Media24 Boeke wys literêre pryse vir 2016 aan

Vlakwater

Die wenner van die W.A. Hofmeyr-prys vir Afrikaanse fiksie is Ingrid Winterbach vir haar roman Vlakwater, uitgegee deur Human & Rousseau. Foto: Verskaf

Media24 Boeke se literêre pryswenners vir 2016 is Woensdagaand in Kaapstad aangekondig. Meer as 50 boeke wat in 2015 by uitgewerye in die Media24-stal verskyn het, is ingeskryf vir dié pryse met ’n gesamentlike prysgeld van meer as R200 000.

Die wenner van die W.A. Hofmeyr-prys vir Afrikaanse fiksie is Ingrid Winterbach vir haar roman Vlakwater, uitgegee deur Human & Rousseau. Dit is die vierde keer dat Winterbach hierdie belangrike prys ontvang. Vlakwater is deur die beoordelaars geloof as ’n werk waarmee die skrywer ’n reeds indrukwekkende oeuvre verruim. Die roman is beskryf as “’n besinning oor die rol en aard van kuns in roerige tye; ’n moedelose wekroep teen die tirannie van middelmatigheid en geestelike vervlakking, asook ’n soeke na mistieke rigtingwysers in ’n andersyds onherbergsame heelal.”

Die Herman Charles Bosman-prys vir Engelse fiksie is toegeken aan Finuala Dowling vir The Fetch, uitgegee deur Kwela. Die beoordelaars het Dowling onder meer geprys vir haar subtiele, humoristiese taalgebruik en haar vermoë om geloofwaardige, komplekse karakters te skep wat die belangstelling prikkel.

Milton Shain het die Recht Malan-prys vir nie­fiksie verower met sy A Perfect Storm: Antisemitism in South Africa 1930-1948, uitgegee deur Jonathan Ball. Dié werk is deur die beoordelaars beskryf as ’n wonderlike boek en ’n gepaste waarskuwing, in ’n tyd waarin xenofobie gereeld in Suid-Afrika en oor die wêreld heen tot geweld lei, teen wat kan gebeur wanneer magsbehepte politici ’n weerlose groep as boos uitmaak.

Gilbert Gibson is met die Elisabeth Eybers-prys vir poësie beloon vir sy bundel Vry-. wat die leser volgens die beoordelaars konfronteer met ’n unieke stilistiese wyse waarop temas ontgin word. Hierdeur “kom die voorheen bekende Vrystaatse gegewe skielik in ander gedaantes na vore – verryk met ’n verbrokkelende, stamelende broosheid”.

Die M.E.R.-prys vir jeugromans is toegeken aan Carin Krahtz vir Elton amper famous April en juffrou Brom, uitgegee deur Tafelberg, en die M.E.R.-prys vir geïllustreerde kinderboeke aan Elizabeth Wasserman en Astrid Castle (illustreerder) vir Die Dingesfabriek 4: Jannus en Kriek en die tydmasjien, ook uitgegee deur Tafelberg.

Die beoordelaars was: Vir die W.A. Hofmeyr-prys: Thys Human, Danie Marais en Bernard Odendaal; vir die ­Herman Charles Bosman-prys: Johan Jacobs, Molly Brown en Ann Donald; vir die Recht Malan-prys: John Maytham, Elsa van Huyssteen en Max du Preez; vir die Elisabeth Eybers-prys: Henning Pieterse, Antjie Krog en Francois Smith; vir die M.E.R.-prys vir jeugromans: Louise Steyn, Verushka Louw en Wendy Maartens; en vir die M.E.R.-prys vir geïllustreerde kinderboeke: Lona Gericke, Paddy Bouma en Magdel Vorster.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Petro Bezuidenhout. ·

Mooi prestasie deur die pryswenners.Mag julle van krag tot krag gaan!En aan julle wat meegeding het :wees verseker dat julle ook gelees gaan word. Op LitNet. verskyn ‘n resensie van Vlakwater deur Marietjie Lambrechts wat gerus gelees kan word.Sy het die boek by Langenhovenpark ,Bloemfontein, se Leeskring bespreek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.