Met een oog die tekenwêreld in

Linki Brand (Foto: Verskaf)

“ʼn Stil, kalm koor van vroulike krag.” Dit is hoe Linki Brand die vroue beskryf wat sy onlangs vir Vaandeldraers: Vrouehelde van Suid-Afrika geïllustreer het.

Vroue wat fakkels ophou

Terwyl ʼn mens met Linki gesels, hetsy oor die Vaandeldraers-reeks, haar loopbaan as kinderboekillustreerder of haar persoonlike lewe, is dit opmerklik dat vrouestemme ook sterk in haar lewe opklink. Van Ingrid Jonker en Emily Hobhouse tot Tove Jansson, ʼn Finse skrywer wat onder meer die klassieke Moemin-handelsmerk geskep het.

In die Vaandeldraers-reeks vertel Wendy Maartens die verhale van 12 inspirerende Suid-Afrikaanse vroue wat op hul eie manier ʼn fakkeldraer vir die samelewing is. Party van hulle het ʼn bydrae in die politiek en sport gelewer, ander vroue het weer in die gesondheidsektor, kultuur en letterkunde ʼn verskil gemaak.

Verhale soos dié van Ingrid Jonker, wat op 19 Julie 1965 verdrink het nadat sy by Drieankerbaai die see ingeloop het, en Maggie Jooste, wat ʼn konsentrasiekamp in die Anglo-Boereoorlog oorleef het, word verweef met eietydse heldinne soos Suna Venter, een van die SAUK 8-joernaliste wat op 32 aan gebrokehart-sindroom dood is en Thuli Madonsela, die voormalige Openbare Beskermer.

Een van Linki Brand se sketse van Ingrid Jonker. (Foto: Verskaf)

Terloops, Emily Hobhouse se verhaal word nie in die Vaandeldraers-reeks vertel nie, maar Linki sou haar graag vir ete wou nooi.

“Ek sal vir my man vra om heerlike lamsbredie te kook,” sê sy. Linki sal eers vir Emily dankie sê vir haar deernis en versorging van Suid-Afrikaanse vroue en kinders wat tydens die Tweede Vryheidsoorlog in konsentrasiekampe was.

“Dan sou ek by Emily wou hoor wat haar geheim vir onuitputlike energie en algemene braafheid is en hoe hou ʼn mens uit en aan teen alle verwagtinge in.”

Maar eers terug by die Vaandeldraers. Op die vraag oor wat haar gunsteling-illustrasie is, antwoord Linki: “Die hele groep vroue is my gunsteling, maar ek vereenselwig my die meeste met Ingrid se verhaal.”

Linki se skeppingsproses vir illustrasies begin gewoonlik by navorsing, maar voor sy in haar eie skeppingswêreld verdwyn, soek sy eers na die gepaste musiek, podsending of selfs ʼn aktuele gesprek.

“Ja, ek het altyd my oorfone op. Terwyl ek aan Vaandeldraers gewerk het, het ek onder meer die musiek van Laura Mvula ontdek,” vertel sy.

Nadat sy eers die skrywer se teks gelees het, bestee Linki sowat twee weke om verskillende mense se illustrasiewerk, style en goed wat haar inspireer, bymekaar te maak. Daarna skommel sy al hierdie materiaal totdat ʼn nuwe, unieke styl na vore kom.

“Dit is goed om ander mense se werk te bewonder en te probeer ontsyfer, maar ek probeer om op my eie styl en verbeelding staat te maak,” sê sy. “Ek het ook nou al geleer om nie te veel na ander mense se werk te kyk nie – dit het ʼn verlammende uitwerking op my!”

Linki Brand se illustrasie van Ingrid Jonker wat in die Vaandeldraers-reeks verskyn. (Illustrasie: Verskaf)

Vir Vaandeldraers se illustrasies het Linki onder meer na videomateriaal van die vroue gekyk wat op die internet beskikbaar is. Sy wou graag elkeen beter leer ken om sodoende hul portrette met die nodige kennis en respek te illustreer.

Gevra wie haar illustrasiehelde is, noem Linki sommer ʼn hele paar name op. Sy het grootgeword met die illustrasies van Alida Bothma en Piet Grobler, Angus McBride se tekeninge in Langenhoven se Versamelde werke het haar ook beïndruk, en Tove Jansson se styl en konseptualisering van die Moemins is ook ʼn oneindige bron van inspirasie.

Die meeste van die kinderboeke wat Linki geïllustreer het, het by Lapa Uitgewers verskyn. Sy en Wendy het ook verskeie kere al saamgewerk. Vir Linki is dié uitgewer-skrywer-illustreerder-verhouding soos lede van ʼn musiekgroep wat mekaar se talente vertrou en respekteer.

“Ek vergelyk die verhouding met ʼn suksesvolle band – dit is ʼn groep kreatiewe mense wat almal sterk idees het en elkeen baas van sy of haar instrument is. ʼn Mens sou maklik koppe kon stamp en net jou eie stem wil laat geld, maar ons respekteer mekaar. Niemand is te heilig oor hulle idee vir die eindproduk nie, almal is oop vir voorstelle en verwelkom mekaar se insette.”

Die wêreld van teken

Linki is van kleins af versot op stories en prente teken. Haar kreatiewe geaardheid is altyd op soek na die volgende ontdekking of groot oomblik, maar sy het ʼn pragmatiese kant wat haar help om koers te hou.

Linki Brand se ouers. (Foto: Verskaf)

“Klein-Linki was ʼn eenkant-dogtertjie wat die wêreld fyn bestudeer en probeer ontleed het,” onthou Linki. “Sy was altyd aan die dink en wonder en sy kon komplekse goed regkry, maar eenvoudige goed het haar gepootjie, soos om maats te maak.”

Namate Linki ouer geword het, het sy agtergekom dat haar illustrasies ʼn manier is om met mense en die wêreld te praat. “Ek dink ek sukkel partykeer vandag steeds daarmee – maar kry wel daardie skakeling deur middel van my illustrasies reg. Dit is my manier van kommunikeer, gedagtes oordra en deel.”

Linki het egter op ʼn jong ouderdom besef dat die kunste – en om ʼn kinderboekillustreerder te wil wees – dalk te idealisties is, veral in die Suid-Afrikaanse konteks. Dié gedagte het haar nie weerhou om te teken nie, al was dit net om sakgeld te verdien en ervaring op te doen.

Haar pa, ʼn afgetrede predikant, en ma, ʼn onderwyseres, het in ʼn stadium ʼn advertensieblaadjie vir bykomende inkomste bedryf. Die 14-jarige Linki het toe begin om advertensies vir dié blaadjie te ontwerp en só haar sakgeld te verdien.

“Ek het hier en daar illustrasiewerk probeer doen, maar dit is tydrowend en nie noodwendig in aanvraag in die korporatiewe wêreld nie. Ek het op die ou end meestal pro bono of teen ʼn baie lae tarief geïllustreer vir mense wat dit regtig waardeer het en vir ʼn saak waarin ek geglo het,” vertel sy.

Linki Brand, haar man Werner en hulle drie kinders. (Foto: Verskaf)

Ná skool het Linki grafiese ontwerp by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus studeer. Sy het daarna vir agentskappe in Bloemfontein en Kaapstad gewerk en in 2018 saam met haar gesin Skotland toe geïmmigreer. Linki en haar man, Werner, wat tans by die wêreld se grootste salmprodusent werk, het twee jaar in Edinburgh gebly voor hulle in 2020 Noorweë toe getrek het. Die egpaar het drie kinders: Fia (7), Ben (4) en Lukas (sewe maande).

“Ons is glad nie spyt nie,” sê sy. “Die lewe hier is wonderlik, maar ek verlang na Suid-Afrika. Ek is dankbaar om deur middel van kinderboeke steeds deel van die land te wees.”

Gokul’s Game was die eerste boek wat Linki geïllustreer het. Sy het dit in 2018 vir die Think Equal-organisasie in Engeland gedoen, maar Linki kon in daardie stadium net haar regteroog gebruik.

“Snaaks genoeg moes ons eers deur ʼn uitmergelende immigrasie gaan en in ʼn nuwe land wees voor ek braaf genoeg was om ʼn hele boek te illustreer,” skerts sy, en voeg dan by: “Ek het ook net voordat ek daarmee begin het ʼn oogoperasie ondergaan waar daar aan my linkeroog se spier gewerk is. Ek het dus die illustrasies met een goeie oog en een toegeplakte oog aangepak.”

Jaco Jacobs se Draakasem (2019) is die eerste Afrikaanse boek wat Linki Brand geïllustreer het. (Foto: Verskaf)

Volgens Linki is dit juis sulke uitdagings wat haar die deursettingsvermoë gee wanneer sy wanhopig raak en in haar eie vermoëns twyfel.

Jaco Jacobs se Draakasem (2019) is die eerste Afrikaanse boek wat sy geïllustreer het. Daarna het haar illustrasiewerk verskyn in kinderboeke soos Sylvester: Ramkat van die Groot-Karoo en Rooimiere-in-die-broek Idioominkleurboek deur Wendy Maartens, Leon de Villiers se Wetenskaap en die heruitgawe van die Bastian Blom-reeks deur Jaco Jacobs.

Sy het ook die voorbladontwerp gedoen vir Baster deur Jan Vermeulen, Fanie Viljoen se Offers vir die vlieë en Wolk wat deur Hannes Barnard geskryf is. Met die uitsondering van Draakasem het die res van die publikasies almal in 2020 verskyn.

Linki se portefeulje word stadigaan oorheers deur die kleurvolle kinderboekillustrasies. Bedags snuffel sy op die internet rond vir inspirasie, en wanneer sy nie voor haar rekenaar sit of besig is om te teken nie, snuffel sy ook meubels, boeke of vreemde objekte uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.