Marita van der Vyver oor Afrikaans, grensgevalle en Kuba

Marita van der Vyver (Foto: Facebook)

Deur Christa Steyn

Marita van der Vyver woon al vir meer as ʼn derde van haar lewe in Frankryk, maar haar taalwortels is nog stewig in Afrikaans geanker.

Sy vertel dat sy bevoorreg is om nog gereeld ʼn draai in Suid-Afrika te kan maak en dat sy moeite doen om op hoogte van plaaslike gebeure te bly.

“My lewe in Frankryk gee my ʼn wyehoeklens. Maar dis vir my ewe belangrik om te weet wat hiér ook gebeur,” sê sy. Sy voeg by: “Ek wil nie ʼn buitestandersblik ontwikkel nie.” Danksy die internet en sosiale media kan sy gereeld Afrikaanse koerante aanlyn lees, na RSG luister en met vriende en familie kontak behou.

Van der Vyver het onlangs wéér ʼn draai in Suid-Afrika gemaak toe sy haar jongste roman, Grensgeval, tydens verskeie geleenthede bekendgestel het.

Hoewel die boek ʼn groot fokus op die Grensoorlog plaas, word dit nie as ʼn oorlogsverhaal bestempel nie. Die titel verwys wel na die Grensoorlog wat in Angola plaasgevind het, maar dis ook ʼn metaforiese verwysing na persoonlikheidsversteurings wat deur oorlog veroorsaak word.

In Grensgeval reis Theresa die hele ent Kuba toe nadat sy ʼn brief, wat moontlik deur ’n Kubaanse soldaat aan sy kind geskryf is, in Theo, haar eksman, se kissie met herinneringe ontdek het.

Tydens die skryf van haar boek het Van der Vyver ook ʼn dagboek bygehou oor die navorsings- en skryfproses, en sy het dit met ʼn persoonlike blik op haar lewe, roetine en gedagtes vervleg.

So skryf sy byvoorbeeld op 3 Oktober 2017: “Maar hierdie keer weet ek dat Kuba deel van my verhaal moet wees. Ek weet net nie hoe groot die rol gaan wees nie.”

Van der Vyver vertel dat die besluit om haar protagonis Kuba toe te stuur op veel meer as ʼn lukrake besluit berus het. “Die Kubane, nes die Suid-Afrikaners, is na ‘n onbekende land gestuur om vir een of ander ideologie te gaan veg en sterf,” vertel sy. “Ek het na die ooreenkomste en verskille gesoek.”

“Ek het besef dat ʼn storie nie met Google Earth geskryf kan word nie,” skerts sy. Haar eie reis na Kuba was dus nié halsoorkop nie. Hier het sy hope navorsing gedoen voordat sy begin skryf het.

Omdat Van der Vyver in daardie stadium nog nie geweet het hoe Theresa se reis in Kuba sou verloop nie, het sy soveel as moontlik notas gemaak, foto’s geneem en met Kubaanse mense gesels. Maar daar is een ding wat vir haar uitgestaan het: ou motors.

“Ek is nie ʼn kar-meisie nie, maar in Kuba het ek na karre gekyk soos nog nooit vantevore nie,” vertel sy. Die motorkultuur in Kuba herinner aan ʼn rolprenttoneel uit die vyftigs, meen sy, “Daar is Cadillacs en afslaandakke in die mooiste kleure van pers tot pienk én turkoois.”

Die Kubaanse beheptheid met motors is ʼn gevolg van talle boikotte en politieke onderdrukking wat ʼn gebrek aan finansies veroorsaak het. Die plaaslike bevolking het dus geen ander opsie gehad as om hand by te sit en self hul motors reg te maak nie.

Van der Vyver vertel ook dat boeke oor die Kubaanse literatuur baie skaars is weens die gebrek aan vryheid van spraak, “Die meeste stories word geskryf deur expats en mense wat buite die landsgrense woon.”

Maar danksy haar reis na Kuba kon sy voldoende inligting bymekaar maak om ʼn egte prentjie van Kuba in haar boek te skep. Hoewel sy haar protagonis Kuba toe stuur meen Van der Vyver dat die verhaal sy eie wending neem. Sy beskou juis die onvoorspelbaarheid van haar storie en karakters as ʼn hoogtepunt van die skryfproses.

“Elke keer as die storie sy eie loop geneem het en ʼn kinkel in die Kubaanse soektog opgelewer het, was ek opreg verras,” vertel sy. “Dis wat fiksie skryf die moeite werd maak: Die feit dat jou eie storie jou só kan verras.”

Uitgewer: Penguin Random House
Prys: R230-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Neewat ·

Marita van der Vyfer is ‘n regte Johnny-come-late. Die Kubaanse tema is al soveel maal deur Afrikaanse skrywers gebruik in die verlede, toe dit nog relevant was. Haar tema in “Dis koue kos skat” is ook ‘n kopieëring van ‘n Amerikaanse fliek wat voor haar boek verskyn het. Sy blyk onbewus te wees daarvan dat die Afrikaanse publiek vandag wêreldburgers is wat reis, aanlyn is en nie vir haar nodig het om hulle te “enlighten” nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.