Melinda Ferguson: Uit die dal van verslawing tot die kruin van oorwinning

Melinda Ferguson het met Maroela Media gesels (Foto: Verskaf.)

Melinda Ferguson se boeke Smacked en Hooked oor haar heroïen- en kokaïenverslawing en die lewe daarna, het onderskeidelik meer as 20 000 en 30 000 kopieë verkoop. Die derde boek in die trilogie, Crashed, het net so goed verkoop – ’n groot oorwinning vir ’n Suid-Afrikaanse outeur in ’n mark waar 3 000 boeke as uitverkoop gereken word. Maryke Roberts gesels met haar op die 20 jaar-heruitgawe van eersgenoemde twee.

Ek moet glimlag vir die voorblad waar ’n donker lila-kol onder regs aankondig dis die “20 jaar skoon en sober uitgawe”. Dit verwys beslis nie na die inhoud van die boek nie, maar na Melinda se skoon en sober lewe sonder dwelms. Want sy draai geen doekies om wanneer sy skryf nie. Sy skram nie weg van gru besonderhede van haar verkragtings of die gevoelens wat sy koester jeens meisies of eggenote van mans wat sy begeer nie.

Die titel vir Smacked is te danke aan veelvuldighede, verduidelik sy: “Dis die naam vir my ellende-memoire, maar ook omdat ek verslaaf was aan heroïen wat op straat bekend is as smack. Ek is ook boonop deur verskeie mense rondgeslaan (smacked in Engels) en van een realiteit na die ander rondgegooi (smacked). Dié boek het in 2005 verskyn.

Melinda se eerste boek getiteld “Smacked”. (Foto: Verskaf.)

Smacked se eerste bladsy beskryf hoe sy deur drie dwelmhandelaars verkrag word. Maar sy wil ’n fix hê en sonder geld is dit die betaalmiddel. Jy besef dat hierdie boek nie vir die sensitiewe leser is nie, maar vermoed dat hierdie “nie-wegskram-nie” juis die grootste sukses is en baie ander in soortgelyke situasies help. Eerlikheid is iets wat sy hoog ag, vertel sy.

Dit is juis die een ding wat sy haar seuns, Day en Joy, sou wou leer uit haar ervaringe: om altyd eerlik te wees.

“Ek was van die begin van my herstelpad eerlik met hulle. Ek hoop ook ek het die begrippe ‘vergifnis’ en ‘selfliefde’ by hulle neergelê het.”

Dit laat my wonder of sy spyt is oor haar eerlikheid en om hierdie boeke, wat haar gedurig herinner aan die lewe wat sy gehad het, te skryf.

“Nee, ek het nog nooit spyt gehad oor hierdie twee memoires nie. Nie alleen het die boeke my die geleentheid gebied om regtig te leer wie ek was en nou is nie, dit het my ook ’n boekstawing gegee van tye in my lewe wat ek nie wil vergeet nie, want ek glo ons leer die meeste van onsself as ons op ons laagste is.”

En sou jy gewonder het of haar familie trots is op haar eerste boek, is haar antwoord onomwonde “nee”, sy dink nie so nie. Veral nie haar ouer suster nie, sy is sommer net die hel in. Ten spyte hiervan, skryf sy nóg twee eerlike, soms amper-te-persoonlike boeke daarna. Sy veg met haar eie demone en kyk hulle reguit in die oë.

Soos jy kan raai, het sy ’n traumatiese kinderlewe gehad: haar pa het voor haar oë dood neergeval; haar ma het vir jare ’n verhouding met die buurman gehad; haar familie is, soos vele ander, amper disfunksioneel en sy voel haar hele lewe lank die buitestaander, wat as’t ware inkyk na haar eie lewe.

Alles kom tot ’n hoogtepunt toe sy haar man, kinders, huis en vastigheid verloor en haar lyf in Hillbrow verkoop vir haar dwelmverslawing. Sy vertel hoe sy by ’n rehabilitasieplaas te lande kom, verskeie male uitgeskop word en uiteindelik by haar ma en stiefpa beland – waar daar ook nie veel liefde en ondersteuning is nie. Stadig maar seker begin sy die stukke van haar lewe optel, kry sy haar eerste werk, laat maak haar tande wat weens die dwelms afgebreek en verswak het, reg.

Haar verhouding met haar ma is ’n stormagtige een. Toe haar ma na haar sober-reis kanker kry, vind hulle lang geselstye en kom daar tog effe berusting. Melinda erken egter dat die verhouding steeds, 15 jaar ná haar afsterwe, ’n reis is. Een waarin sy vrede moet vind, maar sy sukkel.

“Vanjaar voel ek haar egter baie na aan my en ek glo op ’n psigiese vlak het ons liefde vir mekaar en vergifnis gevind.”

Sy skryf die feit dat sy gedurende beide haar swangerskappe aanhou dwelms gebruik het, steeds haar grootste rede tot skaamte is.

“Meeste van die tyd gaan ek aan met my lewe, maar soms – in die donker dae wat ek my Plath-dae noem – word ek so siek vir myself, dat ek skaars in my eie vel kan leef, my eie asem inasem of my hart laat klop.”

Die Plath-dae verwys na die digter, Sylvia Plath, wat haarself in haar oond vergas het. Melinda het altyd hierdie tipe selfdood as uitweg in haar agterkop gehou, sou die lewe te moeilik word.

Sy erken dat sy sedert haar 11de jaar vir 22 jaar lank drank of dwelms gebruik het om haar gevoelens te onderdruk. “Dis 22 jaar van leef in ’n progressiewe, gedempte koma”. Sy voeg by dat die leer van die lewe hemelhoog – monsteragtig – bo haar uittroon.

Melinda praat reguit oor die afwesigheid van ’n “gewete” waar dit by mans en hul lewensmaats kom. Sy erken dat sy geen grense het nie en nooit slaap verloor het oor die feit dat sy iemand by ’n ander vrou afrokkel nie. Haar verslawende persoonlikheid het haar gedryf om hom te kry.

Sy vertel dat die heroïen haar brein suf maak, dat sy sukkel om te konsentreer, maar dat sy hope salm geëet het by haar eerste werk as kelnerin by ’n Griekse visrestaurant. Sy glo die Omega 3 het haar brein gered. Sy begin skryf – eers tydskrifartikels en later haar lewensverhaal – voor sy ’n permanente werk by ’n tydskrif kry.

Die ommeswaai in hierdie vrou se lewe is amper té ongelooflik.

Vandag besit sy Melinda Ferguson Books, ’n druknaam van NB-Uitgewers.

In “Hooked”, wat in 2010 verskyn het, skryf Melinda oor haar verslawende persoonlikheid. (Foto: Verskaf.)

In Hooked wat in 2010 verskyn het, brei sy meer uit oor haar verslawende persoonlikheid: soms sit sy vier tot agt uur per dag aanlyn om met ’n verslaafde man in Australië te gesels. Wanneer sy iemand nuut ontmoet, kan sy haarself nie weerhou om elke minuut op die internet te gaan kyk wat hulle doen en of hulle al op haar skrywes gereageer het nie. Wanneer sy vermoed haar kêrel het ’n verhouding met ’n ander vrou, daal sy tot ongekende dieptes om sy foonrekening te onderskep en hom dop te hou. Sy sluit by die gimnasium aan om vir ure obsessief te oefen.

Sy beskryf dit so: “Verslawing is progressief. Dis nie asof dit ’n vlak bereik en jy in een plek bly nie. Die gat in jou siel word net groter en groter. Jy het meer en meer nodig om jouself vol te maak. Hoe meer toksies jy word; hoe meer gif het jy nodig. Dis nimmereindigend.”

Sy sukkel om die siklus van “nog, nog, nog”; van gebruik en misbruik te breek – iets wat sy glo deel van haar DNS is.

Tog kom daar insigte deur. Sy skryf, onder meer, dat sy besef dat dit nodeloos is om vas te haak by haar tekortkominge of al die pyn wat haar verslawing veroorsaak het. Sy leer ook om nie negatiwiteit te koester nie; dat dít wat sy in haar geheue insit, die blywende gevoel is en dit neerslagtigheid kan bring as sy dit nie reg bestuur nie.

Sy sê dat sy gelukkig nie baie donker dae het nie, maar wanneer hulle wel kom weet sy dat die ligter dae om die draai is.

“Die lewe beweeg aan en ek verstaan nou dat pyn en leed weer vreugde en lag sal word. Dis hoe die lewe vir my is,” vertel sy.

Sy sluit Hooked af met ’n aanhaling van Steve Jobs oor die “malles, dié wat nie inpas nie; die moeilikheidmaker; die ronde pennetjies in die vierkantige gate”. Hy skryf dat jy nie van hulle hoef te hou nie, maar jy kan hulle beslis nie ignoreer nie.

“Hulle verander dinge… hulle stoot die mens vorentoe en hoewel sommige hulle mag sien as mal, sien ons die genies, want dié wie mal genoeg is om te dink hulle kan die wêreld verander, is dié wat kan.”

Die derde boek in die reeks, Crashed, verskyn in 2016 toe Melinda 14 jaar skoon is. Sy organiseer ’n toetsrit in ’n R3,2 miljoen Ferrari in California en skryf die motor af. (Foto: David Krut Boekwinkel.)

Die derde boek in die reeks, Crashed, verskyn in 2016 toe sy 14 jaar skoon is. Sy organiseer ’n toetsrit in ’n R3,2 miljoen Ferrari in California en skryf die motor af. Die kar is die katalisator vir ’n hele reeks lewensveranderende gebeure. Sy meld by ’n kliniek aan om haar ineenstorting die hoof te bied.

Stelselmatig maak sy vrede met die sinneloosheid van materiële sukses en begin sy ’n pynlike reis van introspeksie om innerlike vrede en selfliefde te vind.

Die gevoel wat ek in haar boeke kry, is dat die skoon en sober lewe waarna sy gesmag het, nie die pastelkleurige lekkergoed is wat sy gehoop het nie. Dis asof sy effe ontnugter voel met die droom wat nie regtig bestaan nie.

Sy sê: “Die lewe is moeilik. Of jy op die herstelpad is, of nie. Die lewe is pragtig. Die lewe is snaaks. Die lewe is brutaal. Ek het baie geleer.”

Melinda vertel dat sy glo die beste manier om ten volle te heel, is om om te gee. Sy glo in goedheid en vrygewigheid as ’n manier van lewe.

“Jy kan net hou wat jy het deur dit weg te gee.”

Sy sê die tye wat sy te ver wandel van die Narcotics Anonymous-vergaderings, voel sy die gemis in haar lewe. Tydens inperking woon sy die vergadering aanlyn by.

“Die vergaderings hou my voete op die grond en dra my deur donker tye. Dis ongelooflik om te weet daar is altyd plek vir my, ongeag waar ek in die wêreld of in my lewe is. Ek gaan steeds na hierdie vergaderings om myself te vergewis van waar ek gekom het en hoe ver ek gekom het tot vandag.”

Maar 20 jaar ná die ingrype in haar eie lewe, geniet sy mense. Sy werk hard en geniet die rol as uitgewer. Sy is mal oor joga en tye saam met haar kêrel. Sy is geweldig trots op verskillende mylpale in haar lewe: 20 sober jare; haar twee “pragtige, slim seuns”, haar honneursgraad in uitgewery, haar loopbaan as uitgewer, die 60 boeke wat sy in sewe jaar gepubliseer het en dat sy vir ander mense omgee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae