Mike Horn: ‘Elkeen het sy eie Suidpool om oor te steek’

Te voet, met net ʼn vlieërski as sy enigste “voertuig”, het Mike Horn die skeure, ysvelde en hoogste pieke van die vasteland gaan ontdek – iets wat nog nooit voorheen gedoen is nie. (Foto: Dmitry Sharomov/Verskaf.)

“Die oomblik wat jy aanvaar hierdie gaan moeilik wees, is ook die oomblik waarin alles makliker word.”

So gesels die Suid-Afrikaans gebore ontdekkingsreisiger Mike Horn oor die geestelike voorbereiding wat hy moes doen vir sy reis van 5 100 kilometer oor die ysbedekte vasteland van Antarktika.

In Februarie 2017 het hy dié kinderdroom verwesentlik om op eie houtjie oor die breedte van die Suidpool te reis. Te voet, met net ʼn vlieërski as sy enigste “voertuig”, het hy die skeure, ysvelde en hoogste pieke van die vasteland gaan ontdek – iets wat nog nooit voorheen gedoen is nie.

Horn sê talle mense het vir hom gesê die reis wat hy alleen aangepak het, is heeltemal onmoontlik.

“Ek hoop egter my boek oor die reis dra ʼn boodskap van hoop, en inspireer mense om groter te droom as wat enige iemand dink is wel moontlik.”

Hy was in Februarie in Kaapstad vir die bekendstelling van sy boek Dream of a lifetime: Crossing Antarctica, wat handel oor sy ontdekkingsreis. Hy het telefonies met Maroela Media oor sy boek en die reis gesels.

“Die boek is nie net ʼn reisjoernaal wat vertel van elke dag se gebeure op my ontdekkingstog nie. Dit is vir my ʼn storie van die lewe. Ek dink ons het elke ʼn simboliese Suidpool wat ons moet oorsteek. Ons het elkeen ons eie uitdagings wat ons moet oorkom, en dit is waaroor die boek eintlik handel.”

Net om by Antarktika uit te kom was reeds vir Horn ʼn uitdaging omdat die ys in die see om die vasteland vir ʼn groot gedeelte van die jaar vasgevries is, wat bote verhoed om by die land self uit te kom.

Hy het dikwels geloop waar geen mense hulle voete nog gesit het nie, van seevlak tot 3 800 meter bo seespieël, teen ʼn platorand uitgeklim en oorgesteek voor die wintermaande in Antarktika begin het.

“Die temperature op die vasteland kan in dié maande maklik tot onder -90 ˚C daal, met -93 ˚C die koudste wat al in Antarktika opgeteken is. Geen mens kan in hierdie temperatuur oorleef nie.”

‘Dream of a lifetime: Crossing Antarctica’ word deur Jonathan Ball Uitgewers uitgegee. (Foto: Verskaf.)

Horn sê hy hou daarvan om hom buite sy eie gemaksone te plaas. Dit was veral die eensaamheid wat die ergste uitdaging was.

“Kyk die verlatenheid buite jou tent en die felheid van die natuur is ʼn uitdaging en die spoed waarteen jy moet reis, eis sy tol. Jy sien niks anders as die wit van ys vir dae aaneen nie en soms verblind dit jou, maar ek dink die geestelike aspekte van hierdie reis was dikwels ʼn groter uitdaging as die fisieke.

“Tog as jy vrede maak met die feit dat dit buite jou tent -50 ˚C is, en jy besluit om te midde daarvan steeds op te staan en uit te gaan, én vordering te maak, is dit die oomblik wat jou houding jeens die reis heeltemal verander. Dit is ʼn kopding.”

Horn sê dit was ook juis die onbekende wat die reis vir hom besonders gemaak het. “Dit was dikwels ʼn wedren teen tyd, maar dit was vir my ʼn hoogtepunt toe die natuur my wel toegelaat het om oor die vasteland te trek.”

Is daar nog plekke wat Horn wil ontdek?

“Beslis ja,” antwoord hy sonder om ʼn oomblik te huiwer. “Ek dink onmiddellik aan ons eie seebodem, wat nog heeltemal onverken lê. Mense dink altyd hulle moet na die ruimte, Mars of die maan gaan om plekke te kry waar die mensdom nog nie was nie, maar ons weet nog nie eers behoorlik wat onder die see se eie waters gebeur nie.”

Hy glo dit is dalk net hier waar die mensdom se antwoorde kan lê vir van ons knellende vrae oor kwessies soos klimaatsverandering.

  • Dream of a lifetime: Crossing Antarctica word deur Jonathan Ball Uitgewers uitgegee.
  • Horn het met Esté Meyer Jansen oor sy boek en reis gesels. Luister na die volledige gesprek bo-aan die berig. Hy vertel hoekom hy die ontdekkingstog oor Antarktika aangepak het en deel ʼn interessante feit of twee oor dié vasteland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stof

Hierdie wyse insigte herhinder my aan ‘n kennis van kleintyd. Die einste oom het selfs die kerkraad by die sinode aangekla die dag toe die dominee in ‘n diens iets genoen het van die aarde wat rond is. Hy het groot beswaar gehad teen die planne van familie om weernavorsing naby die suidpool (ek dink Marion Eiland?) te gaan doen, want as hulle van die aarde sou afval, sou hy hulle nooit weet sien nie. Wonder nogal hoe sou hy voel oor die voorstel om daar te gaan vakansie hou?

Johan Venter

Ek dink almal van ons ,waar ons sit, het ‘n “dream of a liftime”. Dit is goed om van ander se ervarings te lees sodat ons daaruit inspirasie kan put en keer. Dalk doen ons dan sekere dinge wat reeds gedoen is en waaroor daar inligting bestaan nie weer oor nie. Dis waarom die mensdom ook met nuwe tegnologie vooruitgaan. Hierdie boek is dan ook ‘n moetlees vir ons land se politici, élkeen van hulle, beginnende by no 1 dat hulle tot die besef kan kom dat daar 59 miljoen ander in die land is wat ook ‘n droom van… Lees meer »