Maroela gesels met Suid-Afrika se hekelkoningin

Karen Adendorff (Foto verskaf aan Maroela Media)

Almal – oud en jonk – is tans oor die wêreld heen aan die hekel. En oraloor maak die alombekende oumablokkie weer sy verskyning.

Karen Adendorff se jongste boek, Hekel teëlmotiewe met ʼn verskil, het pas verskyn. In dié hekelboek is daar nuwe idees vir motiewe, interessante tegnieke en patrone wat wys hoe jy jou hekelwerk op verskeie maniere kan gebruik.

Karen is die outeur en samesteller van verskeie topverkoper brei- en hekelboeke en lewer gereeld handwerkbydraes vir Lig, Idees en Vrouekeur. Sy bied gereeld werkswinkels reg oor die land aan. Van haar beste topverkopers sluit in Alles oor hekel en Alles oor hekel 2.

Sy kan met reg as Suid-Afrika se hekelkoningin beskou word.

Maroela: Ouma se hekelblokke is oral te sien en word op ʼn baie innoverende manier ingestaan (myne hang in ʼn sirkel bo my kind se bed!) Wat is die towerkrag van hekel?

Karen: Hekel maak jou kop stil en jou hande besig – die kreatiewe uitlaatklep is nie net terapeuties nie, maar erg verslawend. Dié positiewe verslawing ruk mense uit hulle eensaamheid, depressie, seer en verveeldheid – daarvan kan ek getuig. As ʼn persoon skep, is sy verwysingsraamwerk en uitkyk op die lewe meer positief en daarmee saam word die selfbegrip só positief uitgebou met elke voltooide skepping.

Buiten dat hekel ʼn terapeutiese uitwerking het, bied hekel soveel kreatiewe moontlikhede dat elke persoon wat deur dié gogga gebyt word, se projeklysie daagliks groei. Boonop is hekel vinniger as brei – dus sien jy gouer vordering en is die produk ook vinniger klaar.

Mans kry kitsaandetes, ma’s is bereid om langs sportvelde en buitemuurs te sit en wag (vir meer hekeltyd) en slaaptyd word later, want nog ʼn ry of blokkie moet gou klaar. Dit is ʼn stokperdjie wat oral saamgedra kan word.

Hekelwerk deur Karen Adendorff (Foto: A HankiDori Day – Karen se blog by https://ahankidoridayblog.wordpress.com/

Maroela: Het jy enige oulike idees vir hekelpatrone, en hoe en waar om dit te gebruik?

Karen: Hekel is modenuus in Brittanje en die hele Europa. Die tradisionele oumablokke is nou hoogmode op klere en dekoritems. Ons gaan ook baie strepe die volgende seisoen in die mode sien.

Daar is ‘n hele vernuwing in ouma se motiewe en patrone, bv. doiliepatrone wat nou in dikker gare en meer kleure tot mandalas omskep word. Hierdie mandalas vorm ook deel van die boheemse neiging wat nou groot is en neem vorm aan in klere, hoepels, matte, komberse ens.

As jy aan tekstiel of patrone dink in ander mediums, kan dit vandag amper alles in hekel omskep word. Die moontlikhede is oneindig. Daar is soveel meer vryheid in hekel om te skep en om nuwe idees die lig te laat sien.

Maroela: Jy skep jou lewe deur – vanwaar jou liefde om met jou hande te skep?

Karen: Dit kom maar van kleintyd af. My pa het vir ons kunslesse tuis gegee en my ma was ʼn kleremaakster en kon enige handwerk onder die son doen. By haar het hierdie passie ontstaan en ontwikkel. Sy is ook my steunpilaar, proefleser, toetser en redigeerder van al my patrone en boeke.

My kamer was altyd vol projekte en my duvet altyd vol gom en verfmerke. Om te skep is my roeping en as ek mense gelukkig sien in dit wat hulle skep, dan weet ek dat ek antwoord op hierdie Stem. Ek het baie kronkelpaadjies geloop gedurende my loopbaan, maar mens moet jou laat lei tot op die plek waar jy moet wees en waar my hande mense bedien.

Hekelwerk deur Karen Adendorff (Foto: A HankiDori Day – Karen se blog by https://ahankidoridayblog.wordpress.com/

Maroela: Wat maak jou nostalgies?

Karen: Ek is ʼn baie emosionele mens en baie lief vir die natuur. Klein dingetjies soos mis oor die berge, nat blare, donderstorms of geluide laat my verlang na iemand wat ek nie ken nie.

Soms wil mens net jou verantwoordelikhede opsy skuif en jou hare losmaak en op ʼn swaai ry tot bo die wolke. Jy wil iets mals doen of net weer voel soos ʼn kind. Ek het baie kind in my en kry baiekeer swaar in die grootmenswêreld. Dit is moeilik en ongenaakbaar en grootmense doen nie altyd “mooi” dinge nie.

ʼn Mooi film, skildery, mooi lap of boek maak my supergelukkig. Dit is ʼn mate van ontvlugting sonder om te hekel.

Maroela: Vertel ons van iets wat jy geskep het wat jou na aan die hart lê?

Karen: Ek het so baie goed geskep dat dit baie moeilik is om uit te sonder. Alhoewel dit deel is van my alledaagse werk, stort mens baie van jouself daarin. Dan is ek geneig om vas te klou daaraan.

Ek dink ʼn snaakse storie wat my altyd sal bybly, is hoe die olifant hom gewip het vir my hekelpen.

Ons gaan jaarliks Julie-maand Kruger-wildtuin toe. By die een kamp was daar ʼn olifant wat vir twee dae lank reg voor ons tent (natuurlik aan die anderkant van die draad) aan ʼn doringboompie gevreet het. Aanvanklik was dit ʼn groot oomblik, maar mettertyd het ons die olifant gewoond geraak en hy vir ons. Totdat ek een middag besluit het ek wil nie saamry op ʼn rit nie en liewer rustig by die kamp bly en hekel. Ek het ʼn rukkie lank gesit en kyk wat in die veld gebeur en staan toe op om my hekelwerk uit die tent te haal. Net toe ek daardie hekelpen uit die sak haal, ruk die olifant sy kop om, flap sy ore, skop stof en hardloop die veld in vir lewe en dood. Hy was skoonveld en het nie weer teruggekom nie. Duidelik was hekel nie sy “ding” nie.

Besoek gerus Karen se blog, A HankiDori Day, vir nog inligting en patrone.

Oor die boek:
In Karen Adendorff se boek, Hekel teëlmotiewe met ʼn verskil, is daar nuwe idees vir motiewe: Marokkaanse, Delftse, Persiese en Mediterreense blokpatrone met interessante tegnieke, soos oppervlakwerk, maak die patrone, wat op verskeie maniere gebruik kan word, anders en interessant. Elke patroon bevat ’n diagram, die grootte, die aantal kleure, die moeilikheidsgraad en die volledige patroon.

Uitgewer: NB Uitgewers
Prys: R195-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke of jou naaste boekwinkel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

ursula ·

het al van haar patrone gehekel geniet dit baie en is heerlike om te hekel goed v/d gemoed

Mariki ·

dankie Karen ek is verslaaf en versot daarop. Dis my lewe.
Elke hekelstuk is n kunswerk.

Anoniem ·

Die olifant het seker gedink die grys hekelpen is ‘n besonder lang, maer muis!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.