my bang maak, ʼn uitdaging, anders skryf ek net dieselfde storie weer oor.”

Ons tydjie is verstreke, maar ek stap weg met die ervaring van ʼn leeftyd terwyl Marita voorberei vir die volgende onderhoud en met ʼn vonkel in die oog uitsien na haar avonture vir ʼn nuwe karakter wat sal lewe kry in haar volgende boek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae